Ons nuwe vervolgverhaal begin op 18 Sept


RSG se nuwe middagvervolgverhaal van 60 episodes, Sonsak oor Verlatensrus, begin op 18 September en sal elke weeksmiddag om 14:45 tot 15:00 uitgesaai word.

Dié debuutvervolgverhaal deur Albert Short beloof om jou vasgenael voor die radio te hou terwyl elke karakter ‘n stempel afdruk in hierdie moderne feëverhaal.

Geniet ‘n goeie dosis drama, romanse en spanning soos Verlatensrus tot in sy fondamente geskud word en weer uit die puin verrys tot ‘n harmonieuse gemeenskap. ‘n Gemeenskap met skindertonge, morele pendelums en hartebrekers.>Met spelleiding deur Johny Klein, beloof die verhaal om jou na die plattelandse bestaan van almal se gunstelling tante, winkeleienaar, bloemiste en kuierplek te neem. ‘n Nuwe stem en bekende stemme werk saam om die verhaal lewe te gee.

Carl Trautman debuteer as die romantiese held Wessel Vermaak. Luisteraars kan uitsien na Izel Bezuidenhout as die romantiese heldin Hantie,  en haar ouma Mildred gespeel deur Rina Nienaber. Kersie, gespeel deur Claudia Jones, is op soek na haar pasmaat. Bella, gespeel deur Ilse Klink, maak die lewe nie vir haar kind Kersie of vir haarself maklik nie. Mortimer Williams as Francisco, is die dorp se gastehuis- en koffiewinkeleienaar. Sersant Huffnagel, gespeel deur Cobus Venter, probeer wet en orde handhaaf. Jakkie Groenewald as Vrot Rot, kom krap alles deurmekaar en Donoven Pietersen as Willem de Haan kom kleur die prentjie weer mooi in en maak iemand se lewe sommer weer prentjiemooi.

Die span. Staande van links na regs is Dipalesa Motau (klank en tegniese versorging), Ilse Klink, Jakkie Groenewald, Mortimer Williams, Claudia Jones, Rina Nienaber, Izel Bezuidenhout en Carl Truatman. Voor is vJohny Klein (regisseur) en Frik Wallis (klank en tegniese versorging).

Die storie

Verlatensrus is ‘n fiktiewe dorp ongeveer twee uur van Gauteng af. Die naam is nie sommer toevallig nie – niks is naby nie.

Op ‘n dag kom daar ‘n akteur, Wessel Vermaak, op die dorp aan. Nes die dorp se naam, is sý naam ook glad nie ‘n ongeluk nie. Al wat hy wil doen is om te vermaak. Maar dan begin allerhande vreemde dinge gebeur en duik raaisels van oral af op. Is dit toeval, of het hierdie dinge iets met hom te doen?

Geleidelik begin die son oor Verlatensrus sak. En ná sonsak kom die donker. Altyd. Is die einde in sig?

Baie gou raak Wessel verlief op die beeldskone Hantie van die boekwinkel. Sy spring dadelik in om hom met die konsert te help. Sy het egter ook ‘n uitdaging van haar eie: haar negentigjarige ouma, tante Mildred, begin meteens vreemd optree. Is dit ‘n mediese toestand of is daar iets veel groter aan die gang?

By die kleurvolle bloemiste ontmoet ons vir Bella en haar dogter, Kersie, die toonbeeld van ‘n gelukkige ma en dogter, maar soos ‘n ruiker wat verlep kom die ware kleure mettertyd na vore.

Te midde van die chaos is daar drie mans op wie die dorp kan reken. Francisco bestuur die gastehuis en restaurant, Sersant Huffnagel lewer ‘n unieke bydrae tot misdaadvoorkoming en Willem de Haan verdwaal na Verlatensrus om als met ‘n vars oog te bekyk.

Maar onder alles skuil daar ‘n ongure karakter. ‘n Booswig wat niks het om te verloor nie. ‘n Man sonder naam en sonder gewete. Kodenaam: Vrot Rot.

Terwyl die son sak en die dorp al hoe donkerder raak, moet die inwoners van Verlatensrus sorg dat hulle op een belangrike saak gefokus bly: Wessel se konsert. Want sonder goeie konserte is Verlatensrus iets van die verlede, en so ook elke mens wat daar bly.

Carl Trautman.

Ontmoet die karakters

Vandat Wessel Vermaak (Carl Trautman) op Verlatensrus aankom, is hy ten volle gefokus op sy unieke weergawe van Aspoestertjie. Hy het glad nie ‘n goeie geskiedenis wat verhoudings betref   nie en skram weg van die meisies op die dorp. Dis egter net ‘n kwessie van tyd voordat hy voor die mooie Hantie swig. Is hierdie toenadering ‘n fout? Skinderstories oor hom lê immers die hele internet vol: ‘n gewetenlose hartebreker wat harte breek en plotseling weer verdwyn. Hantie weet hiervan, maar loop nogtans oopoog die gevaar binne.

Uit die staanspoor is daar vele invloede wat hom tot mislukkig bestem. Een na die ander word hindernisse op sy pad gelê wat hom deur en deur toets. Gelukkig is die hele dorp aan sy kant, want sy sukses het ‘n baie direkte invloed op die voortbestaan van die dorp.

Izel Bezuidenhout

Hantie Viljoen (Izel Bezuidenhout) is op Verlatensrus gebore en getoë. Sy het joernalistiek in Bloemfontein gaan studeer en daarna dadelik teruggekeer om na haar ouma om te sien ná haar ouers se afsterwe. Haar ouma is haar grootste vertroueling en vriend. Gevolglik is Verlatensrus haar ganse bestaan. Sy is oopkop en aangenaam, en as eienares van die boekwinkel is sy een van die mees geliefde mense op die dorp.

As lid van die dorp se teaterkomitee, raak sy dadelik by Wessel se beoogde konsert betrokke. Toe dinge begin skeefloop, beland sy dadelik in die middel van die aksie. Nes Wessel is die laaste ding waarna sy soek ‘n verhouding, en nes hy kan sy die liefde nie keer toe dit  opdaag nie.

Ilse Klink en Rina Nienaber

Mildred (Rina Nienaber) is Hantie se ouma en ‘n lewenslange inwoner van Verlatensrus. As negentigjare het sy die beginjare van die dorp persoonlik ervaar, die huise en besighede een-een sien opgaan. Sy is rolstoelgebonde en woon in die dorp se ouetehuis. Alhoewel Hantie deurtentyd aandring dat Mildred by haar kom bly, glo Mildred dat so iets die einde van haar kleindogter se sosiale lewe sal beteken.

Terwyl Mildred op ‘n dag hulpeloos voel, maak sy ‘n skokkende ontdekking omtrent haarself. Sy vertel haar kleindogter van hierdie vreemde gebeurtenis, en Hantie vermoed dat haar ouma ‘n mediese toestand ontwikkel het. Ten einde Mildred se goeie naam en reputasie op die dorp te beskerm, gaan Hantie tot uiterstes oor om Mildred se skielike vreemde gedrag geheim te hou.

Tant Bella (Ilse Klink) van die bloemiste woon ook al haar hele lewe lank op Verlatensrus. Haar kinderjare was egter sieldodend: vaal en vervelig. Toe die eerste geleentheid opduik, ontpop sy in ‘n kleurvolle en eksentrieke mens, ruil sy haar vaal ou klerekas vir alles wat bont is, en maak sy ‘n vrolike bloemiste oop. Maar ten spyte van haar borrelende, luidrugte uiterlike, skuil daar ‘n donkerte in haar binneste wat al hoe moeiliker raak om te verbloem.

Mortimer Williams en Claudia Jones.

Kersie (Claudia Jones) is Bella se dogter en heeltemal die teenoorgestelde van haar ma. Terwyl haar ma se kinderjare vaal en grys was, was Kersie s’n bont, oordadig en kleurvol. Soos wat haar naam aandui, bring sy lig. Sy is goed en opreg. Terwyl haar ma as kind ‘n vervelige lewe wou ontvlug, is verveling juis iets waarna sy hunker. Ongelukkig beland sy dikwels in die middel van situasies waar sy glad nie wou wees nie, en word byna daagliks met morele besluitneming gekonfronteer.

Francisco (Mortimer Williams) bedryf die gastehuis en restaurant, en daarom is hy ‘n direkte maatstaf van die toestand waarin die dorp is. Wanneer sy eetplek en kamers vol is, beteken dit dinge gaan goed. Hy is relatief nuut op die dorp, nadat hy eers vyf jaar vantevore Gauteng se gejaagdheid ontvlug en hom op Verlatensrus kom vestig het. Hy het in ‘n baie kort tyd baie lief geraak vir die dorp en sal tot enige uiterste gaan op dit te beskerm.

Vrot Rot (Jakkie Groenewald) is ‘n geheimsinnige karakter wat verskyn en verdwyn soos wat hy benodig word. Hy woon in die rioolnetwerk onder die dorp waar hy vir die gereg wegkruip. Hy het ‘n duister verlede en daar is geen misdaad waarvan hy wegskram nie.

Sersant Huffnagel (Cobus Visser) is die enigste polisieman op die dorp. Dit gaan vir hom nie soseer oor watter sake hy oplos nie, maar eerder oor hoe hy dit oplos. Het hy byvoorbeeld ten minste goed gelyk? Het sy donkerbril en naskeermiddel die publiek beïndruk? Wanneer daar ‘n misdaad op Verlatensrus gebeur, doen jy jou bes om dit van die polisie geheim te hou, want Sersant Huffnagel sal dinge heel waarskynlik net vererger.

Willem de Haan (Donoven Pietersen) kom op ‘n dag heel per toeval op die dorp aan. Hy het dae lank gereis in ‘n kar met een vermiste deur. Hy bereik Verlatensrus eers later in die verhaal en kan alles met vars oë betrag. Hy is ‘n kunstenaar en sy kreatiwiteit stuur alles in ‘n nuwe rigting. En reg so in die verlatenheid verloor hy sy hart en sal nooit weer die dorp verlaat nie.

Agter die skerms: Frik Wallis, Johny Klein en Dipalesa Motau.

Van die skrywer – Albert Short

Albert Short

Met ses vol-radiodramas agter die blad het ek gereed gevoel om hierdie nuwe formaat aan te durf.

Ek het sommer baie gou geleer dat daar vele ooreenkomste, maar ook drastiese verskille tussen radiodramas en vervolgverhale is. Dit was interessant om in terme van episodes te dink en natuurlik die allerbelangrike lusmaker aan die einde van elke episode in te bou. Verder moet ‘n mens ook tydlyne en karakterontwikkeling in gedagte hou – iets wat spesifieke beplanning verg. Op ‘n praktiese vlak moet elke episode net lank genoeg wees vir die tydgleuf waarvoor dit bedoel is.

Maar ten spyte van hierdie uitdagings en nuwe dinge wat ek moes leer, was die skryf van Sonsak ‘n genotvolle en verrykende ondervinding. Ek het nog nooit vantevore aan so ‘n lang verhaal gewerk en gevolglik soveel tyd saam met die karakters in hulle wêreld spandeer nie. Dis ‘n droomagtige maar baie werklike ervaring en ek hoop die luisteraars ervaar dit ook so namate hierdie sestig episodes uitspeel.

Die idee vir die storie het gevloei uit my herinneringe aan die lieflike klein dorpies wat ‘n mens in Suid-Afrika kry. Ek woon die laaste paar jaar in Australië en het ‘n soortgelyke ervaring nog nooit hier teëgekom nie. En hierdie dorpies loop dikwels oor van die mooiste en interessantste mense wat daar is.

Ek is eindeloos dankbaar teenoor RSG vir die geleentheid om hierdie ongelooflike droom te kan uitleef. Nou is dit ‘n wonderlike vooruitsig om almal saam te nooi na Verlatensrus: ‘n drankie by Franciscos, blomme by Bella se bloemiste of ‘n boek by Hantie se winkel. As jy gelukkig is, is daar dalk ‘n konsert in die legendariese dorpsteater. Of dalk kan jy sommer net iewers gaan staan en kyk hoe die son sak oor Verlatensrus.

 

Sonsak oor Verlatensrus, elke middag 14:45 – 15:00, vanaf 18 September op RSG.

RSG se middagvervolgverhale is ook beskikbaar as potgooi op www.rsg.co.za

Sonsak oor Verlatensrus episode opsommings

Episode 1 : 18 September 2024: Mildred beweer iets vreemd het gebeur, maar Hantie glo dit was haar verbeelding. Hantie en Wessel ontmoet vir die eerste keer.

Episode 2 : 19 September 2024: Hantie gaan wys Wessel hoe Verlatensrus se legendariese teater van binne lyk. Bella en Kersie loer op ‘n afstand.

Episode 3: Hantie wil vir Mildred dokter toe vat. Wessel ontdek ‘n baie bruikbare boek en Hantie vertrou hom met ‘n kosbare geheim.

Episode 4: Bella moedig vir Kersie aan om by Wessel flikkers te gooi. Kersie kry ontstellende inligting oor Wessel op die internet.

Episode 5: Wessel se rekenaar gee probleme en Hantie moet help. Mildred doen iets vreemds in die park, onwetend dat sy dopgehou word.

Episode 6: Wessel sukkel met slotte en sleutels wat ewe skielik nie meer werk nie. Kersie gee vir Wessel ‘n bos blomme.

Episode 7: Kersie probeer uitvis hoekom Mildred meteens so vreemd optree. ‘n Onwelkome besoeker daag by die boekwinkel op.

Episode 8: Wessel en Hantie wonder oor die geheimsinnige besoeker. Mildred voel onrustig oor Verlatensrus, vir die eerste keer in negentig jaar.

Episode 9: Kersie bied aan om die kostuums vir die konsert te maak, en Mildred ontdek ‘n onverwagse talent vir naaldwerk.

Episode 10: Hantie Bella waarsku vir Kersie teen vals en oppervlakkige vriendskappe. Mildred skimp om in Wessel se konsert te wees.

Episode 11: Bella bel die koerant om die vreemde gebeure op Verlatensrus te rapporteer. ‘n Blou duif verskyn.

Episode 12: Bella vat vir Mildred ‘n afgeskeepte geskenk en vra onmoontlike vrae. Hantie maak goeie vordering met die konsert se agtergronde.

Episode 13: Wessel se kar word gevandaliseer en hy en Hantie moet die wiele buurdorp toe vat. Bella praat oor haar kinderjare op Verlatensrus.

Episode 14: Kersie gaan wys haar kostuumontwerpe vir Wessel. Wessel maak ‘n kreatiewe plan om die skade aan sy kar te verbloem.

Episode 15: ‘n Groot bohaai oor ‘n pampoen. Bella rapporteer die geraamtespook aan die polisie. Wessel lees ‘n baie mooi storie.

Episode 16: Hantie is skaam oor wat sy die vorige aand gedoen het. Kersie laat vir Wessel en Hantie ongemaklik voel.

Episode 17: Kersie hou ‘n olyftak uit. Sersant Huffnagel maak hom lastig. Hantie moet inderhaas hospitaal toe gejaag word.

Episode 18: Verlatensrus haal die nuus en daar is kommer oor die slegte publisiteit. Wessel se dekor vir die konsert word weereens gevandaliseer.

Episode 19: Hantie het verdere slegte nuus oor die dekor. ‘n Rit oor die plaaspaaie ontaard in ‘n onverwagse nag onder die sterre.

Episode 20: Hantie en Wessel se rustige nag word versteur. Kersie maak ‘n skokkende ontdekking in een van die laaie by die huis.

Episode 21: Bella lê haar planne aan Kersie uit, maar dié is glad nie beïndruk nie. Hantie en Wessel bewonder die sonsopkoms.

Episode 22: Bella en Mildred raak aktief by die verfraaiing van die dorp betrokke. Vrot Rot klop laatnag aan Bella se venster en ontmoet vir Kersie.

Episode 23: Bella praat met Wessel oor sy veiligheid. Mildred help vir Kersie met naaldwerk. Wessel en Hantie agtervolg ‘n verdagte figuur deur die bos.

Episode 24: Mildred raak by die konsert betrokke en veroorsaak pandemonium in die hoofstraat. Vrot Rot daag by die bloemiste op.

Episode 25: Hantie is bekommerd oor die spookjagters. Bella berei ‘n spesiale ete voor om haar sukses te vier, maar Kersie weier om saam te eet.

Episode 26: Vrot Rot is geskok oor die misdaad wat Bella beplan. Wessel en Francisco besef hulle sal moet saamwerk om die dorp se raaisels op te los.

Episode 27: Mildred raak moeg daarvoor om knaend opgepas te word. Wessel en Francisco is besorgd oor die dorp se reputasie.

Episode 28: Hantie stel die dorp gerus omtrent Mildred se verdwyning. Bella besluit dis tyd om die dorp op sy kop te keer.

Episode 29: Bella praat haarself uit ‘n ernstige situasie los. Wessel is bekommerd oor Mildred, maar Hantie verseker hom dat alles in die haak is.

Episode 30: Hantie besef dat sy ‘n fout gemaak en Mildred se lewe in gevaar gestel het. Bella deel bevele en dreigemente uit.

Episode 31: Wessel en Francisco los per ongeluk een van die dorp se mees tergende raaisels op. Die soektog na Mildred begin in alle erns.

Episode 32: Kersie moet ‘n front voorhou. Hantie en Wessel verken die plaaspaaie en sien hoedat Bella en Vrot Rot iets suspisieus aanvang.

Episode 33: Sersant Huffnagel besoek die potensiële misdaadtoneel in die bos. Bella pluk ‘n roos en bring dit wynkelder toe met ‘n spesiale versoek.

Episode 34: Bella dreig vir Mildred. Hantie en Wessel skrik toe hulle aasvoëls in die veld gewaar.

Episode 35: Bella stel onbillike eise aan Mildred, maar dié maak dit duidelik dat sy nie ‘n katjie is om sonder handskoene aan te pak nie.

Episode 36: Kersie konfronteer haar ma oor Mildred se aanhouding. Sy het ‘n moeilike besluit om te maak en neem ‘n drastiese stap.

Episode 37: Konsternasie by die wynkelder. Mildred gee vir Bella ‘n kosbare geskenk. Kersie stel voor haar ma dink versigtig na oor alles wat sy aangevang het.

Episode 38: Hantie pamperlang haar ouma. Kersie voel sleg oor al die ongeluk wat haar ma veroorsaak het. ‘n Brand breek uit.

Episode 39: Sonder die teater lyk dit onwaarskynlik dat Verlatensrus sal oorleef. Hantie dring daarop aan dat Wessel sy konsert eerder in Pretoria gaan aanbied.

Episode 40: Willem verdwaal na Verlatensrus en Kersie is onmiddelik verlief. Bella skuil ondergronds en bekla haar lot teenoor Vrot Rot.

Episode 41: Willem skilder vir Kersie, maar dinge verloop nie heeltemal glad nie. Hy het ook ‘n paar voorstelle omtrent die restourasie van die teater.

Episode 42: Bella en Vrot Rot besluit om te vlug. Mildred moedig vir Kersie aan om weg te doen met tradisie en hef in eie hand te neem.

Episode 43: Bella en Vrot Rot jaag deur ‘n slaggat oppad stad toe en bars twee buitebande. Willem steel ‘n hooibaal.

Episode 44: Sersant Huffnagel konfronteer vir Bella. Willem het kreatiewe idees vir die teater. Later besluit hy om buitekant in die donker te gaan skilder.

Episode 45: Bella kry besoekers in die tronk. Die dorp is verras toe daar onverwags drie volgelaaide vragmotors aankom.

Episode 46: Wessel verduidelik sy besluit om terug te keer Verlatensrus toe. Kersie gooi alle norme en tradisies oor boord en maak ‘n lewensveranderende skuif.

Episode 47: Willem tart die noodlot. Die dorp vier bruilof, maar dinge loop skeef en die saal moet dringend ontruim word.

Episode 48: Hantie besluit om vir Wessel haar geheime plekkie in die bos te gaan wys, maar hulle word deur ‘n ongure karakter ingewag.

Episode 49: Hantie en Wessel verkeer in doodsgevaar toe ‘n rustige besoek aan die waterval skeefloop.

Episode 50: Kersie vermoed dat ‘n ramp besig is om te gebeur en kry ‘n reddingspan bymekaar. Die reddingspan ondervind egter probleme van hulle eie.

Episode 51: Mildred waarsku die sersant oor die ramp wat besig is om in die bos af te speel. Die reddingspan begaan ‘n groot fout.

Episode 52: Hulp daag op in ‘n uitsonderlike vorm. Die vooruitsig van ‘n nag op die hospitaal se plastiekstoele is glad nie aanloklik nie.

Episode 53: Francisco lê ‘n klag by die polisiestasie en dreig Bella om haar aanvalle te staak. Finale voorbereidings vir die konsert word getref.

Episode 54: Hantie laat haar nie deur haar wond van stryk bring nie. Mildred gee verwarrende instruksies oor wat Wessel en Francisco moet doen.

Episode 55: Alles is uiteindelik gereed vir die konsert, maar skielik is daar ‘n probleem met die akteurs. Vrot Rot daag by Bella se huis op.

Episode 56; Dis oomblikke voor die konsert, maar die uitdagings is nog lank nie oor nie. Op die nippertjie kry Hantie ‘n blink plan.

Episode 57: Hantie en Wessel lees terugvoer oor die konsert aanlyn. Die soektog na die akteurs word verskerp.

Episode 58: Wessel en Francisco soek tekens van die vermiste akteurs langs die plaaspaaie. Hantie en Mildred gaan vir ‘n wandeling deur die park.

Episode 59 – 9 Desember 2024: Ten spyte van tragiese nuus duur die soektog na die akteurs voort. Bella moet haastig ‘n besluit maak: veg of vlug?

Episode 60 – 10 Desember 2024: Hantie en Wessel kan die onvermydelike nie langer uitstel nie. ‘n Onmoontlike keuse moet gemaak word.