Weeskinders – ‘n Verhaal van die mense van Platfontein


Luister Donderdagaand na dié dokumentêr, vervaardig deur Fritz Klaaste en Johann Pieterse, in samewerking met XK-FM.

Die hoorbeeld vertel die !Xu en Khwe se storie van ontworteling, verwerping en hul stryd met integrasie.

Platfontein en omgewing is droog, kaal en woestynagtig

Agtergrond-inligting

Die !Xu en Khwe het eens in vrede en harmonie geleef in die geografiese area van Suid-Angola en Noord-Namibië.

Die Portugese Weermag het hierdie natuurmense van Suid-Angola en Noord-Namibië opgekommandeer om saam met hulle te veg in die Angolese Vryheidsoorlog van die 1970’s.

Met die onttreking van Portugese troepe uit Angola besluit die SAW om dié gesoute troepe in te neem en om ‘n nuwe bataljon, genaamd 31 Bataljon, te vorm. Dié troepe is gebruik vir teen-intervensie operasies in die Caprivi-Strook van Noord-Oos Namibië.

In die tydperk vóór Namibiese onafhanklikheid, het die personeel van 31 Bataljon ‘n kopseer geword, totdat Verenigde Nasies-gesant Martti Ahtisaari ingestem het om hulle vry te stel om hervestig te word in Suid-Afrika. Die lede van 31 Bataljon was nie welkom in Namibië nie en as Suid–Afrikaanse Weermaglede, die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse regering.

Die soldate en hul gesinne is tydelik in ‘n tentedorp gevestig in Schmidtsdrift, 80 km buite Kimberley.

‘n Grondeis word in 1992 ingestel op Schmidtsdrift en die Suid-Afrikaanse Weermag besluit om die gemeenskap te hervestig. Die !Xu en Khwe sou uiteindelik vir tien jaar in hierdie tentedorp leef, totdat Oud-president Nelson Mandela ‘n titelakte van eienaarskap van Platfontein in Mei 1999 aan hulle oorhandig het. Behuising is verskaf om sowat 7 000 mense te huisves. Dit sou ‘n permanente vesting vir die gemeenskap bied.

Weeskinders is vervaardig deur Fritz Klaaste en Johann Pieterse en word uigesaai op Donderdagaand 26 September om 20:00.

XK FM nuusleser Wejoenke Kambungu, omroeper Joe Mpungo, en Simon Hasjenda, vervaardiger.

XK FM Nuuslees 01

XK FM Nuuslees 02

Regina Beregho

Malton Edburgh

 

 

Antie Julie Kabwata