Luister weer: Onder die appelliefiebos
“Onder die appelliefiebos”, deur Marlise Joubert, word op 2 Desember om 20h00 op RSG uitgesaai. Die drama is in Kaapstad opgevoer onder regie van Joanie Combrink.
STORIE
Emma se ma bekommer haar oor haar kind terwyl die kommunikasie tussen hulle verswak. Emma kom melankolies en depressief voor en haar skoolwerk gaan agteruit. Die sensitiewe tiener beplan ‘n begrafnis vir haar geliefde kat op hulle plaas. Haar broer, Tys, bou die kissie en haar beste vriendin Karlien, staan haar by. Emma worstel met haar identiteit en neem dan haar vriendin in haar vertroue oor dit wat haar pla.
Temas soos identiteit, herkoms en vervreemding word aangeraak.
Dit is ‘n fyn, sensitiewe drama wat ontroer.
SPELERS
Elanza Swart vertolk die rol van Emma en Wilhelm van der Walt is haar broer, Tys.
Kayla van der Merwe is haar beste vriendin, Karlien, en Erica Wessels, haar ma, Hanna.
Ander spelers is Eugenie Wiggins in die rol van haar ouma en Chloe van Rooyen en Cole Wessels is onderskeidelik Baby en Jantjie.
TEGNIESE EN AKOESTIESE VERSORGING
Cassi Lowers was verantwoordelik vir die tegniese en akoestiese versorging. Die spelers het meeste van die byklanke self hanteer.
Van die musieksnitte is deur die skrywer self voorgestel en die res is gekies om daarby aan te pas.