Een baksel beskuit en jy is dalk ‘n prys van ‘n halfmiljoen rand ryker


RSG en Virseker stel op Erfenisdag Bakgat bekend – ‘n splinternuwe kompetisie en soektog om die beste beskuit in ons land te vind.

Boeretroos en beskuit is soos vinkel en koljander. En vanaf Dinsdag 24 September kry luisteraars die geleentheid om hul tuisgebakte beskuit aan RSG te stuur en moontlik met die steun van RSG en Virseker hul eie tuisonderneming te begin.

Die prys, wat sowat R460 000 werd is, sluit in:

  • R20 000 in kontant geborg deur Virseker
  • R350 000 se lugtyd op RSG
  • Mentorskap deur Andriëtte de la Harpe, eienaar van die onderneming Mondvol, wat ook naaswenner was in MasterChef Suid-Afrika se Vierde Seisoen; asook
  • Die ontwikkeling van jou onderneming se korporatiewe identiteit.

Die wenners van die tweede en derde plek ontvang ook elk R10000 vanaf Virseker.

“Ons is vreeslik opgewonde om Bakgat saam met Virseker aan te pak,” sê Louise Jooste, RSG se sakebestuurder.

“Beskuit is sinoniem met Afrikaans, die Suid-Afrikaanse kultuurbelewenis én ons erfenis. Dit was vir RSG ‘n maklike besluit om hierdie kompetisie te omarm, wat die wegspringplek gaan wees vir iemand wat graag sy of haar eie onderneming wil begin, maar nog nooit die geleentheid gehad het nie.”

RSG en Bakgat is nie net op soek na tradisionele beskuit nie, maar daardie baksels wat spreek van innovering, nuwe geure en ook eg Suid-Afrikaans is. Individue kan inskryf, maar ook mikro-ondernemings (wat minder as vier werknemers het en minder as R500 000 se inkomste per jaar genereer). Jy moet wel ouer as 18 jaar wees en in Suid-Afrika woon.

“Die veldtog spreek tot ons harte, want ons voel Virseker en Afrikaans gaan hand aan hand soos koffie en beskuit. Ons voel ook RSG deel ons liefde en opwinding vir Afrikaans. So, om hande te vat met RSG met ‘n projek soos dié waar ons Afrikaans-wees vier en die gemeenskap deel maak van die projek is vir ons ‘n geleentheid wat ons eenvoudig net nie van die hand kon wys nie,” sê Johanni Jennings, Virseker se hoof van bemarking.

Andriëtte de la Harpe

Andriëtte de la Harpe van Mondvol gaan die wenner touwys maak en haar kennis rakende dié bedryf deel. Mondvol is Andriëtte se bakonderneming wat sy begin het nadat sy tweede gekom het in Masterchef Suid-Afrika se vierde seisoen. “Die pad van ‘n entrepreneur kan baie alleen en moeilik wees.

“Ek is so opgewonde om deel te kan wees van Bakgat sodat ek die kennis wat ek deur die jare opgedoen het, kan deel met iemand wat net so passievol is oor sy of haar eie onderneming, soos wat ek is.”

Andriëtte se mentorskap sal onder meer insluit: bemarking op sosiale media, toegang tot haar netwerk van sakemense en kenners, die bou van ‘n aanlynonderneming, ‘n veldtog op sosiale media en afrigtingsessies.

So, hoe skryf jy in?

  • Bak een baksel beskuit van 24 stukkies
  • Laai die inskryfvorm af: Bakgat Inskrywingsvorm
  • Vul die inskryfvorm in, en stuur dit saam met jou beskuit as jy dit vir ons koerier (maak seker jy verpak jou beskuit mooi sodat dit nie breek nie)
  • Maak seker jou beskuit bereik RSG in Auckland Park Johannesburg teen 15 Oktober 2024
  • Jy kan dit ook persoonlik by ons kom aflewer in Johannesburg; stuur net 2 werksdae voor die tyd vir ons ‘n e-pos by amores@rsg.co.za

Vanaf 21 tot 25 Oktober vind die uitdunrondes plaas, wanneer RSG se omroepers en Virseker gaan smul. Op 30 Oktober word die wenner aangekondig tydens ‘n regstreekse uitsending vanaf die Virseker-kantore in Johannesburg.

Die inskryfvorm, bepalings en voorwaardes en alle ander inligting is te kry by rsg.co.za asook op al RSG se sosiale media platforms. Klik op die skakel en druk hierdie vorm uit om in te skryf: Bakgat Inskrywingsvorm

Skakel jou oond aan – ons monde water reeds!

Luister na die bekendstelling en gesprekke oor die nuwe kompetisie

Bakgat-beskuit: Byna R500 000 se pryse te wen

September is Erfenismaand, en RSG en Virseker skop af met ‘n watertand-veldtog en kompetisie met die naam, Bakgat! Dis is ’n bakkompetisie, en ons gaan die beste beskuit in die land beloon met pryse ter waarde van byna ‘n halfmiljoen rand! So as jy van beskuitbak hou, of nog altyd ‘n baksel beskuit wóú bak… nou is die tyd.

Om ons meer van Bakgat te vertel, sluit Amoré Swanepoel, RSG se bemarkingsbestuurder, Masterchef SA Seisoen 4 se naaswenner, Andriëtte de la Harpe wat die wenner se mentor sal wees, en die bemarkingshoof van Virseker, Johanni Jennings, by ons aan.

En sommer vir die pret:

Bakker Sarah Johnny vertel tien dinge wat jy van beskuit moet weet.