Nuwe oggend-boekvoorlesing speel in Kalahari af
Vanaf 17 Januarie 2025 kan luisteraars elke weeksoggend om kwart voor elf inskakel vir RSG se splinternuwe oggendboekvoorlesing, “So ook op die aarde” deur die bekroonde skrywer Betsie van Niekerk. Lizelle Pike is die leser.
Hierdie boeiende storie – oor ‘n Framse non en kaalvoetpriester in die Kalahari – in samewerking met Naledi, beloof om luisteraars mee te voer na die Kalahari se ruwe landskap en die diep menslike emosies van die karakters wat ons daar vind.
Oor die storie
In ‘n klein afgeleë gemeenskap in die Kalahari ontdek Leonie, ‘n jong Franse non, die komplekse wêreld van liefde, menswees en oorlewing.
Sy ontmoet die aantreklike kaalvoetpriester Vader Simon, die wyse Ouma Pop, oom Herklaas die hoofouderling, en ander kleurvolle karakters soos die streng Suster Agnes en die geheimsinnige koster. Hierdie verhaal bied ‘n ryk blik op die lewens van dié wat in ‘n uitdagende woestynwêreld moet floreer.
Oor die skrywer
Betsie van Niekerk, ‘n digter en bekroonde jeugverhaalskrywer, bring haar passie vir die veld en woorde na hierdie verhaal. Sy het grootgeword op ‘n plaas naby Clanwilliam en het die grootste deel van haar lewe in die Kalahari deurgebring, waar sy ook ‘n onderwyseres was vir Kalahari-kinders.
Haar werke sluit bekroonde jeugboeke soos Gamkab (1996) en Anderkind (2021) in, sowel as ‘n digbundel en ander kortverhale.
Betsie woon tans in Malmesbury en hou steeds haar liefde vir die Afrikaanse taal lewendig.
Betsie vertel graag waar die inspirasie vir die storie ontstaan het. “Ek het vir baie lank in die Noord-Kaap ( Upington) gewoon en is goed bekend met die Kalahari en sy mense. Op ‘n staptog langs die Oranjerivier ( Grootrivier) het ek het ook in aanraking gekom met die vriendelike nonne van Pella, ‘n klein Rooms-Katolieke sendingstasie. Toe ek begin oplees oor Pella se ontstaan, het ek afgekom op die aangrypende klein geskiedenis van ‘n jong Franse priester wat eiehandig ‘n katedraal in die semi-woestyn gebou het en vir 50 jaar dié afgeleë gemeentetjie (eers Kammasfontein) getrou gedien het. Sy persoonlike motto was: “Ek sal vashou en nie laat los nie”. Dit het my geïnspireer om “So ook op die aarde” te skryf.”
Die span agter die voorlesing
Die voorlesing word onder leiding van regisseur Johny Klein vervaardig, wat self ‘n diep verbintenis het met die Noord-Kaap. “Dit is vir my ‘n voorreg om die stories van my wêreld deur woorde en klank tot lewe te bring. Ek hoop dit sal luisteraars help om deel te wees van ons taal en kultuur,” sê hy.
“Dis vir my veral lekker om my eie wêreld (die Noord-Kaap) se stories te vertel en vir ander mense die prentjie te skep oor hoe dit daar lyk en wat die mense alles daar aanvang. Dit vat my altyd terug na my mense toe. Dit maak dat ek altyd deel voel van hulle. En hulle nooit vergeet nie. Veral omdat ek deesdae so min in die Noord-Kaap kom.”
Johny noem dat ‘n groot uitdaging die vrees is dat jy nie die storie uitbeeld soos die skrywer dit wil hê nie. Maar dat dit ook die geleentheid bied om jou talente te gebruik om net deur woorde en jou stem, ‘n hele storie vol prentjies vir mense te kan skep.
Die voorleser, Lizelle Pike, ‘n bekende in die vermaaklikheidsbedryf, noem hierdie projek haar “vuurdoop” as voorleser. Lizelle is bekend vir haar rolle in Musiek vir die Agtergrond, Stuur Groete aan Mannetjies Roux, Pretville en Bloedbroers. “Om met Johny Klein as regisseur en die roerende woorde van Betsie van Niekerk te werk, is ‘n voorreg wat ek met trots sal onthou,” sê sy. Lizelle is ook onlangs gehoor in RSG se Kersdrama, Ster van Bethlehem, waar sy die rol van Maria vertolk het.
Luister saam!
RSG nooi jou om saam te luister en RSG se Facebook en Instagram dop te hou vir meer inhoud oor hierdie en ander projekte.