Luister weer: Die impak van Kunsmatige Intelligensie op jou leefwêreld
Wat moet die balans tussen mens en tegnolgie wees? Navorsing wys dat indien dit nie reg bestuur word nie, kan kunsmatige intelligensie mense se werk oorneem. Jody Hendricks praat met verskeie kenners oor die gevare en geleenthede wat tegnologie vir ons inhou.
Kunsmatige intelligensie (KI) is die gonswoord in die tegnologie sektor. Volgens kenners kan KI ‘n groot impak op werksgeleenthede en ook die onderwys sektor hê.
Kunsmatige intelligensie is ‘n akademiese studieveld wat poog om menslike intelligensie kunsmatig te skep. KI-navorsers en -handboeke definieer dit as “die studie en ontwerp van intelligente agente”, waar ‘n intelligente agent ‘n stelsel is wat sy omgewing waarneem en aksies neem wat sy kanse op sukses vergroot.
John McCarthy, wat die term in 1955 geskep het, definieer dit as “die wetenskap van die skep van intelligente masjiene”.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het die gedagte reeds by wetenskaplikes posgevat om tegnologie te ontwikkel wat soos mense kan werk. Hulle het besef dat masjiene (robotte en/of rekenaars) sekere tradisionele menslike take kan verrig. Hierdie ideologie het die weg gebaan vir moderne robotika. Tog kan kunsmatige intelligensie (KI) selfs nie in die 21ste eeu alle take uit mensehande wegneem nie.
KI-navorsing is hoogs tegnies en gespesialiseerd. Sekere subvelde fokus op die oplos van spesifieke probleme. Ander fokus weer op een van verskeie moontlike benaderings, of die gebruik van ‘n bepaalde hulpmiddel, of ter vervulling van spesifieke toepassings.
Maar nie alle navorsers in die vertakkings , subvelde en onder-afdelings kommunikeer noodwendig voldoende met mekaar nie. Dit kan aan sosiale en kulturele faktore toegeskryf word, soos werk wat by ‘n bepaalde instelling of deur individuele navorsers gedoen word.
Op 2 Maart ondersoek Jody Hendricks die impak wat Kunsmatige intelligensie op jou leefwêreld kan hê.
Sy gaste sluit in Rianette Leibowitz, prof Basie von Solms en Pieter Geldenhuys.