‘n Spioen, skaapwagter en gerf liefdesbriewe in RSG se nuwe radioteater-seisoen


Robey Leibbrandt

Die verhaal van die Springbok-bokser en spioen Robey Leibbrandt, ‘n Kersdrama oor ‘n jong, gestremde skaapwagter buite die Bybelse Bethlehem en die ware verhaal van ‘n paartjie wat in hul daktent deur ‘n luiperd aangeval word, is van die lekkernye op RSG se nuwe dramaspyskaart.

Die tweede Radioteater-seisoen van 2024 duur van Donderdag 3 Oktober tot 26 Desember met ‘n nuwe radiodrama elke Donderdagaand om 20:00. Daar is ‘n span nuwe skrywers, regisseurs en stemme met gesoute en bekende akteurs wat agter die mikrofoon inskuif.

Die Hertzogbekroonde dramaturg Bartho Smit sou vanjaar sy 100ste verjaardag gevier het, en RSG onthou hom met die uitsending van die argiefdrama Putsonderwater. Smit is ook bekend om dramas soos Moeder Hanna en is met die Encyclopedia Brittanica-prys bekroon vir sy Engelse vertaling van Die verminktes as The Maimed.

Kyk net wat wag op jou.

3 Oktober

Die seisoen begin met ‘n tweeluik-aanbieding van klassieke kortverhale, Ou Leeumelker deur JWF Grosskopf en Gelykheid en broederskap deur Abel Coetzee. Dit is vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen, met Anrich Herbst as regisseur van Gelykheid en broederskap en Juanita de Villiers wat haar regiedebuut maak met Ou Leeumelker.

Die drama met Cobus Venter, Christelle Webb-Joubert, Francois Stemmet, Rian Terblanche, Christopher van der Westhuizen en Hannes Brümmer handel oor die legende oom Hansie (Die Leeumelker) wat ‘n leeu moet opspoor.

Gelykheid en broederskap handel oor die armoede tydens die depressiejare met Carel Nel, Cintaine Schutte, Richard van der Westhuizen, Pieter van Zyl en Stefan Vermaak in die rolverdeling.

10 Oktober

Eendag in Alicante is ‘n roerende verhaal propvol romanse en nostalgiese liefde geskryf deur die regisseur Mari Snyman.
Met bekende spelers soos Elma Potgieter, Heidi Mollentze, Anton Dekker en Anton Schmidt in die rolverdeling op 10 Oktober.

17 Oktober

Joe Kleinhans het Nag van die luiperd geskryf na aanleiding van ware gebeure waarin ‘n paartjie in hulle daktent aangeval is deur ‘n luiperd.
Lizz Meiring, Jacques Gombault, Francois Stemmet en Marina Coetzee kan gehoor word, en Carl Trautman debuteer in sy eerste RSG radiodrama op 17 Oktober. Estel de Beer is die regisseur.

24 Oktober

Ikarus uit die Griekse mitologie is die inspirasie vir die verhaal uit die pen van Sophia van Taak, aanbieder van Vers en klank. Sophia, bekend om haar bekroonde radiodrama Springgety, debuteer ook as regisseur.
Die rolverdeling sluit gunstelinge in soos Jana Kruger, Wilhelm van der Walt, Marion Holm, Johan Rademan, Bianca Flanders en Angelo Bergh (Kelders van geheime) in sy radiodramadebuut.

31 Oktober

Die veelbekroonde radiodramaturg Adriaan Havenga, skrywer van Die dood van Bititi en Iewers in die grys, verras opnuut met Slag wat sorg vir onverwagse verrassings en geheime om die spanning in die verhaal vol te hou. ‘n Storm laat ‘n ongewone gas op die plaas opdaag. Dit blyk die gas is in die omgewing vir ‘n rede.
Die rolverdeling is Juanita de Villiers, Tobie Cronjé en Donovan Petersen. Skakel gerus in om te hoor hoe die verhaal ontvou met regie onder leiding van Ina Strydom.

7 November

Bartho Smit se klassieke  drama Putsonderwater is destyds in Suid-Afrika verbied, maar word weer uitgesaai ter viering van die skrywer se 100ste verjaardag.
Dit is verwerk en opgevoer deur Eben Cruywagen met Frieda van den Heever, Marlo Minnaar, Petrus du Preez, Johan Botha, Nic de Jager, Neels Coetzee en Johann Nel in die rolverdeling.

14 November

Soete wraak is die opvolg van die 2023-radiodrama Soete drome. Dié keer hou Karen Wessels haar lyf nie net skrywer nie maar ook regisseur.
Lisa Bruwer ontmoet haar “ridder op sy wit perd”, maar dié romantiese held bring verwarring en ‘n klomp geheime uit die verlede met hom saam…

Marina Coetzee kan weer gehoor word saam met Pierre Breytenbach, Donoven Pietersen, Kevin Smith, Casper Lourens en Reginald Hufkie.

21 November

Robey Leibbrandt

Anton Treurnich het ‘n stukkie geskiedenis vasgevang in Die nagskuit kom wat handel oor die storm-en-drang- jare tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die verhaal van die kampioenbokser Robey Leibbrandt vorm die agtergrond van hierdie Weskusstorie.

Johan Rademan het die regie behartig met Deon Lotz, June van Merch, Jacques Bessenger, André Samuels, Stefan Vermaak en Estelle Grobler wat haar debuut in ‘n radiodrama maak op 21 November.

28 November

Mevrou Dominee moet besoekers uit die gemeente ontvang en onthaal. Riëtte Heslinga skryf uit inspirasie wat sy put deur fyn na mense te luister.

Lelia Etsebeth debuteer as regisseur en het die teks fyn ontleed en versorg om die klankryke wêreld van radioteater ten toon te stel.  Die stemme van Cindy Swanepoel, André Stolz, Doctor Khasu, Tobie Cronjé en Gretha Brazelle kan gehoor word.

5 Desember

RSG bied in dié seisoen ‘n spesiale radiodrama aan wat deur Innovation for the Blind in Worcester opgeneem is. Wysie oor die water is ‘n kortverhaal deur Albert Short. Die drama is opgeneem in die ateljees van Innovation for the Blind in Worcester deur die inwoners en personeel wat ‘n passie en aanvoeling vir radioteater het.

Die kortverhaal sal gevolg word deur ‘n argiefdrama uit 2011, Grensgeval deur Rita Swanepoel met regie deur Joanie Combrink. Die rolverdeling is  Roeline Daneel, Eben Genis, Waldemar Schultz, Wessel Pretorius en Susanne Beyers.

12 Desember

Mammie se voorhuis bied ‘n blik op die wel en wee van ‘n Kaapse ouerhuis waar die deure oopstaan vir almal om hulle bagasie te kom afpak. Erin Patience debuteer as skrywer met hierdie storie uit haar gemeenskap.
Die regie is behartig deur Denver Vraagom. Die rolverdeling is Zenobia Kloppers, René Cloete, Simoné Benjamin, Enrico Hatrzenberg, Sharfa du Plessis en Cole Wessels.

19 Desember

Dis Kersfees, die seisoen van welwillendheid, vrede en samesyn. Die ongebakte Alaska belig  daardie opwinding, vreugde en spanning oor die feestyd – veral as ‘n woonstel te klein is en die toilet te veel spoel.

Johanna Steyn skryf hierdie drama om ons almal te herinner dat die Kerstyd oor soveel meer gaan as vooropgestelde idees.
Hannah Borthwick, André Terblanche, Albert Maritz, Susanne Beyers en Conradie van Heerden kan gehoor word in die drama met regie deur Joanie Combrink op 19 Desember.

 

25 Desember

Op 25 Desember word ‘n spesiale Kersprogram gevolg met ‘n Kersdrama om 15:05. Die Ster van Bethlehem is ‘n verwerking deur Henriëtta Gryffenberg van die verhoogteks “Wagters op die mure” deur haar pa, Emil Gryffenberg. Die verhaal word vertel vanuit die oogpunt van ‘n jong, gestremde skaapwagter wat op die buitewyke van Bethlehem woon.

Die rolverdeling sluit jong, bekende en nuwe stemme in soos Hendré Henning (wat in die vervolgverhaal Op die oog af gehoor is), Charlie Bouguenon, Kaz McFadden, Duncan Johnson, Antowan Nothling en Rian Terblanche. Lizelle Pike maak haar buiging as Maria. Eddie de Jager is die regisseur.

26 Desember

Die seisoen sluit af met die argiefdrama Kysbriewe (Love Letters) deur A.R. Gurney.  Dié liefdesverhaal is vir die radio verwerk, vertaal en opgevoer deur Eben Cruywagen met Johann Nel, Juanita Swanepoel en Ronel Geldenhuys in die rolverdeling op 26 Desember.

Dit handel oor Andrew en Melissa wat vir sowat ses dekades lank vir mekaar briewe skryf. Dit is ‘n wipplank- en uitdagende verhouding wat veroorsaak dat hulle al hoe verder van mekaar wegdryf. Maar op papier blom die liefde steeds.

Luister elke Donderdagaand om 20:00 vanaf 3 Oktober. Ook beskikbaar op potgooi by rsg.co.za

Hou ook ons sosiale media platforms dop vir agter die skerms foto’s, videos en brokkies.

Die hele reeks radiodrama’s in ‘n neutedop:

UITSAAI-
DATUM
TITEL SKRYWER REGISSEUR
03 Okt
2024
Gelykheid en Broederskap & Ou Leeumelker
GB – Abel Coetzee & OL – JWF Grosskopf verw. Eben Cruywagen Ou Leeumelker: Juanita Velts Gelykheid en broederskap: Anrich Herbst
10 Okt
2024
Eendag in Alicante

Mari Snyman Mari Snyman
17 Okt
2024
Nag van die luiperd

Joe Kleinhans Estel de Beer
24 Okt
2024
Ikarus
Sophia van Taak Sophia van Taak
31 Okt
2024
Slag
Adriaan Havenga Ina Strydom
07 Nov
2024
Argief – Put sonder water

Bartho Smit Eben Cruywagen
14 Nov
2024
Soete wraak
Karen Wessels Karen Wessels
21 Nov
2024
Die nagskuit kom

Anton Treurnich Johan Rademan
28 Nov
2024
Mevrou Dominee
Riëtte Heslinga Lelia Etsebeth
05 Des
2024
Wysie oor die water

Argief: Grensgeval
Wysie oor die water: Albert Short

Grensgeval: Rita Swanepoel

Wysie oor die water: Innovation for the blind

Grensgeval: Joanie Combrink

12 Des
2024
Mammie se voorhuis
Erin Patience Denver Vraagom
19 Des
2024
Die ongebakte Alaska
Dr. Johanna Steyn Joanie Combrink
25 Des
2024
Die ster van Bethlehem

Henriëtta Gryffenberg Eddie de Jager
26 Des
2024
Argief: Kysbriewe

 A.R. Gurney verw. Eben Cruywagen Eben Cruywagen