COVID-19: SA se regulasies
Die jongste oor die regulasies wat tans in Suid-Afrika geld
Weet jy watter regulasies tans in Suid-Afrika van toepassing is en hoe dit toegepas word. Weet jy waar en hoe om aan te meld as jy simptome toon? Weet jy wie mag reis en wie nie? Of wat die Arbeidsreg oo COVID-19 sê? Luister ook wat sê kundiges op Praat Saam en ander programme.
24 April 2020:
Vanaf 1 Mei beweeg Suid-Afrika na Vlak 4 van inperking. Hier is meer inligting:
22 April 2020:
Lees Pres Cyril Ramaphosa se volledige toespraak oor sy aankondiging oor ekonomiese hulp hier: https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2020-04-21-in-full-president-cyril-ramaphosas-speech-on-r500bn-rescue-package-and-covid-19-lockdown-ending-in-phases/
Die Departement van Arbeid oorweeg ‘n aantal ingrypende regulasies om die gevolge van die coronaviruspandemie op werkers te beperk. Die regulasies oor vergoeding vir werkers wat die virus in die werkplek opdoen, sluit onder meer verlengde siekverof in vir werkers met beperkte siekverlof. Geregistreerde werkers wat weens die coronavirus hulle werk verloor, sal vir drie maande werkloosheidsversekering ontvang. Die uitbetaling van voordele aan naasbestaandes van werkers wat aan die siekte sou sterf, word ook oorweeg. Sommige werkers kla egter dat hulle werkgewers hulle nie kan dwing om onbetaalde verlof te neem nie. Wat is die impak wat die inperkings op werkgewers én werknemers het?
26 Maart 2020: SA het teen 20:00 927 bevestigde gevalle.
Só werk die virus: Wat die virus doen, hoe dit aansteek en die voorsorgmaatreëls wat jy kan tref.
Suid-Afrika het, volgens die jongste inligting, 709 COVID-19 gevalle. Niemand is dood nie en twaalf mense het reeds herstel.Intussen is ‘n ernstige beroep op Suid-Afrikaners gemaak voordat 21 dae van afsondering afskop en die owerheid in Limpopo waarsku dat diegene wat uit die stede vlug, die gevreesde COVID-19 virus na dié provinsie versprei. Maar inowers vlug steeds uit stedelike gebiede. Ons kyk wat op die land se paaie gebeur.
Die agentskap vir maatskaplike sekerheid, Sassa, sê maatskaplike toelaes aan ouer mense en mense met gestremdhede sal vandeesmaand vroeër beskikbaar wees om te verhoed dat groot groepe mense by betalingspunte saamdrom. Dit word op 30 en 31 Maart uitbetaal. Wie sien om na die kwesbares in ons gemeenskap wat meer vatbaar is vir Covid-19?
23 Maart 2020: Die NICD rapporteer op Twitter dat die aantal COVID-19 infeksies vir Suid-Afrika staan tans op 402 bevestigde gevalle. 128 nuwe gevalle sedert gister se aankondiging.
Die NICD doen ‘n beroep op die publiek om aan te hou om handhigiëne, hoesetiket en sosiale afstand te beoefen om COVID-19 infeksies te voorkom.
Vir meer inligting kontak die COVID-19-blitslyn: 0800 029 999 of Whatsapp: 060 012 3456.
Die kredietgraderingsagentskap, Standerd and Poor voorspel dat die wêreld ekonomie in ‘n resessie beweeg weens die Covid-19 pandemie. Standerd Bank bied ‘n drie maande lening-betalings ruskans aan verbruikers.Ons praat met een van die eerste pasiënte in Suid-Afrika wat met die Covid 19-virus gediagnoseer is.En Taiwan stel maatreëls in plek om die Covid 19 pandemie te bestuur.
‘n Waterskeiding-uitspraak hou gevolge in vir die dekking van die Covid-19 pandemie; En hoe onderskei ‘n mens tussen waarheid en versinsel oor die Covid-19 virus?
22 Maart 2020: Die aantal COVID-19 infeksies vir Suid-Afrika staan op 274. Dit beteken 34 bykomende gevalle het positief getoets vir COVID-19. Van die 274 gevalle, het 208 (76%) ‘n geskiedenis gehad van reis in gebiede waar COVID-19 sirkuleer. Die meerderheid nuwe infeksies is egter afkomend van mense sonder ‘n internasionale reisgeskiedenis.
Die Oos-Kaap provinsie het sy tweede positiewe geval aangeteken. Die meerderheid van die nuwe infeksies is in die Wes-Kaap aangemeld, 14, wat die totaal vir die provinsie op 88 gevalle bring.
Die verkoop, verskaffing en vervoer van drank is verbode ingevolge die regering se streng nuwe maatreëls wat in die Staatskoerant afgekondig is, in ‘n poging om die verspreiding van die coronavirus te bekamp. Alle restaurante, kroeë en ander instansies wat drank op hulle persele verkoop, moet gesluit wees tussen sesuur saans en negeuur die volgende oggend. Dit geld vir weeksdae en Saterdae. Op Sondae en openbare vakansiedae moet sulke plekke van eenuur die middag af gesluit wees.
18 Maart 2020: SA = 116 gevalle.
Die Busamed Lowveld-privaathospitaal in Mbombela in Mpuamalanga het alle operasies vir veertien dae opgeskort. Die hospitaal is Maandag gesluit nadat ‘n dokter positief getoets het vir die coronavirus.
17 Maart 2020: Die Covid-19 pandemie is steeds besig om vinnig uit te brei, veral in Europese lande.
Die aantal bevestigde gevalle het sedert 2 Maart van sowat 90 000 binne 15 dae verdubbel. Dit het 22 dae geneem om van 45000 tot 90 000 te verdubbel.
In Suid-Afrika staan die getal bevestigde gevalle op 64, terwyl dit ook in al meer lande in Afrika voorkom.
17 Maart, Praat Saam: Mediese kenners in Suid-Afrika waarsku dat mense met ‘n chroniese siekte hulle gesondheidstoestand moet monitor. In Suid-Afrika is ons op dag 2 van die nasionale krisis. Watter mediese bekommernisse het jy oor Covid-19?
In China het meer as 68 000 van die net meer as 80 000 siek mense reeds herstel en is slegs 21 nuwe gevalle die afgelope 24 uur aangemeld, terwyl Italië, Spanje, Duitsland, Frankryk, Switserland, Engeland, België, Nederland, Oostenryk en die Skandinawiese lande en ook die VSA nou die meeste nuwe gevalle aanmeld. Die virus het nou ook die Karibiese eilande bereik.
of hier: https://www.moneyweb.co.za/news/south-africa/ramaphosa-addresses-the-nation-on-covid-19/
Interessantheidshalwe:
Die siekte staan bekend as COVID-19 (Corona Virus Disease 2019), en die virus staan bekend as SARS-CoV-2 (Serious Acute Respiratory Syndrome Corona virus 2), omdat die virus ernstige longonsteking veroorsaak en volgens alle aanduidings naby verwant is aan die SARS-CoV-1 van 2002/2003.
Lees meer: https://www.who.int/emergencies/diseases/novel-coronavirus-2019/technical-guidance/naming-the-coronavirus-disease-(covid-2019)-and-the-virus-that-causes-it
12 Maart:
10 Maart: Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het bevestig dat die getal Suid-Afrikaners wat die virus onderlede het, tot sewe gestyg het, nadat ‘n bykomende vier mense positief gediagnoseer is. Hulle was deel van die groep van tien wat Italië besoek het. Italië is die land in Europa wat die meeste gevalle van Covid-19 het.
5 Maart 2020:
13 Feb 2020: Die Coronavirus wat verantwoordelik is vir die huidige uitbreking, staan nou amptelik as COVID-19 bekend.
CO = Corona
VI = Virus
D= Disease
2019 = die jaar waarin die virus geïdentifiseer is.
Lees ook:
Statistieke oor die huidige uitbreking: https://www.worldometers.info/coronavirus/
Mites oor die Corona-virus: https://www.who.int/emergencies/diseases/novel-coronavirus-2019/advice-for-public/myth-busters
Inligting vir mediese en gesondheidspersoneel: https://www.thelancet.com/coronavirus
Interessante feite oor die Corona-virus en die huidige uitbreking
Wat is die coronavirus wat mense in die Ooste op hol het? Hoe dodelik is dit? Hoe het dit ontstaan? Is ons in Suid-Afrika in gevaar? Marí Hudson praat met ’n spesialis oor dié virus, asook ook klebsiêlla en dié winter se griep.
- Die Corona-virus is ‘n groep virusse wat gewoonlik in diere voorkom. Wanneer dit wel na die mens oorgedra word, soos met SARS in 2002/3, en MERS in 2012, lei dit tot veral longprobleme by die mens. Die sterftesyfer van die SARS-uitbreking was sowat 9% en dié van MERS sowat 34%. Nie SARS of MERS het tot ‘n groot mate van mense tot mens versprei nie. SARS het vermoedelik van vlermuise gekom via muishonde in die Ooste en MERS van vlermuise via kamele in die Midde-Ooste. Baie van die Corona-virusse wat tans wel in mense voorkom, veroorsaak bloot verkoue.
- Die nuwe Corona-virus word die 2019-nCoV genoem, waar die n staan vir novel oftewel nuwe.
- Die Corona virus uitbreking het op 8 Desember 2019 begin met 10 mense wat siek geword het nadat hulle ‘n mark met lewende diere, insluitend wilde diere, besoek het.
- Meer as 6000 gevalle is die eerste 7 weke gediagnoseer met 132 sterftes. Meer as 40 miljoen mense in verskillende stede in China is in kwarantyn geplaas. Gevalle is reeds in Kanada, Duitsland, Japan, Hong Kong, Frankryk, Maleisie en Australië gediagnoseer. Almal was in aanraking met ‘n persoon van China. Vlugte uit China is gekanselleer en ook die X-Spele wat volgende maand in China sou plaasvind. ‘n Week later, op 3 Feb, het die getal gediagnoseerdes wêreldwyd op meer as 17 000 gestaan en die sterftesyfer op meer as 360.
- Chirurgiese maskers in China, en ook New York, is uitverkoop en die geldmarkte is ook op hol.
- Anders as die SARS- en MERS virusse, word die nuwe Corona virus wel van mens tot mens oorgedra soos gevalle in Duitsland en Japan bewys het.
- Die inkubasietyd van aansteking tot simptome is sowat 10 tot 14 dae as dit van dier na mens oorgedra word, en sowat 1 tot 12 dae as dit van mens tot mens oorgedra word.
- Die virus word swakker met elke oordraging van mens tot mens.
- Die simptome is longontsteking, koors, hoes en sukkel om asem te haal. Maar nie loopneus, nies en seer keel nie. Die huidige influenza virus het soortgelyke simptome.
- Ouer mense, mense met verswakte immuniteitstelsels, mense met long- of hartprobleme en jong kinders kan die siekste word van die virus en moet onmiddellik mediese hulp kry met die eerste simptome.
- Die virus versprei deur groot druppels en sal nie maklik deur inaseming aansteek nie, maar wel as groot duppels op jou val as jy ‘n meter of twee van ‘n pasiënt staan, of as jy aan iets vat waarop die druppels geval het. Dit is nie bekend hoe lank die virus buite die liggaam lewe nie.
- Die belangrikste voorsorgmaatreëls is om jou hande te vas, onmiddellik mediese hulp te gaan soek as jy onlangs in China was of met ‘n persoon van China in aanraking was en dan simptome toon, jou hand voor jou mond te hou as jy hoes of nies en nie aan jou gesig te vat nadat jy aan dinge rondom jou gevat het. ‘n Masker kan mediese en verpleegpersoneel help wat digby pasiënte werk, en om ‘n siek persoon te keer om ander aan te steek.
- Volgens die Minister van Gesondheid is Suid-Afrika gereed om die virus in Suid-Afrika te hanteer.
- Geen antivirale middel of vaksien is tans effektief of beskikbaar nie. Die virus is egter reeds geïsoleer en geïdentifiseer en kan nou in enige land met ‘n bloedtoets binne 24 uur bevestig word. Navorsers in verskeie laboratoria in die wêreld werk aan behandeling en ‘n vaksien.
- Dit is nie die dodelikheid van die virus wat paniek saai nie, maar onsekerhede oor wat volgende gaan gebeur en hoe die virus verder gaan optree. Tans lyk dit of dit met elke mens tot mens oordraging verswak.
Lees meer oor die Corona-virus uitbreking: https://www.webmd.com/lung/news/20200124/coronavirus-2020-outbreak-latest-updates
Deur Marí Hudson