13 Feb: ‘n Skatkis vol herinneringe


Screenshot

Die dokumentêr, Die SAUK se skatkis, word op 13 Februarie, op Wêreldradiodag om 20:00 op RSG uitgesaai.

In dié dokumentêr deur Elsje van Jaarsveld, word die argiefversameling van die nasionale uitsaaier verken. ‘n Versameling enig in sy soort en eie aan Suid-Afrika.  Dis inderwaarheid volksbesit.

Waar is die Du Plooys van Soetmelksvlei? Wat vang Leon Schuster weer aan in Vrypostige Mikrofoon? Wat kan Wielie Walie die kinders nog leer? En is auntie Stienie nog so kwaai?

Die antwoord lê in die SAUK se argief. ‘n Wonderwêreld van klank en beeld wat strek van 1890 tot in hierdie oomblik. ‘n Skatkis wat geskiedkundige oomblikke soos Suid-Afrika se republiekwording, die koms van televisie in Suid-Afrika en die Springbokke se wêreldbekerrugby-oorwinnings bewaar.  Dit vertel stories wat ons land gevorm het . Klank en beeld van die gebeure op 16 Junie 1976, die Westdene-busramp en die vrylating van Nelson Mandela is juwele in die argief se kroon.

Screenshot

Hier tref jy die voetspoere van wêreldklas joernaliste en vermaaklikheidsterre van ouds aan. Dis waar Elsje van Jaarsveld gaan stap het om die roete tussen geskiedenis, mensestories, opinies en ligte oomblike weer te herleef. En dit lê nog alles daar! In die kelder en grondvloer van die uitsaaisentrum in Aucklandpark, Johannesburg, aktief bestuur met kantore wat wemel van kundige argivarisse.

Tans is dié argivarisse drukbesig om die hele versameling van klank en beeld te digitaliseer.  ‘n Reuse taak wat stewig aan die gang is.  Klank wat vanaf 2012 op radio uitgesaai is, is met moderne tegnologie reeds in ‘n digitale vorm, maar alles wat sedert 1936 met die aanvang van die SAUK-radiostasies uitgesaai is moet omgeskakel word.  Daar is ook toetsuitsendings wat dateer uit die 1920’s en selfs ‘n argaïese klankgreep van Florence Nightingale in 1890.

By Televisiepark, oorkant die hemelhoë radiogebou, word stories bewaar wat nog vlak in Suid-Afrikaners se geheue lê.  Bande met programme van 50/50 met die immergewilde Veldfokus-insetsel staan netjies in ‘n ry, geliaseer volgens spesifieke nommers. Die argivaris kan enige uitsending sedert die eerste televisie-uitsending op 5 Januarie 1976,  in die reuse stoor deur middel van ‘n digitale stelsel in ‘n japtrap opsoor. Vra maar net, en hulle kry dit vir jou.