Donderdagaand: Wilde-als ontgin temas van verlore liefde, selfvergifnis…


Donderdagaand, 11 November in Radioteater om 20:00, saai RSG die radioverwerking van Wessel Pretorius se verhoogdrama, Wilde Als, uit.

Wessel het die drama vir die Teksmark projek ingeskryf, en die KKNK en Aardklop in samewerking met NATI het dit ontwikkel. Dit was in 2019 by Aardklop op die planke met Jana Cilliers en Dawid Minnaar in die rolverdeling, en Wessel as regisseur. Daarna sou dit by die KKNK opgevoer word. Eers in 2020 – maar as gevolg van Covid het dit nooit gebeur nie – en toe in 2021 – maar weereens het Covid dit gekelder.

RSG se voormalige dramahoof, Kobus Burger, vra toe vir Wessel om die drama vir die radio te verwerk, en eerskomende Donderdagaand word Wilde Als met dieselfde akteurs in Radioteater uitgesaai – hierdie keer met Renske Jacobs in die regisseurstoel.

STORIE

Wilde Als vertel die verhaal van Hilde Kraus (Jana Cilliers) – ‘n legendariese skrywer in haar sestigs, wat haarself afsonder om haar finale, outobiografiese roman te skryf, jare na haar laaste poging. Sy wroeg deur die kronkelpaaie van haar geheue om sin te maak van die goeie en die slegte, sodat sy dit uiteindelik in haar boek kan verwoord. Om haar te help om feite van fiksie te skei, “ontbied” Hilde haar eertydse minnaar en muse, Paul Naudé (Dawid Minnaar) vir die laaste keer. Só word sy gekonfronteer met pynlike sleutelgebeure in haar verlede. Sal sy daarin slaag om, soos sy dit heel aan die begin van die stuk stel, “die sleutel te vind tot al die dinge wat ek so netjies weggestoor het?”

Luister na die volledige drama:

Wessel Pretorius

SKRYWER SE WOORDE

 Wilde-als was nog altyd ‘n stuk wat my na aan die hart gelê het. Dit was een van daardie tekste wat sy oorsprong in my onderbewussyn gehad het. Die karakters was van die begin af vir my duidelik, maar hoekom hulle by mekaar en by my spook het eers in die skryf daarvan vir my helderder geword. Dit gaan hoofsaaklik oor die verhouding tussen biografie en kreatiwiteit. Veral oor ons verhouding met inspirasie en hoe ons muses ‘n fasset van ons word. Dis ‘n dromerige “chamber piece” wat steeds spasie laat vir interpretasie. Soos die skeppingsproses self bly dit met tye vir my enigmaties. Die woorde is bloot ‘n inkantasie vir ‘n spirituele ontwaking.

Renske Jacobs

REGISSEUR SE VISIE

Om ‘n veelbekroonde skrywer en regisseur se werk op te voer wat hy self, net ‘n paar jaar tevore, op die planke gehad het, en met dieselfde twee gesoute veterane in die rolverdeling, is heel moontlik die grootste uitdaging wat ek, as radiodrama-regisseur, tot nog toe aangepak het. Die verantwoordelikheid om die werk so opreg en outentiek as moontlik op te voer, is net soveel groter – al is dit vir ‘n heel ander medium.

Jana Cilliers

Ek moes baie vinning besef dat die karakters reeds daar was. Jana en Dawid het tydens die skeppingsproses vir die verhoogproduksie aan hulle gestalte gegee. Die teks was ook onverbeterlik, en die dialoog klaar geskep en gepoets. Al wat ek, as regisseur van die radioproduksie moes doen, was om dit so treffend as wat ek kon vir die medium te skep.

Omdat dit so ‘n intieme stuk is, het dit besonder goed gewerk om dit vir radio op te neem. ‘n Goeie mikrofoon, soos die getroue Neumann in die drama-ateljee; bekwame hande wat die tegnies hanteer en moreel ondersteun (Bongiwe Thomas); ‘n kollega met ‘n fyn aanvoeling om byklanke te skep (Johny Klein) en, laaste maar beslis nie die minste nie: twee deurwinterde akteurs met volmaak-ontwikkelde stemme, wat spel lewer met ‘n diepte waarby min ooit sal uitkom en pouses kan vertolk wat so gelaai is, dis amper tasbaar – dis al wat nodig was om ‘n stewige basis te skep waarmee ek minimalisties met klank kon omgaan.

TEMAS

Daar lê soveel temas opgesluit in hierdie werk – herinneringe, vergifnis, nostalgie en gevolglike verromantisering, verlore liefde, gebroke harte, die kreatiewe proses, ware verbintenisse en die afdruk wat mense op mekaar laat. Die tema waarby ek die meeste aanklank vind, en wat ek deurentyd in my agterkop gehou het om begrip te hê vir Hilde se desperate pogings om haarself te vergewe, was die moederskap-tema.

Dawid Minnaar

Hilde merk in ‘n stadium op dat Paul duidelik nooit kinders gehad het nie, wanneer hy praat oor die herstel van haar verhouding met haar kind. Die teenwoordigheid van ‘n kind, ouerskap en veral moederskap, gee altyd, aan enige situasie, ‘n ander dimensie. Vir die eerste paar jaar word meeste besluite, aksies (en opofferings) met ‘n mens se kind in jou agterkop geneem en uitgevoer. Wanneer ‘n ma dus die besluit neem om daardie (tradisionele) rol te versaak, is daar ‘n moontlikheid dat daar ‘n lewenslange, diep onderliggende skuldgevoel, wat die dryfveer tot radikale lewensbesluite in die soeke na vergifnis, kan wees. Wat presies daardie besluite is, sal van ma tot ma verskil, maar dit sal altyd wees om uiteindelik vergifnis te ontvang en om te kan vergewe.