Moenie ‘O, die donkie’ Donderdagaand misloop nie


Ons eerste 2024 Radioteater-seisoen op RSG word vanaand afgesluit met ‘n debuut drama van die veelsydige storieverteller en musikant, Pietman Geldenhuys, met Johan Rademan in die regisseurstoel.

Pietman het ook spesiaal vir RSG-Drama die bekende tradisionele lied, O, die donkie, aangevul en versies in die las-aan-styl geskep, waarop oom Chris Blignaut baie trots op hom sou wees.

Bak jouself dus ʼn poets en kom broei donkies uit saam met ons Donderdagaand 27 Junie om 20h00 met ʼn guitige RSG-Debuutdrama. O, DIE DONKIE deur Pietman Geldenhuys. En vir die drama kan jy gerus jou baadjie, boordjie en das afhaal, jou skoene uitskop en pantoffels aantrek.

Die volle span

Die akoestiese versorging van Cassi Lowers.

Johan Rademan se regie, Pietman Geldenhuys se teks en musiek

En die span akteurs! Terloops van ons voorstes in Suid-Afrika, Richard van der Westhuizen, Roelanda Marais, Jacques Bessinger, DeKlerk Oelofse, Miché van Wyk en Anrich Herbst. 

Agter, van links na regs: Johan Rademan, Jacques Bessinger, DeKlerk Oelofse, Richard van der Westhuizen. Voor: Rolanda Marais, Miché van Wyk en Anrich Herbst

Die akteurs en rolverdeling

Jacques Bessinger en DeKlerk Oelofse

Die Pauw tweeling is Jacques Bessinger (Jacou) en DeKlerk Oelofse (Nicou) en ek onthou hulle vertoning in die fliek, Kanarie, wat my spelleiding weer gestimuleer het, skryf regisseur Johan Rademan.

Die Padstal duo Richard van der Westhuizen (oom Telegram) en Anrich Herbst (Henkie Engelke) vorm dan ‘n teenpool van blootstellings met die tweeling wat ‘n plaas erf en nie weet waar die klok se klepel hang nie.

Roelanda Marais (Hugolezere De Klerk-Van Heerden) is die prokureur van die stad wat die plaas toeken aan die metro-tweeling en Miché van Wyk (Rachel Ligter) is die barmhartige Samaritaan op die platteland , maar ook met ‘n ondeundheid in haar.

acques Bessinger, Rolanda Marais en DeKlerk Oelofse

Regisseursnota

Om ‘n storie te vertel is nie almal se koppie tee nie en jy het ʼn sterker stooksel nodig om as ‘n goeie storieverteller gereken te word. Pietman is beslis een. ‘n Fyn waarnemer as boorling van die platteland, maar ook ʼn gesoute reisiger wat weer tot Pietman, Die Skot, se skeppende werk gelei het. Hy het ook ʼn ruk oorsee gewoon en onder andere musiek in “pubs” gemaak.

Ek het juis oor die skeppende aspek van hom gevra of hy nie die musiek bruggies en oorgange wil voortsit met die tradisionele lied wat Chris Blignaut in die sestigerjare ‘n treffer gemaak het, nadat hy dit weer by Cissie en Willie Cooper, die oorspronklike eienaars van die lied, gekry het nie.

Dit is soos ʼn goeie agterlyn beweging; “Van Cissie na Willie, na Chris, Pietman….”

Pietman het nie gras onder sy voete laat groei nie en jy sal nooit weer dieselfde na ʼn donkie luister en spanspek kyk nie.

Pietman kan fyn spot en die metroman word opgestel teen ʼn guitige plattelandse gemeenskap en dit sorg vir die komiese momente in die drama.

 Einde van dié dramaseisoen

En só sluit ons in ‘n  ligte trant  RSG se Radiodrama seisoen af.
Laat weet gerus wat jy van vanaand se radioteater, Donkie, gedink het. Was dit uniek, goeie onopgesmukte humor, herinneringe aan jou plattelandse belewenisse.

Ons hoor graag van jou en gee jou boodskap deur aan die drama-span. Dit kos jou R1.50 per sms 45889.