16 Jan: Die Verdwyning van die Afrika Pikkewyn
Luister op 16 Januarie na die ondersoeke dokumentêr Die verdwyning van die Afrika pikkewyn, deur Martelize Brink.
Sommige omgewingskundiges voorspel dat die Afrika pikkewyn teen 2035 sal uitsterf. Wie is te blameer? En hoekom is daar soveel sektore wat versuim om ‘n oplossing te vind?
Agtergrond inligting
Dit is volgens sommige omgewingskundiges nie meer ‘n vraag of die Afrika Pikkewyn gaan uitsterf nie. Die pikkewyn endemies tot Afrika is krities bedreig. Met so min individuele voëls in die natuur, sal die bevolking “funksioneel” uitgesterf wees teen 2035.
‘n Ondersoekende dokumentêr oor die kritiek bedreigde Afrika Pikkewyn en versuim van verskillende sektore om ‘n oplossing te vind. Volgens wetenskaplikes is daar nie ‘n gekoördineerde poging om die pikkewyn van uitsterwing te red nie.
In Die verdwyn van die Afrika Pikkewyn besoek Martelize ‘n skuiling vir die Afrika Pikkewyn, bespreek die druk waaronder die spesie tans probeer oorleef met verskeie wetenskaplikes en vra die Departement Bosbou, Visserye en Omgewingsake watter regulasies in plek is om die spesie te probeer red.
Getalle neem só af
In die vroeë 1900’s het 1,5 tot 3 miljoen individuele Afrika-pikkewyne oor die spesie se verspreidingsgebied langs die Namibiese en Suid-Afrikaanse kus gewoon. Daar word beraam dat daar byna 1 miljoen pare op die Weskus se Dassen-eiland alleen was.
Teen die middel-1950’s was egter net 10% van hierdie getalle oor as gevolg van eier-oes en guanoverwydering.
Sedert 1979, toe die eerste telling van die groot Suid-Afrikaanse kolonies gedoen is, het die broeibevolking van ongeveer 55 200 pare tot ‘n skamele 10 000 broeipare in Suid-Afrika en 4 000 in Namibië afgeneem, volgens die 2 Oseane Akwarium.
Hier is meer inligting oor die nuwe dokumentêre seisoen
1e Dokumentêr van die seisoen: Oor bergklim en die Bergklub van Suid-Afrika