Donderdagaand: Die Kleur van Lakens
Die kleur van lakens is ‘n dokumentêr deur Tharien Oosthuizen.
In die dokumentêr fokus Tharien op die werk van ‘n trauma berader en kuier sy by Rian Steenkamp in die ongevalle, waar hy vertel hoe vinnig ‘n lewe verloor kan word as daar nie vinnig opgetree word nie.
Tharien skryf die volgende oor die dokumentêr:
Daar is nie ‘n enkele mens wat nie geraak word deur trauma nie. Of dit nou trauma is van iemand naby jou wat erg seer gekry het en of dit trauma is omdat jy iemand aan die dood afgestaan het nie.
Dit is nie net die familie wat om die bed in ‘n trauma eenheid staan wat hierdie angstigheid beleef nie. Die pasiënt wat die besering opgedoen het, beleef op sy of haar eie manier ook trauma.
In die afgelope paar jaar het Netcare die besluit geneem om gebruik te maak van trauma beraders, nie net vir die pasiënt nie, maar ook vir hulle personeel.
Persone wat trauma beleef is bang, onseker en het ondersteuning nodig om hulle deur hierdie donker tyd te neem. Dit is hier waar trauma beraders ‘n baie belangrike rol speel. Hulle is die spreekbuis tussen die familie, die pasiënt en die trauma chirurg.
In die Netcare fasiliteit, Milpark Hospitaal, is daar ‘n spesiale trauma eenheid, wat die Trauma Resus afdeling genoem word.
Ernstige gevalle, wat nie by ander hospitale hanteer kan word nie, word in hierdie afdeling hanteer. Die trauma chirurge wat hier werk, is nie net betrokke by die private hospitaal nie, maar werk ook in staatshospitale.
Die Netcare hospitaal maak dan gebruik van trauma beraders om hulle by te staan. Die nood vir hierdie tipe hulp het veral begin ontstaan na 2020, toe ons gekonfronteer was met Covid.
Daarom dat die Trauma Resus fasiliteit nie net die vinnigste X-straal-masjien het nie, maar ook so ingerig is dat ‘n pasiënt se bors onmiddellik daar in die eenheid opgemaak kan word om die hart te masseer.
Rian Steenkamp, traumaberader in die ongevalle eenheid, vertel hoe vinnig ‘n lewe verloor kan word as daar nie vinnig opgetree word nie.
Ek gesels ook met mense wie se pad met Rian Steenkamp, die trauma berader, gekruis het en hoeveel dit vir hulle beteken het dat hy hulle kon gerusstel of net kon bystaan in daardie oomblikke van onsekerheid en angs.
Rian Steenkamp vertel ook oor hoe hy aangeraak word deur elkeen wat oor sy pad kom en wat hy doen om aan homself te werk, want jy kan nie apaties staan teenoor die persoon op die bed wat besig is om te veg vir sy of haar lewe nie.
In die onderhoud vertel Rian Steenkamp dat trauma ‘n „gelykmaker“ is – wie jy ook al is, ‘n eienaar van ‘n florerende besigheid of iemand wat nie eers ‘n dak oor die kop het nie, of jy in ‘n privaat hospitaal se trauma eenheid is of in ‘n staatshospitaal se trauma eenheid, as jy op daardie bed lê is almal dieselfde – afhanklik van die hande wat jou lewe probeer red en die berader wat jou hand vashou.