Wat is miëloom en kan dit doeltreffend behandel word?


Die gewilde Suid-Afrikaanse aktrise Michelle Botes (62), is vandeesweek dood nadat veelvuldige miëloom twee en ‘n half jaar gelede by haar gediagnoseer is. Sy het chemoterapie en ‘n beenmurg-oorplanting gehad, en wou nie verdere chemoterapie en ‘n tweede beenmurgoorplanting ondergaan toe haar kankertelling weer enkele maande gelede gestyg het nie.

Dit is ook die siekte wat by Koningin Elizabeth II gediagnoseer is.

Maar wat is miëloom en waar staan die wetenskap betreffende die behandeling van dié siekte?

Groot vooruitgang is die afgelope dekade gemaak in die behandeling van miëloom, een van die drie hoof soorte bloedkanker. Nuwe middels soos immunoterapie het reeds die oorlewingsyfer van miëloom van 2 jaar sowat 10 – 15 jaar gelede, verhoog tot 10+ jare vandag. In die toekoms kan dié syfer nog verder verbeter sodat miëloom wat vroeg opgespoor word, ‘n siekte kan word wat op die langtermyn bestuur moet word, het prof Vernon Louw, hoof van kliniese hematoloog by die Groote Schuur-Hospitaal en die Universiteit van Kaapstad, gesê. Die groot faktor is dat dit vroeg opgespoor moet word.