‘Bokkoms vir brêkvis’, ons nuwe vervolgverhaal deur Ilne Fourie, begin Woensdag
Wanneer twee uiteenlopende families saam gaan kampeer is dit ‘n resep vir misverstande, skaterlag oomblikke, verskille, geite en grille en wie weet wat nog alles!
Stel jouself voor – ‘n twee weke-lange kampvakansie saam met ‘n skoonma wat jou nie kan verduur nie, ‘n skoonpa wat alles uit ‘n koffiebeker drink en ‘n tweemantent wat stywer span as ‘n spiertier se wessie.
Ilne Fourie se pittige komedie is so goed soos ‘n vakansie.
Ons hoofkarakters, Henk en Ansie, besluit om skelm die knoop deur te haak en net ‘n paar naby vriende te nooi vir hulle vreugdevolle dag, juis om familiedrama te voorkom. Om hulle gewete te sus nooi hulle hulle ouers saam op ‘n tweede wittebrood na Pikkewyn Park want miskien is ‘n ken-mekaar-kamp net die regte ding.
Bokkoms vir Brêkvis word uitgesaai vanaf 11 Desember, weeksdae om 14:45. Luister gerus aanlyn by rsg.co.za of laai die potgooi af as deel van jou vakansievermaak. Jy hoef nie te wag tot die vakansie om tentpenne in te slaan nie, want hierdie uitstappie is gratis en daar is altyd plek vir nog een passasier in hierdie karavaankaperjol in Pikkewyn Park.
Dit is opgevoer deur Karen Wessels met Magda van Biljon, Anton Dekker, Bertha le Roux Wahl, Deon Coetzee, Kaz Mcfadden, Lelia Etsebeth en Luan Jacobs in die rolverdeling.
Pikkewyn Park: ons haal die RAMP uit KAMP!
Verhaalgegewe
Henk du Toit (Kaz McFadden) en Ansie Louw (Lelia Etsebeth) is universiteitsliefdes. Henk kom uit ‘n welgestelde familie gesetel in Centurion en Ansie, is ‘n gebore en getoë Weskusser. Dit is juis Ansie se onopgesmukte en plat-op-die-aarde persoonlikheid waarop Henk du Toit sy hart verloor. Henk se pa Dries du Toit (Deon Coetzee) is ‘n gesiene prokureur van Pretoria en Henk se ma Suzette du Toit (Bertha Wahl) is natuurlik MEVROU prokureur. Sy is ook die leier van hul Boekklub en Voorsitter van die BLH (Bekamp Ledige Huisvroue) klub.
Ansie se ouers Dollie Louw (Anton Dekker) en Toontjies Louw (Magda van Biljon) besit ‘n viswinkel (SNOEK EN HOEK) aan die Weskus, waar hulle vis en skyfies asook visvanggereedskap en visstokke verkoop – twee visse met een klap.
Henk weet dat sy ouers (veral sy ma) nog altyd gekant was teen die verhouding. Suzette glo vas haar seun verdien beter, maar Henk weet Ansie is die liefde van sy lewe.
Henk besluit om haar sommer uit die bloute te vra om te trou, voor sy koue voete kry, maar ook voor sy ma snuf in die neus kry. Hulle vier hulle troudag slegs saam met ‘n paar vriende sonder hulle ouers se medewete.
Ansie voel skuldig oor die skelm trouery en Henk besluit dat dit ‘n goeie idee sal wees as hulle albei hul ouers wegneem vir ‘n skoonfamilie-vakansie. Een ding wat Ansie by haar pa geleer het is: Wanneer jy kamp kom jou ware kleure uit.
Henk besluit dat die hele familie moet gaan uitspan by Pikkewyn Park – ons haal die “ramp” uit kamp, ‘n klein en eenvoudige karavaanpark wat Henk en Ansie op hul wittebrood ontdek het.
Die park word bestuur deur Pikkie Pienaar (Luan Jacobs), ‘n regte Jantoet – was hy beter, dan was hy goed. Pikkie Pienaar bestuur net die karavaanpark, want vir hom is dit ‘n gratis vakansie.
Saam besluit Henk en Ansie dat hierdie ‘n gulde geleentheid sal wees vir hul ouers om mekaar beter te leer ken en sodoende ‘n hegte vriendskap te smee.
Die skrywer – Ilne Fourie
Ilne Fourie is gebore in Kuruman, maar het op 3-jarige ouderdom verhuis, groot geword en gematrikuleer in haar tuisdorp, Middelburg Oos-Kaap. Sy is reeds op skool ‘n ontluikende skrywer en publiseer haar eerste gedig op 16 jarige ouderdom in ‘n digbundel vir aspirante jong skrywers en tieners. Sy is ook ‘n gereelde uitblinker en presteerder tydens die Afrikaans Ekspo.
Fourie voltooi haar dramagraad aan die Universiteit van die Vrystaat, en dit is ook hier waar sy haar nagraadse studies fokus op vertaling, teksversorging en kreatiewe skryfkuns.
Sy is bekend vir haar komiese eenvrouvertonings, maar sy ontwikkel en skep ook jaarliks toneelstukke vir skole landswyd asook monoloë vir die gewilde ATKV Digitoneel kompetisie.
Stukke op haar kerfstok is Sjarrap, en eet jou kos! Laerskool Noord, Ken jy vir Dewie? Verkleurvroutjie, en natuurlik die-hoe-se-wie-se-wat-nou-weer, spesiaal geskryf vir die geliefde akteurspaar, Elize Cawood en Wilson Dunster.
Fourie word in 2024 genomineer vir ‘n Kanna onder die afdeling, vir uitnemende literêre bydrae, vir haar jeugdrama Ken jy vir Dewie?
Ek is ‘n Karoo-kind.
Ek dink dit is daar waar ek my liefde vir skryf en storiesvertel gevind, en deur die jare geskaaf het. Plattelandse mense is anders. Jy leer om regtig na mekaar te luister, want hulle raak familie, hulle deel alles – resepte, lief en leed, selfs ‘n goeie pak slae as jou ma nie tuis is nie. Jy leer daar om werklik die mens voor jou raak te kan sien in alle aspekte van hul lewens. Daar staan tyd stil.
Die idee van Bokkoms vir Brêkvis het onstaan nadat ek laas jaar by Tietiesbaai gaan kamp het. Die kampkultuur sorg natuurlik vir aardse stories en skreeusnaakse scenarios! Die Weskussers is vir my soos die Karoo se mense, hulle het net ‘n see, wat ons nie gehad het nie.
Kraakeerlik, geen pretensie, sout van die aarde.
Tydens my skryfproses het ek een oggend die yskas oopgemaak en gedink, wat gaan ek eet vir ontbyt? My yskas was leeg, maar doer in die hoekie het nog ‘n pakkie Tietiesbaai-bokkoms gelê en ek het gedink: “Bokkoms vir Brêkvis?” En net daar en dan het ek die titel gekry vir seker van die lekkerste en kosbaarste karakters en storie wat ek nog ooit geskep het!
Hier is die eerste episodes indien jy dit misgeloop het:
BOKKOMS VIR BRÊKVIS deur Ilne Fourie – Episode 1
Henk en Ansie du Toit is pas terug van hul drie weke lange wittebrood by Pikkewyn Park. Ongelukkig brand die huweliksvure nie lank nie toe hulle besef dit was ‘n reusefout om nie hulle ouers na die troue te nooi nie. Vinnig word beskuldigings rondgeslinger oor wie se ouers die ergste is. Henk kom met ‘n briljante plan na vore om te red wat daar te redde is. ‘n Tweede wittebrood saam met hulle ouers – ‘n skoonfamilievakansie om almal mekaar beter te leer ken. Ansie stem in, op een voorwaarde…
BOKKOMS VIR BRÊKVIS deur Ilne Fourie – Episode 2
Henk en Ansie daag op by Henk se ouerhuis om die nuus te breek dat hulle die vakansie getroud is. Henk se ma, Suzette, maak sommer met die intrapslag geen geheim daarvan dat sy nie dink Ansie is troumateriaal nie, en noem haar gereeld “per ongeluk” Henk se eks-meisie se naam. Dan is daar ook Liefie, Suzette se liefling pug, wat ‘n swak blaas het, en Ansie se nuwe tekkies gebruik as ‘n grasperk. Henk besef vinnig dat hy nie die boodskapper wil wees van hierdie ongemaklike nuusbom nie, en hy gooi jakkalsdraaie in ‘n hoenderhok. Iemand beland in die “dog box”, en dit is beslis nie Liefie nie.
BOKKOMS VIR BRÊKVIS deur Ilne Fourie – Episode 3
Die twee vroue in arme Henk du Toit se lewe, se gemoedere loop hoog. Suzette is steeds gekrenk deur die feit dat sy nie na haar enigste seun se troue genooi is nie, en Ansie is woedend oor Henk se matriekafskeidfoto saam met sy eks wat steeds teen die spaarkamer se muur pryk. Ná ‘n misverstand oor enkels, gene, dik bene en ‘n luukse vakansie op ’n eiland, lê Henk streng reëls neer wat sy ma moet nakom. Suzette stem in om te gaan kampeer op haar voorwaardes. Maar dan kom daar nog nuus – daar sal nog twee buitengewone gaste by hulle aansluit…
BOKKOMS VIR BRÊKVIS deur Ilne Fourie – Episode 4
Suzette het ‘n ernstige gesprek met Henk. Sy spreek dadelik haar kommer uit hoekom sy dink dat Ansie en haar familie nie van hulle dam se ganse is nie. Henk is seergemaak, en verduidelik aan sy ma dat as Ansie nie welkom is nie, is hy ook nie. Suzette moet ‘n belangrike besluit neem – sal sy Ansie verdra, en so haar verhouding met haar liefingseun behou, of sal sy vasskop en haar sin probeer kry? ‘n Interessante telefoongesprek laat haar tog van plan verander. Miskien is ‘n tweede wittebrood net die regte medisyne vir skoonfamiliepyne.