Donderdagaand: Naaswenner se “Leniesgif’


Luister Donderdagaand 24 April om 8 uur na Leniesgif deur Hendie Grobbelaar, die naaswenner van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

Die storie

Wat het ‘n skrywer, ‘n skat en ‘n pratende hond gemeen?

Benjamin de Kai is ʼn uitgebrande en ontnugterde liefdesverhaalskrywer wat probeer om ʼn ernstige roman die lig te laat sien.

Sy uitgewer se nuwe assistent, Dania, dwing hom om by Leniesgif, haar afgeleë familiehuis langs die Kaapse Suidkus, te gaan werk sodat hy kan fokus en sy manuskrip voltooi.

Leniesgif is egter die woonplek van ʼn paar spoke, soos Benjamin tot sy ontsteltenis ontdek. Lenie Kruger, haar stiefdogter Hanna, die bekkige Franse matroos Thomas en die pratende hond Goebbels het elkeen ʼn geheim en ʼn versugting om afsluiting.

Dan is daar natuurlik die weggesteekte skat, en hoe pas Benjamin in Dania se slinkse plan?

Amor Tredoux is die regisseur met Carel Nel die rol van Benjamin vertolk. Lochner de Kock, Ronel Geldenhuys, Conradie van Heerden, Talana Rossouw en Anene Loots voltooi die ensemble.

Van links na regs agter is Ronel Geldenhuys, Amor Tredoux, Lochner de Kock en Carel Nel. Voor is Conradie van Heerden, Anene Loots, Talana Rossouw.

Van die skrywer – Hendie Grobbelaar

Hendie Grobbelaar

Net buite my dorp, Gouritsmond, kronkel ʼn 11 kilometer grondpad langs die see af in die rigting van Stilbaai. Menige skip en vissersboot het hul laaste rusplek langs hierdie ruwe kuslyn gevind, soos die SS Haliartus in 1932 met heelwat “skatte” aan boord. Die skatte was wel in die vorm van blikkieskos, motorbande en algemene ware, maar nietemin skatte wat die plaaslike inwoners baie geniet het.

Langs hierdie grondpad is ʼn paar plase met ʼn veelkleurige geskiedenis. Een van hulle is die ou murasie op Neliesgift. Die spesifieke stukkie grond is desjare aan die kerk geskenk deur ʼn sekere oom Neels – vandaar die naam. Met die jare het die ‘t’ van gift verlore geraak. Die kerk het Neliesgift verkoop. Die nuwe eienaar het hy sy vakansiehuis daar gebou met rotse uit die see. Hy wou ʼn vakansieoord ook bou maar die munisipaliteit het ʼn stokkie daarvoor gesteek, aldus ʼn familielid.

Vir jare was Neliesgif se murasie die agtergrond van menige huwelikspaartjie se troufoto’s maar die struktuur het sodanig verbrokkel dat die huidige eienaar dit wys geag het om te sloop.

Soos dit enige ordentlike murasie betaam, het die stories ook geloop van spoke by Neliesgif… Vandag is nog net die naam op die ou klipmuur sigbaar.

My radioverhaal van Leniesgif en sy karakters is totaal fiktief en die naam is ook effens gewysig.