Die Bergklub van SA


Luister Donderdagaand na die eerste dokumentêr van ons nuwe seisoen. Die Bergklub van Suid-Afrika is saamgestel deur Kobus Rudolph.

Agtergrond-inligting oor die Bergklub

Die Bergklub van Suid-Afrika is een van die oudste Bergklubs in die wêreld! Met 15 afdelings/takke regoor SA, waarvan een in Namibië is. Sowat 6000 lede wat passievol is oor die natuur, bewaring, ons berge, stap, klim, rotsklim, die buitelewe en die gewaagde vryklim – sonder enige beveiliging, mits jy dit sou wou doen.

Berg Soek en Redding en Gauteng Noodmediese Dienste – Naweekoefening

Wanneer jy gaan stap – hetsy op ‘n bekende voetslaanroete wat gemerk is, of op die Bergklub se private grond, maak beslis seker dat jy die noodnommers van die Bergklub het.

Hulle Soek en Reddingspanne is die mense wat dwarsoor die land verantwoordelik is vir Soek en Reddingsoperasies in die die berge, veld en afgeleë plekke. Daar is Soek en Reddingspanne in 5 van ons provinsies.

As jy gaan kamp, stap of klim, besoek hulle web: mcsa.org.za. Kliek op “activities” en dan ”Mountain Rescue”. Soek dan die naaste span in die area waar jy die probleem ondervind. Dis ‘n goeie idee om voor jou vertrek berge toe, reeds die nommer veilig te bêre!

Hetsy dit ‘n voet- of kniebesering is, ‘n meer ernstige val, vermiste stappers of klimmers, of ‘n vliegongeluk diep in die klowe – Soek en Redding van die Bergklub van S.A. saam met mediese noodorganisies en selfs die SAPD en SAW – dek die hele Suid-Afrika.  Hulle moet soms baie ver en in onherbergsame, onbereikbare  gebiede, beseerdes en pasiënte per draagbaar uitdra.

Gavin Ehlers : Voorsitter Magalies Bergklub (Pretoria tak)

Die Bergklub van SA se lede is die mense wat in ons berge kom. Deel van elke lid se taak o.a. is om die Bergklub se grond te patrolleer– vir oortreders soos stappers of klimmers wat onwettig kom kamp en bv. in bewaringsgebied kom ontspan.

Bykans elke naweek is daar spanne op verskeie plekke in die land ook besig om indringer plante en onkruid uit te roei.

Op sommige plekke word tussen 70 – 100 wildstrikke per naweek uitgehaal.  Natuurbewaring is een van die hoofdoelstellings van die Bergklub van SA.

Marié Badenhorst – Stapportefeulje. Hier in Visrivierskeurvallei.

Die Bergklub is ook intensief betrokke by die opleiding van ons plaaslike gemeenskappe. Soos Coenraad Rall van Magalies klub vertel, word kamp-en opleidingsnaweke vir minder-bevoorregtes gereël.

Gemeenskapsopleiding deur Magaliesbergklub

Die “studente” word blootgestel aan rotsklim, stap in die berge, kampeer en die buitelewe.  Die reaksie van die onervare kampeerders is net oorweldigend en positief.

Coenraad Rall – Gemeenskapsopleidng Drakensberg

Dan is daar die onbekende, (ek noem dit “stille”) avonturiers –  stappers en klimmers wat man/vrou alleen die uiterstes aandurf.  Bv. die “9 Pieke binne 7 dae” uitdaging, wat 3400 km per voertuig verg in 7 dae en 180 km se stap en 8400 meter klim se hoogtes. Soms is dit afgeleë, onbereikbare plekke, wat deur dié mense besoek word en “ontdek” word.

Elke jaar reik die Bergklub  ‘n joernaal uit – in 2023 reeds die 126ste uitgawe. Suid-Afrikaanse klimmers, stappers, eenman/vrou-ekspedisies en dié avontuursoekers beskryf hulle epiese klimme en togte wat hulle plaaslik sowel as oorsee aangedurf het. Absolute aangrypende, boeiende materiaal om te lees.

Elkeen van hierdie klublede is eintlik “ontdekkingsreisigers in ‘n moderne eeu!”. Dit is asof dit sommer so, onbekend, ongesiens, nie-noemenswaardig verbygaan!”.  Elkeen se verhaal en partykeer erge ontbering, behoort uitbasuin te word.

Dit is ‘n eer om met hierdie kundige mense te werk wat die buitelewe, die natuur en ons berge met respek en integriteit behandel.

Ek het die opnames met hierdie interessante, “normale”, “plat op die aarde” mense, baie, baie geniet!

Deelnemers aan die program :

Paul Carstensen – President van die Bergklub van S.A.

Peet Nel – 40 jaar lange lid, rots- & bergklimmer

Gavin Ehlers – Voorsitter Magaliesberg afdeling(Pretoria tak)

Marié Badenhorst – Stapportefeulje

Coenraad Rall – Gemeenskapsopleiding en ontwikkelling

Sarel Petrus – Ervare rotsklimmer en kenner

Liam Haupt – Junior rotsklimmer

Charnelle Stander – Soek en reddingkoordineerder – Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noord-wes

Peet Badenhorst – 20 jaar lid en by Stellenbosch afdeling

Franco Houy – Ysklimmer

Besoek mcsa.org.za vir meer inligting.

Vir meer inligting oor die ander dokumentêre in die nuwe seisoen, klik hier.

Ons nuwe dokumentêre seisoen: Deurkruis Suid-Afrika saam met ons