Luister weer: Esias Bosch – 100 jaar se vuurkuns uit Afrika


Esias Bosch

Luister op 3 Augustus na die  lewe en kuns van Esias Bosch, die eerste keramiekklei kunstenaar van Suid-Afrika wat vanjaar ‘n 100 jaar sou wees.

Kenners en familie van Esias Bosch  gesels oor sy lewe en sy kuns in Esias Bosch – 100 jaar se vuurkuns uit Afrika, saamgestel vir RSG, deur Johan Rademan.

Esias Bosch (11/07/1923 – 24/04/2010) – pionier en baanbreker in die Suid-Afrikaanse keramiekkuns.

 

Johan Rademan skryf:

Ek het Esias Bosch net na die eeuwending ontmoet in die kerksaaltjie van Witrivier. Hy het hom nie veel aan konvensies gesteur nie, maar het op uitnodiging van Randall Wicomb die Voete van n Gemsbok vertoning, waarvan ek die regisseur was, bygewoon.

Bosch in die 70's in sy porselein periode

Bosch in die sewentiger jare in sy porselein periode.

Hy was meegevoer deur die beeldryke vertoning van Oranjerivier-Afrikaans, maar ook die asemrowende natuurbeelde van die Noord-Kaap en Kalahari, wat Jan Horn (TV-regisseur) geskep het.

Hy het ons toe vir ‘n glasie tee na die vertoning genooi.

Bosch in sy latere jare

Anton, sy seun, het in daardie stadium saam met sy pa in die ateljee gewerk, maar was nie self daar nie. Die voorreg om sy rondleiding deur die ateljee, maar ook in ‘n neutedop, sy lewe te kon ervaar op Die Randjie, was vir my soos n tydinstallasie in my lewe. Hy’t vir die hele geselskap elk ‘n stukkie keramiekwerk gegee.

Esias Bosch in sy ateljee ‘n paar maande voor sy dood op 24 April 2010.

Hy het die aflosstok alreeds begin oorgee aan Anton en Esra wat sy werk voortgesit het, terwyl hy geteken en skilder het. Sy krematartbome is kenmerkend van sy liefde vir die Laeveld, hoewel hy op die Vrystaatse-platteland gebore is.

Anton en Valerie Bosch – getroud 1951

Ek het agterna gesien dit was Anton Bosch se bordjies wat hy aan ons uitgedeel het. Baie dankie, dus, Anton vir die onwetende geskenkies in absentia!

Vuurkuns uit Afrika strek eeue en eeue terug, maar die werk van die pottebakker op die wiel is eers bekend gemaak in die Mesopotamiese-tyd so 5 000 jr v.C  in wat vandag bekendstaan as Irak.

In Suid-Afrika het die pottebakkerswiel in die 1950’s en 60’s via Esias Bosch tot sy reg gekom, maar sy glasuring en eenvoudige lyne, ook op teëls, is tot vandag toe nog bloot eenvoudig indrukwekkend.

Ek hoop almal wat luister geniet die kleinnood, geskik rondom die kleikultuur net soveel soos wat ek het. En is dit nie ironies dat die eerste pottebakkerswiele uit gesnyde hout bestaan het nie – iets waarop Esias teen die einde van sy kunstenaarslewe op geskilder het nie. So speel tyd parte met die mensdom. Propvol ironie.

Het jy geweet? Baie van Esias Bosch se werke is in die Vineyard Hotel naby die Nuwelandstadions. ‘n Reuse kleipaneel is agter die ontvangstoonbank en die ou radiovervolgverhaal, Die du Plooy’s van Soetmelksvlei, het ‘n toevallige verbintenis. Die aktrise Kitty Albertyn, (getroude van Petousis) was getroud met die eienaar van die hotel en die Petousis-familie besit vandag nog, soos Esias se kinders die instelling.

Kitty Albertyn het die rol van Tant Heibie gespeel en is soos Esias ook in 1923 gebore. Sy was persoonlik bevriend met Bosch en het hom die opdragwerk gegee. Nog ‘n SAUK verbintenis is die dogter van Esias, Andre Eva Bosch, se digwerk as tiener.

Esias Bosch het eers  ‘n jaar tandheelkunde gestudeer voordat hy besef het dat daar maar een passie in sy lewe is en dit is om met klei te werk.

Vandag, 100 jaar na sy geboorte, word hy as die leidende keramiekkunstenaar in Suid-Afrika uit sy tydvak beskou.

Deelnemers:

Dr Pierre Voschenk (97 jr), ‘n tydgenoot van Bosch vertel dat hy en Esias dikwels oor klei gepraat het en dat in die middel van die vorige eeu navorsing deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) op klei, wat tot 25 miljoen jaar oud kan wees, gedoen is.

Bosch het elke verwikkeling waargeneem en aangewend in sy werk. Hy het ook onder groot meesters in Engeland gaan studeer en vir n wyle in Londen gewoon.

Sy hunkering na Suid-Afrika en veral die platteland was te groot. Hy het hom kom vestig in Witrivier op n lappie grond wat hy “Die Randjie” genoem het en die kunsvorm hier gestalte gegee.

‘n Kiekie van ma Valerie met Anton, Esra en André by pa Esias se oond by Die Randjie in Witrivier

Volgens Dr Ronnie Watt, kunshistorikus wat op Vancouver Island in Kanada woon, is Bosch geinspireer deur die Engelse pottebakker, Michael Cardew. Die strewe na die eenvoud van vorm en versiering.

Die nut van sulke potte is nie beperk tot gebruiksartikels nie, maar ook iets wat die hart kan bekoor. Voorhuispotte soos Esias Bosch dit genoem het.

Video: Hennie Meyer en J0han Rademan by die Rust en Vrede Kleimuseum in Durbanville wat Esias Bosch in 1986 geopen het:

Hennie Meyer, internasionaal bekroonde pottebakker en keramiekkunstenaar speel ‘n beduidende rol by die Rust en Vrede Kleimuseum wat in 1986 deur Esias Bosch geopen is.


Hy beskou een van die grootste kunsverliese in Suid-Afrika toe n muurpaneel van Esias Bosch met die verandering van die ou Jan Smuts lughawe na die moderne OR Tambo vernietig is. Bosch geniet egter ‘n permanente uitstalruimte by die Rust en Vrede Kleimuseum waar een van Bosch se leermeesters in Engeland, Bernard Leach se styl duidelik waarneembaar is.

Iziko Museums Kurator, Esther Esmyol, is beindruk met die Afrika-invloede van Bosch se werk uit Nigerie. Hy het die stamme van Noord-Nigerië se klei-pot versierings as kunstenaar motiverend gevind.

Johan Rademan en Iziko Museums kurator Esther Esmyol in Rust en Vreugd naby die parlement by n Bosch-pot uit die William Fehr versameling.

Hy’t as kunstenaar soos n verkleurmannetjie kon aanpas in die fases van sy lewe – pottebakker(erdeware soos in die antieke vorme) tot fyn keramiek wat hoë tempratuur werke tot in porseleinvorm aanneem. Erdeware, steenware, keramiek- en porseleinware het hy alles vervolmaak. Hy het ook weer die natuur, veral bome, begin skilder op hout in sy latere leeftyd.

Esias Bosch se werk

Esias Bosch is self verewig uit ou argiefstof en neem in absentia ook deel aan die program. Hy het n onuitwisbare nalatenskap. Die toonaard, sagtheid, respek en liefde vir sy werk kom hierdeur na vore.

Vandag het sy 3 kinders, Esra, André Eva en Anton sy kreatiwiteit oorgeneem. Esra werk in haar pa se oorspronklike ateljee, André het as skrywer en joernalis n boek oor sy lewe (met n handige tydlyn by) in die vorige eeu uitgegee, en Anton se ateljee is n klipgooi van Esias se ou ateljee af.

Nina, Anton se dogter, werk ook nou in die genre en word nie net deur Bosch se werk nie, maar ook ouma Valerie se kunsklei-juweliersware aangespoor.

“Vandag is vroue baie meer toonaangewend in die pottebakkery kuns as mans” sê Dr Ronnie Watt. (Nina Bosch is daarvan ‘n getuie as gerekende jong kunstenaar.)

Esias Bosch – 100 jaar se vuurkuns uit Afrika deur die RSG-mikrofoon van Johan Rademan

Fotos uit die boek – Valerie, Esra, Andre Eva en Anton o.a. by die onvoltooide selfgeboude oonde van Esias Bosch by Die Randjie.

Funksionele en hartskuns van Esias Bosch.

Noord-Nigeriese invloed op die kuns Esias Bosch.