Luister Donderdagaand na ons wendrama “Konneksie”


Marion Erskine se Konneksie is die wendrama van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

Skakel in Donderdagaand 1 Mei om 8 uur op RSG of rsg.co.za, ook beskikbaar as potgooi en op Spotify.

Die storie

Verbeel jou jy is in 2050 waar Kunsmatige Intelligensie tot jou voordeel… of nadeel kan strek.

Dawid le Roux (Anrich Herbst) is ‘n rekenaarprogrammeerder in die jaar 2050. Hy is nie te vinde vir te veel geselskap nie, en is tevrede net met Amanda. Dawid word egter gekonfronteer met die kunsmatige wêreld wat hy vir homself skep. Verkies jy eerder ʼn kantoor vol mense en ‘n lewensmaat of beheerde eensaamheid? ‘n Wêreld van tegnologie het voordele, maar ook uitdagings. Die stryd tussen mens en masjien is nog lank nie verby nie.

Die akteurs

Agter vlnr: June van Merch, Johan Rademan, Anrich Herbst, Ilne Fourie en Deon Lotz. Middel: Denver Vraagom. Voor: Karli Heine en Sharfa du Plessis -1.jpg

Deon Lotz, Sharfa du Plessis, Anrich Herbst, Denver Vraagom, Ilne Fourie, Karli Heine en June van Merch sal jou vasgenael voor die radio hou met al die vrae en antwoorde. Met regie deur Johan Rademan beloof die drama om jou by jou radio te hou.

Van die skrywer – Marion Erskine

Marion Erskine by Clare Clark Photography 9

In 2024 het ek met groot belangstelling die Hollywood-staking dopgehou. Dit het my laat nadink oor hoe Kunsmatige Intelligensie wêreldwyd gereguleer gaan word—spesifiek in Suid-Afrika. Die vinnige vooruitgang van KI roep ’n belangrike vraag op: Wat as ons dit nie reg beheer nie? Hoe gaan dit ons lewens beïnvloed? En wat doen ons as ons reeds te laat is?

Ek was nog altyd geboei deur stories oor tegnologie en die menslike ervaring. Klassieke werke soos 2001: A Space Odyssey en die film Her het my gefassineer met hul spekulasies oor die toekoms van KI en menslike interaksie daarmee. Ek geniet dit om spanningsvolle radiodramas te skryf en wou luisteraars op ’n avontuur neem—een wat nie net opwindend is nie, maar ook relevant vir die wêreld waarin ons leef.

Met Konneksie vra ek: Wat gebeur as ons grense tussen mens en masjien begin vervaag? En watter gevolge wag as ons nie betyds beheer neem nie?

Anrich Herbst, Ilne Fourie en Deon Lotz