‘Pure Poerring’ is terug met ‘n sousie


Pure Poerring, RSG se Sondagmiddag musiekreeks was so gewild dat besluit is om hierdie reeks te verleng tot einde-Desember vanjaar.

Hierdie reeks  bestaan uit  ligte klassieke instrumentale musiek asook musiek uit die “crossover”  genres.

Pure Poerring kry egter in die opvolgreeks ‘n sousie by in die vorm van sang. Ja, waar Pure Poerring tot nou toe eintlik ‘n instrumentale  musiekprogram was, gaan jy nou hier en daar  musiek hoor met sang of agtergrondstemme of selfs ‘n koor by.

Luisteraars sal in die tweede reeks  onder andere kan luister na  die 2014 Eurovision-liedjiekompetisiewenner, Conchita Wurst met Rise like a Phoenix

en ook Don’t You Know, ‘n 1959 treffer vir Della Reese. Hierdie lied is gegrond op Muzetta se Wals uit Puccini se La Bohème-opera.

Barry Manilow se Could It Be Magic

is gegrond op  Chopin se Prelude in c mineur, Opus 28 Nr 20.

Die Engelse sopraan, Lesley Garrett  se besondere vertolking van Michel Legrand se I will wait for You is ook te hoor.

So-ook die Mormoonse Tabernakelkoor vergesel van ‘n simfonie-orkes  in ‘n besondere swing vertolking van  die African-American Spiritual, Swing Low Sweet Chariot sal ook gehoor kan word.

Die kern van  die Pure Poerring -tweede reeks sal egter steeds instrumentale ligte klassiekemusiek en verskeie instrumentale  crossover– en jazz-verwerkings  soos in die eerste reeks  bly.

Vir nog ‘n skeppie van die  heerlike musikale poerring  na afloop  van ‘n luilekker Sondagmiddag noenmaal, skakel  Sondaemiddae om 14:00 in.

Pure Poerring word aangebied deur Elsje van Jaarsveld met musiekregisseur en programsamesteller Ilse Schürmann en produksieregisseur Wihann Nel.