Nuwe musiekreeks oor die tjello, harp en kitaar begin Sondag
Van Sondag 2 Maart af, kan jy op RSG inskakel vir n splinternuwe musiekreeks – Die Wonder van die Snaar: die Tjello, Harp en Kitaar.
Elke Sondag tussen 2-uur en 3-uur gaan ons die merkwaardige instrumente van naderby bekyk, luister na die musici wat hulle so behendig speel en fokus op die komponiste wat vir die instrumente geskryf het.
Soos die titel aandui, kom die tjello eerste aan die beurt. Komposisies deur onder meer Elgar, Grieg, Bach en Dvorak kan gehoor word. Ons gaan in verwondering staan met die spel van tjelliste soos Jacqueline du Pre, Julian Lloyd Webber en YoYo Ma… met n paar verrassings tussenin!
Wanneer die harp aan die beurt kom, kom komposisies deur Mozart, Händel en Hindesmith ter sprake. Hulle musiek kry lewe danksy die spel van musici soos Helen McDonald, Marie-Pierre Langlamet en selfs die unieke Harpo Marx. In die episode kan jy selfs uitsien na tradisionele Keltiese, harp-gedrewe musiek.
Dan die kitaar. Die keuses was legio! Maar hier moet mens die Spanjaarde insluit. Komponiste soos Rodriguez, Villa-Lobos en Tarrega. Die spelers sluit in John Williams en selfs ons eie Lloyd Ross en CH2.
En die laaste twee episodes? Nee, wag. Dis n verrassing. Maar wat ek wel kan sê is dat luisteraars-versoeke wel ter sprake gaan kom!
Kom reis saam van Sondag 2 tot -30 Maart tussen 2-uur en 3-uur. Die Wonder van die Snaar: die Tjello, Harp en Kitaar.
Die herhaling kan gehoor word op n Saterdagoggend tussen 3-uur en 4-uur.