Nuwe oggendboekvoorlesing: “Die Fantastiese Mevrou Smit”
Vanaf Woensdag 24 April nooi RSG jou om in te skakel vir die splinternuwe oggendboekvoorlesing Die Fantastiese Mevrou Smit deur Elizabeth Wasserman, weeksdae om 10:45.
Wie is Mevrou Smit?
Sy is nie sommer net ’n gewone tannie op die platteland nie. Mevrou Smit is ’n vrou met ’n verlede, een wat sy nie self gekies het nie, en ’n vurige begeerte om weer van voor af te begin. Sy was nog altyd ’n oorlewende, maar nou waag sy dit om regtig te leef: om haar humeur te verloor, haar eetlus te volg, en uiteindelik haar hart oop te maak. En ja, daar’s dalk ’n moord of twee om op te los… maar dis haar plek in die gemeenskap en haar pad na aanvaarding wat die hart van die storie vorm.
Oor die skrywer
Elizabeth Wasserman is ’n bekende stem in die Afrikaanse letterkunde. Sy is bekend vir haar karaktergedrewe verhale en spitsvondige styl. Met Die Fantastiese Mevrou Smit bring sy vir ons ’n storie wat lig, donker, snaaks en diep menslik is.
Die voorleser: Susanne Beyers
Die voorleser, Susanne Beyers, is ’n geliefde stem op RSG. Sy het reeds as tiener in radioverhale begin speel en is steeds gereeld betrokke by kunsprogramme wat in die Kaapse ateljee opgeneem word. Jy hoor haar veral op Vers en Klank, Kortom of as ’n karakter in ’n radiodrama.
Dié ikoon van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld het in die 1980’s bekendheid verwerf as Annette (Sloet Steenkamp se vrou) in die legendariese reeks Arende. Onder die meer onlangse produksies op haar kerfstok tel Sarah se Geheim, Fynskrif, Dinge van ’n Kind en Een keer om die son, waarin sy die rol van Salie Wessels vertolk.
Susanne beskryf haarself as ’n “gulsige” leser wat een boek na die ander kafdraf. Die Fantastiese Mevrou Smit is een van die gunstelinge wat sy die afgelope tyd gelees het, en sy geniet dit gate uit om so ’n “wye spektrum van karakters te kan vertolk” – van die vurige Mevrou Smit tot die temerige tannie Annatjie en die slinkse joernalis, Dario Farini.
“Dis ’n héérlike verhaal! En ek hoop dat die luisteraars net so baie genot daaruit sal put as wat ons tydens die opnames gehad het!”
Susanne is tans op die silwerdoek te sien as die flambojante Mienkie in die komedie Die Kwiksilwers.
Die reeks is onder regie van die talentvolle Sophia van Taak
Skakel elke weeksoggend om 10:45 in op RSG en ontmoet Die Fantastiese Mevrou Smit – sy gaan jou dag ophelder!