‘Liedjiedorp’, ‘n musiekopvoedkundige program vir kinders, het pas begin


Liedjiedorp is ʼn gedramatiseerde musiekstorie wat die luisteraar (groot en klein) se verbeelding sal aangryp met die avonture van Bas, Melodie, Harmonie, Aria, Anja en Wouter.

Musiekopvoedkundige elemente word in elk van die 27 episodes op ʼn unieke manier geïnkorporeer deurdat elke letter van die alfabet ook deel is van die tematiese gebruik en uiteensetting van die pragtige musiekstorie.

Luister Maandae tot Saterdae elke aand 19:20 na stories vir kinders.

Die storie

Illustrasie geleen by https://www.story.com/story/fantasy/the-secret-of-the-enchanted-waterfall. Luister gerus na dié storie.

Melodie verhuis van die stad na haar nuwe tuiste in ‘n afgeleë dorpie Blombergkrans. Die stowwerige dorpie staan stil in tyd terwyl die res van die wêreld aanbeweeg het. Al die diere, kleure, en geure het uit die klein dorpie verdwyn.

Melodie ontmoet Anja en ʼn onwaarskynlike vriendskap ontstaan. Anja neem Melodie na ʼn geheime plek, mits Melodie belowe om hierdie geheim met niemand te deel nie. Anja neem Melodie na ‘n waterval. Die feetjie, Aria, verskyn en sing ‘n liedjie wat die waterval laat ooptrek soos ‘n gordyn. Wanneer Melodie en Anja deur die gordyn loop, sien hulle vir die eerste keer Liedjiedorp.

Liedjiedorp is in groot gevaar en onder leiding van die nuwe burgemeester, ‘n simbaal genaamd, Zingflits. Hy is ‘n nare heerser wat, net soos ‘n simbaal, vibrasies deur die dorp veroorsaak. Al die lewe en musiek het verdwyn in en om Liedjiedorp. Melodie en Anja doen alles in hul vermoë om die dorpie te red en musiek terug te bring.

Hoe dit werk

Deur hierdie holistiese benadering van aktiewe beluistering te gebruik, gaan ons hoor hoe musiek lyk, klink en sal ons selfs amper aan musiek kan vat en voel. Afwagting, verbeelding en emosie word aangeraak, asook al die musiek konsepte: ritme, melodie, tempo, toonkleur, tekstuur, vorm en dinamiek.

Ons leer die vier instrument-families van die orkes ken. Verskeie ander musiek terme wat integraal deel vorm van die hartklop van musiek word ook aangespreek.

Die span

Die storie is geskryf ek opgevoer deur Luan Jacobs.

Hy word bygestaan deur die musiekopvoedkundige, Magdaleen Lamey. Magdaleen (MMus cum laude) is n musiekopvoedkundige wat ʼn kurrikulum, Musicula, saamgestel het. Die doel hiervan is om die wêreld van klank vir kinders ouderdom ses maande tot 8 jaar oop te maak deur van verskeie musiekopvoedkundige programme, musiek elemente en musiek aktwiteitsareas gebruik te maak en op unieke manier te kombineer.

Pieter von Wielligh is die komponis en klank ontwerper. Pieter skilder ‘n visuele en emosionele wêreld vir die luisteraar, met musiek instrumente as sy verfkwas.

Die gesofistikeerde byklanke en tegniese versorging benodig vir die storiereeks, word in die ateljee behartig deur JD Labuschagne en Dipalesa Motau.

Die akteurs sluit in die ervare Marina Coetzee (Aria), en Dihan Keun (Bas) asook nuwe jong spelers Karla Fourie (Melodie), Hildegard Schraader (Anja) en Dawian van der Westhuizen (Wouter).

Van links na regs: Dawian van der Westhuizen, Karla Fourie, Dihan Keun en Marina Coetzee

Die waarde van musiekopvoedkunde

Verskeie navorsingstudies het bewys dat om musiek te beoefen, `n dramatiese impak het op die ontwikkeling van die jong kind se breinstruktuur, asook om geheue te verskerp en taalvaardigheid te ontwikkel. Verder bevorder dit emosionele en bewustelike ruimtelike en sensoriese oriëntasie.

Liedjiedorp gaan luisteraars inspireer om meer van musiek te leer, verder daaroor te lees, en selfs ʼn instrument te kies en te begin oefen.

Luister elke week hoe ‘n letter van die alfabet verskeie temas gaan oopsluit, en luister of jy die spesiale musiekelement, term of styl van musiek kan identifiseer wat deur daardie alfabet letter gebruik is om so die storielyn te ondersteun en uit te bou. Elke unieke klankkleur en raaksien van elke instrument familie gaan die luisteraar spontaan lei deur die magiese wêreld van Liedjiedorp.