Nóg ‘n pryswennerdrama Donderdagaand: Luister na ‘Lyne wat kruis’
Skakel Donderdagaand 17 April om 8 uur in op RSG of rsg.co.za of op potgooi.
*Die drama bevat inhoud wat sensitiewe luisteraars kan ontstel.
Die storie
Janine is 19, vol twyfel en vars in die grootmenswêreld. Haar eerste werk – ’n oproepsentrum vir ’n versekeringsmaatskappy – voel eerder soos ’n daaglikse toets wat sy net nie kan slaag nie. Twee maande in en sy het nog nie ’n enkele polis verkoop nie.
Van die skrywer Wilmi Wheeler
Een van die belangrikste lesse wat ek in 2019 by die RSG Slypskool geleer het, is om te skryf oor iets wat jy ken. Nie net omdat dit geloofwaardigheid gee nie, maar omdat jy dan die klein besonderhede kan vasvang wat ’n storie eg laat voel.
Ná universiteit het ek vir ’n rukkie by ’n oproepsentrum gewerk. So, ek weet hoe dit voel om ’n kopstuk aan te sit en met ’n onnatuurlike opgewekte stem mense te probeer oortuig om iets te koop wat hulle glad nie wou hê nie. Ek weet hoe kollegas in hierdie kantore mekaar bemoedig en saam hul oë rol vir moeilike kliënte. Ek ken daardie mure met opgeplakte motivational quotes en rympies wat niemand eintlik inspireer nie.
Maar net omdat ek oor iets skryf wat ek ken, beteken dit nie ek hou dit vervelig en alledaags nie. Ek hou daarvan om dit met ’n ekstreme scenario te kombineer – om te vra: Wat is iets dramaties wat in hierdie situasie kan gebeur? En dan vat my verbeelding dit verder.
In hierdie geval het ek begin met ‘n konsep waarmee baie mense sal kan vereenselwig: ’n jongmens wat sukkel om by haar eerste werk aan te pas. Maar wat as, in haar desperate poging om suksesvol te wees, haar telefoonlyn kruis met iemand anders s’n en sy in ‘n heel ander wêreld getrek word? Wat as ’n gewone verkoopsoproep haar in ’n situasie plaas waarvoor sy glad nie voorbereid is nie? En wat as dit nie net haar werk raak nie, maar haar hele lewe verander?
En dit is toe hoe Lyne wat kruis gebore is…
Die regisseur en akteurs
Die regisseur, Pietie Beyers, het musiek gaan vind vanuit die uithoeke van ons bestaan, om aan te sluit by Wheeler se kragtige teks, ‘n ongelooflike ensemble en die puik tegniese span. Beleef hierdie uur van betekenis. Dit is Lyne wat kruis.
Met Izel Bezuidenhout, Heidi Mollentze, Erin Patience, Johny Klein en Rian Terblanche.