Donderdagaand: Herbesoek van die Zephany Nurse verhaal


Luister Donderdagaand net na agtuur na die verhaal van Zephany Nurse, ‘n dokumentêr saamgestel deur Heindrich Wyngaard.

Heindrich skryf:

Heinrich Wyngaardt

Om die Zephany Nurse-verhaal ná soveel jare te herbesoek en vir RSG se luisteraars te verpak, was ‘n absolute wonderlike ervaring – spesifiek omdat ek reeds van 2015 met die verhaal aankom.

Selfs al kon ek nie die ontvoering in 1997 van klein Zephany, toe net drie dae oud, onthou nie, het ek met haar ongelooflike hereniging met haar biologiese ouers in 2015 onmiddellik die omvang daarvan besef. Dit was oor die mengelmoes van menslike emosies wat ter sprake was: Trane, hartseer en blydskap; ongeloof; veroordeling en vergifnis; en empatie.

Ses maande later het Johan Coetzee by Naledi my boek “A Home for Zephany” uitgegee (en dit in 2016 en 2017 herdruk). Hiervoor het ek al wat ‘n nuusberig, radio-opname en beeldmateriaal oor die gebeure sedert 1997 gelees, na geluister en gekyk om die legkaart saam te stel. Ek het ook die hofsaak bygewoon en was daar toe Levona Solomon tot tien jaar tronkstraf gevonnis is vir die ontvoering van haar grootmaakkind.

Oor die jare het ek ook naby aan die storie gebly deur my persoonlike kontak met Zephany, wat steeds haar doopnaam Miché gebruik, afgelei van haar grootmaakpa, Michael se naam. Dit sou ewe maklik, as ‘n mens nou daaraan dink, ook van haar biologiese pa, Morné se naam afgelei kon wees – of selfs ‘n samevoeging van die twee pa’s se name.

‘n Mens kon jouself nie ‘n mooier gebaar voorstel toe sy met haar troue met Jayson Sheldon in Maart verlede jaar albei haar pa’s gevra het om haar na die kansel te vergesel nie: Michael die eerste deel, Morné die tweede.

Ongelukkig het ek nie vir die dokumentêr met die Nurse-familie in aanraking kon kom nie. Levona Solomon mag natuurlik ingevolge haar paroolvoorwaardes nie self praat nie en Michael het my versoek vir ‘n onderhoud vriendelik van die hand gewys. Hy het ook nuwe liefde gevind.

Wat ‘n mens egter agterkom, is dat Miché se verhouding met haar biologiese ouers nog skaafwerk vereis en die band met Levona is ook nog nie herstel nie. Soos Michael, het Miché egter vir lank ondersteunend teenoor Levona opgetree – totdat sy vir haar paroolaansoek ‘n bekentenis gemaak het dat sy wel die kind gesteel het. Nou bring sy haar dae by die huis in Gladiolastraat in Seawinds, Lavender Hill, in die afwesigheid van haar vervreemde man … en vervreemde grootmaakdogter.

Miskien vertel sy op ‘n dag haar eie verhaal; en ek sal voor in die ry staan om dit op te teken.