Donderdagaand se dokumentêr: “Jamestown, ‘n stukkie paradys”
Haidee Muller-Isaacs reis op Donderdag 23 Janurie na die ander Jamestown – ook bekend as Webersvallei. Luisteraars leer ken die mense en kultuur van dié klein dorpie buite Stellenbosch
“Jamestown is ‘n hartsplek vir al sy inwoners – ‘n tuiste snoesig teen die hange van die Webersvallei, af tot by die Blaauwklippenrivier waar jy as kind ontelbare genotvolle somersdae in die koel waters deurgebring het.” (Uit voorwoord van die boek: Jamestown: ‘n Stukkie van die paradys).
James Rattray, ‘n plaaslike sakeman en die sendeling Jacob Weber word algemeen erken as die stigters van hierdie landelike dorpie, wat steeds sy Christelike karakter as stewige fondasie aan huidige en toekomstige geslagte bied. Die gebiedskomitee-belastingbetalersvereniging het die dorpie polities verenig.’’
Haidee het afgesit na Jamestown en daar die wonderlike stories gehoor van die oudste inwoners, van inkommers en ook van mense wat passievol is oor hierdie dorpie buite Stellenbosch. Baie van die dorpie se straatname is vernoem na aarbei-variëteite, na die hoofgewas wat sedert 1902 daar verbou is.
Jamestown, ook bekend as Webersvallei, is ‘n hegte gemeenskap wat ‘n ryk erfenis deel. Hierdie stil, semi-landelike voorstad aan die suidelike buitewyke van Stellenbosch het oor jare verander van ‘n bestaansboerderydorpie in ‘n hoofsaaklik residensiële gebied wat steeds verskeie aarbei- en groenteplase insluit, asook ‘n groeiende aantal besighede.
Die jaarlikse Jamestown Strawberry Festival is ‘n hoogtepunt op die Wes-Kaapse geleentheidskalender en lok duisende besoekers van regoor die provinsie. Hier ken almal mekaar se lief en leed. Dis ‘n plek van talentvolle mense wat bydra tot die dorpie se besondere karakter. Hier woon omgee-mense wat hard veg om hul dorpie, hul eie klein stukkie paradys, te beskerm met alle mag.
Haidee gesels met die oudste inwoners: Fred Jooste, Frederick Davidse en Alfred Christians.
Inkommers op die dorp wat ook gesels: sjef Bertus Basson en fliekmaker Rene Van Rooyen oor hoe dié besonderse dorpie in hul harte ingekruip het en natuurlik ook hoe lekker dit vir hulle is om hier te woon.
Hulle albei is baie betrokke by verskeie projekte op die dorp. René dien op die munisipale wykskomitee sowel as die Jamestown-gemeenskaptrust.
Dale Simons: medestigter van die Jamestown-gemeenskapstrust – hy is ‘n entrepreneur en besturende direkteur van die MiDO Groep.
Dale dien ook op die adviesraad van Casidra.
Kevin Phillips gesels oor Jamestown Sounds, ‘n gemeenskapsmusiekprojek. Hy is passievol oor musiekonderrig in Jamestown by die Weber Gedenk NGK Primêre Skool.