29ste RSG-Radiodramaskryfkompetisie aangekondig


RSG bied met trots die 29ste RSG-Radiodramaskryfkompetisie aan. Tydens die kompetisie kry skrywers die geleentheid om hul hand te waag aan ‘n radiodrama. Talle van RSG se gesoute skrywers het heel eerste pen op papier gewaag toe hulle vir die RSG-Radiodramaskryfkompetisie ingeskryf het.

Die kompetisie is uniek omdat dit aan skrywers gratis hulpbronne verskaf. RSG is ook opgewonde dat daar weer in 2025 in samewerking met die ATKV gratis slypskole in Johannesburg en Kaapstad aangebied word. Deelnemers sal ook die opname van ’n kort radiodrama kan bywoon en kenners sal die fynere kunsies van radiodrama deel.

Die totale prysgeld is vanjaar R115 000. Die algehele wenner ontvang R50 000, die naaswenner R25 000 en die drama wat die derde plek beklee kry R15 000.  Die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) sal ook R15 000 ontvang. ‘n Bykomende merieteprys van R10 000 word toegeken aan ‘n drama wat deur die beoordelaars gekies word uit die finaliste wat nie vir die vier topposisies kwalifiseer nie.

Buiten die prysgeld word die wendramas ook in 2026 op RSG uitgesaai.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 31 Julie 2025. Inskrywings kan slegs aanlyn ingedien word.

Sonél Brits

RSG is opgewonde om hierdie jaar die gesogte kompetisie saam met die ATKV aan te bied. “Die ATKV is trots om die 29ste RSG-Radiodramaskryfkompetisie te ondersteun. Om in mense se lewens te belê deur geleenthede in hul moedertaal te skep, is ons grootste vreugde en ons belangrikste plig”, sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW.

Die ATKV glo dat hierdie kompetisie ’n nuwe geslag radiodramaskrywers skep en só bou aan die relevansie van radioteater. Brits voeg by dat kompetisies soos hierdie ’n bydrae lewer tot ons taal se groei en vooruitgang.

Die ATKV is opgewonde oor die nuwe seisoen en ook oor radiodramas se voetspoor wat vergroot word danksy digitale en sosialemediaplatforms.

Marion Erskine by Clare Clark Photography 9

Marion Erskine is in 2024 as die algehele wenner aangewys en sê dat “daar min dinge so betowerend vir ’n skrywer is as om te hoor hoe hul woorde tot lewe kom.”

Volgens hom skep ‘n skrywer ’n storie uit ‘n gewone idee, en dan kom ’n regisseur, talentvolle akteurs en klankkunstenaars saam om dit met hul unieke sprankel te omskep in iets groot. Die woorde op wit papier, word ’n werklikheid. Dit word ’n storie wat voel, asemhaal en mense raak.

Die basiese riglyn vir die kompetisie is as volg:

  • Daar is geen voorgeskrewe tema nie.
  • Inskrywings  moet nuwe en oorspronklike radiodramas wees. Geen verwerkings van bestaande materiaal of verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.
  • Die volle spektrum van Afrikaans se variëteite kan gebruik word.
  • Slegs een inskrywing per persoon word toegelaat.
  • Die duur van die dramas moet tussen 40 en 50 minute wees.
  • Die dokument kan ‘n maksimum van 45 A4-bladsye wees wat volgens die wedstrydreëls getik is.
  • ‘n Maksimum van sewe karakters word toegelaat.

‘n Volledige handleiding, die reëls en inligting rakende die slypskole, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Besoek RSG se webblad by rsg.co.za vir besonderhede oor die kompetisie.

Hier is die skakels na die nodige inligting:

Kompetisie inskrywing: https://forms.gle/11n1BcXMoqitY51g6

Registreer hier vir die slypskool: https://forms.gle/hcig775UUfQ6jjtE8

Slypskool inligting_RSG radiodramaskryfkompetisie 2025

Reels 2025

RSG Radiodramahandleiding 2025

Handleiding en skryfwenke_Eben Cruywagen_RSG Radiodramaskryfkompetisie 2025

Vir meer inligting, kontak Estel de Beer Senior Regisseur Mandaat: Drama en Opvoedkunde.
E-pos: estel@rsg.co.za