Luister weer: As twee saam loop : Carel Trichardt en Petru Wessels


Luister weer na As twee saam loop word. Dié dokumentêr is saamgestel en word aangebied deur Ina Strydom.

Carel en Petru is al baie male vereer.

In die dokumentêr As twee saam loop, val die fokus op enkele aspekte van hulle lewe en loopbaan – enkele krale in die halssnoer van Petru en Carel se lewens.  Hulle vertel wat nodig is om só lank in die moeilike teaterbedryf met mekaar getroud te bly; hulle praat oor die belangrikheid van stories en hoe hulle oor die ouderdom voel; hulle noem enkele hoogtepunte; en hulle vertel waarom “the show must go on”…

 

Ina skryf:

‘Dit is ‘n onbegonne taak om die lewens en werk van dié ikoniese teaterpaar in die bestek van ‘n enkele program van 25 minute te vervat.

Hulle is immers ses dekades in die bedryf, en ook ses dekades met mekaar getroud.

Hulle het vir die kunsterade gewerk, die begindae van televisie beleef, in rolprente gespeel en radiowerk gedoen.

Op hul troudag

Tussendeur het hulle drie kinders grootgemaak, en Carel vas die hoof van die Dramadepartement by die Universiteit van Pretoria.

Vir albei hou die verhoog ‘n besondere plek in hulle harte, maar was ewe toegewyd aan elke rol wat hulle vertolk het – ongeag die medium. Hulle sê ook dat daar in elke medium die uitdagings én die voordele is.

Carel en Petru met hul nuwe aankomeling

Sowel Carel as Petru het klassieke rolle op die verhoog vertolk, en in die radioargief is  daar ook vele opnames van klassieke werke wat vir die Afrikaanse radiodiens, RSG se voorganger, opgevoer is.

Om maar enkeles te noem:  Hendrik Ibsen se Hedda Gabler; Speelgoed van Glas van Tennesee Williams, Die Pluimsaad waai ver, van NP van Wyk Louw, en Die Orkaan, ‘n Afrikaanse vertaling  van Shakespeare se The Tempest.

Daar is ook talle, talle rolprente en televisieproduksies; en hulle was en is steeds, gewilde voorlesers van poësie en prosa.’

Die akteurspaar het in talle radiodrams gespeel. 26 Junie 2018. Waar is Tomas? se rolverdeling – Van links is Jumaine Hansen, Dean Balie, Frieda van den Heever, André Weideman, Lise-Marie Richardson, Carel Trichardt en Petru Wessels. Voor is Tarryn Wijngaard, Margot Luyt (regisseur) en Cassi Lowers (tegniese en akoestiese regisseur).