RSG en ATKV bied vanjaar 1e keer saam ‘n Kuierkol program by KKNK aan
Feesgangers na die KKNK kan vanjaar vir die eerste keer uitsien na ’n geskiedkundige geleentheid wanneer die ATKV en RSG gesamentlik die Kuierkol aanbied.
Die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) is waarskynlik Suid-Afrika se mees geliefde Afrikaanse familiefees, waar oud en jonk bymekaar kan kom om onder meer die Afrikaanse kunste, kultuur, toneel en musiek te vier en geniet.
Kuierkol: ATKV en RSG span saam by KKNK
Die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) is waarskynlik Suid-Afrika se mees geliefde Afrikaanse familiefees, waar oud en jonk bymekaar kan kom om onder meer die Afrikaanse kunste, kultuur, toneel en musiek te vier en geniet.
Feesgangers kan vanjaar vir die eerste keer uitsien na ’n geskiedkundige geleentheid wanneer die ATKV en RSG gesamentlik die Kuierkol aanbied.
Kom geniet ’n propvol program met regstreekse uitsendings, vermaak, speletjies vir oud en jonk, kinderpret, slypskole en musiekoptredes. Feesgangers word uitgenooi om RSG se gewilde omroepers te ontmoet terwyl hulle heerlike versnaperings rondom die Kuierkol kan geniet.
Volgens Amoré Swanepoel, bemarkingsbestuurder van RSG, gaan die Kuierkol ’n hoogtepunt by die KKNK wees.
“Dit is die eerste keer dat die ATKV en RSG ’n Kuierkol by die KKNK het en dit is ’n vennootskap waaroor ons baie opgewonde is,” sê sy.
“Ons werk al vir so ’n paar jaar saam met die ATKV aan die Radiodramaskryfkompetisie en ons het al hoe meer begin gesels oor sake wat ons gemeen het wat ons twee entiteite betref; die ooreenstemming in terme van ons teikengehore, ons liefde vir Afrikaans en sy mense en waar ons onsself oor ’n paar jaar sien. Alles het net eenvoudig so goed ooreengestem. Dit is ’n baie gemaklike vennootskap wat eenvoudig net lekker sal kan werk.”
Amoré beklemtoon dat die Kuierkol vir die hele gesin is.
“RSG is baie opgewonde om terug te wees by die KKNK, maar in ’n ander formaat as voorheen. Die Kuierkol bied waarlik iets vir elke lid van die gesin – en sommer net ’n lekker plekkie om jou moeë feesvoete te rus!”
Amoré sê daar is ’n wonderlike verskeidenheid geleenthede waarna gaste kan uitsien.
“Ons het daagliks ’n regstreekse uitsending van RSG-programme (Eloise Cupido en Martelize Brink), boekbesprekings, lewendige musiek, Bazoo en Tippie kom kuier, gesigverf, ’n blitskafee, radiodramawerkswinkels, ’n komedie-uur en soveel meer!”
Amoré sê RSG beoog om vir sy luisteraars vermaak op ’n vars en splinternuwe wyse aan te bied.
“Ons wil saam met ons luisteraars kuier en vir die res van die land ’n smakie van die KKNK gee, asook lekker verhoudings bou om Afrikaans as taal en kultuur sterker en nog lekkerder te maak!”
Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur, is net so opgewonde oor die ATKV en RSG se vennootskap.
“Dit is inderdaad die eerste keer dat die ATKV, RSG en die KKNK ’n Kuierkol aanbied. Oor die jare heen het die ATKV en RSG ’n verskeidenheid vennootskapprojekte aangebied. Die Kuierkol is ’n geleentheid wat nog ’n suksesverhaal sal afskop,” sê hy.
“Die ATKV heg groot waarde aan strategiese vennootskappe met diegene wat tot Afrikaans se voordeel dink, belê, werk en droom. Die ATKV en RSG het gedeelde waardes en strategiese doelwitte, wat ’n vennootskap soos dié baie spesiaal maak. Dié vennootskap is ’n uitvloeisel van projekte soos RSG en die ATKV se Radiodramakompetisie.
“Daar is geen ingangsfooie by die Kuierkol nie. Die ATKV, RSG en KKNK stel graag ’n lekker, gratis kuierruimte vir feesgangers beskikbaar om hul feeservaring te verryk.
“Dit is vir die ATKV en RSG kernbelangrik om vir alle Afrikaanssprekendes ’n vriendelike, kreatiewe en akkommoderende ruimte by die KKNK te skep en sosiale kohesie te bewerkstellig,” voeg hy by.
Die jongspan kan ’n draai maak vir gesigverf, saam met Tippie die olifant en Bazoo die vriendelike bergskilpad kuier en ’n liefde vir lees kom koester.
Oom Karoolus en Lente is ook daar om saam met die maatjies te sing en dans.
Daar word daaglikse pryse soos wonderlike leesboeke en die ATKV se eie Meer bek as binnegoed-bordspeletjie weggegee.
Besoekers aan die Kuierkol staan ook die kans om ’n midweek-blaaskans vir vier persone by ’n ATKV-oord van hul keuse te wen.
Nog meer om na uit te sien
Estel de Beer, senior regisseur: mandaat drama en opvoedkunde van RSG, sal onder meer ’n Radiodrama-blitswerkswinkel op Dinsdag 1 April aanbied. Tydens hierdie werkswinkel kan daar uitgesien word na ’n bespreking oor hoe ’n radiodrama werk en hoe om ’n toneel met klank te skep. Estel sal ook gesels oor stemspeluitdagings en klankeffekte-orkeste.
’n Skryfwerkswinkel sal ook op 3 April aangebied word. Tydens hierdie werkswinkel sal daar bespreek word hoe die skryf van ’n radiodrama verskil van ander mediums, hoe karakters geskep word, wat belangrik is met betrekking tot dialoog en wat die struikelblokke vir nuwe skrywers is.
Verder kan besoekers op Vrydag 4 April uitsien na ’n boekbespreking met Eben Pienaar oor Afrikaanse boeke in 2025. Hierdie insiggewende bespreking sal handel oor waarna uitgewers kyk, watter genres topverkopers is en waarna die lesersgehoor op soek is.
Op 2 April sal ’n boekbespreking met Chareldine van der Merwe (projekorganiseerder van die Vriende van Afrikaans) en Schoemé Steenkamp (programkoördineerder van kinderteater by die KKNK) ook kinderstories en die belang daarvan onder die loep neem.
Die nimlike Antoinette Pienaar neem ook op 4 April aan ’n boekbespreking deel, terwyl nog ’n boekbespreking met skrywer Hannes Visser op Sondag 6 April plaasvind.
Jak de Priester, Petronel Baard, Selby Williams, Yaaseen Barnes en vele meer is van die kunstenaars wat by RSG en die ATKV se Kuierkol gaan optree. Jerome Rex en Taalgenoot-RUK EN RYM se Floris Voges gaan ook in aksie wees.
Die Kuierkol-program bied iets vir die hele gesin.