Hoekom tref skepe en bote seediere?


Nadat ‘n walvis onlangs langs die Weskus met ‘n vissersboot gebots het, het ons navraag gedoen of hierdie see-ongelukke tussen bote en seediere gereeld plaasvind. Die antwoord is ontstellend. Luister Donderdagoggend na Oggend op RSG.

Die walvis is deur ‘n boot getref.

Vandat mense die oseane begin vaar het, is daar stories van voorvalle tussen skepe en groot seediere. Mitologie vertel van verskeie seemonsters wat skepe aangeval en laat sink het. Ons is baie bewus van die ongelukkige voorvalle waar skepe en bote see diere tref.

Met ongeveer 55 000 goedere skepe ter see, is die kans baie groot dat ‘n boot en ‘n seedier mekaar iewers gaan ontmoet en moontlik tref. Skepe en bote van alle grotes en tipes tref meestal seediere wat naby die oppervlak swem of kom asemhaal, soos byvoorbeeld walvisse, dolfyne, robbe en seeskilpaaie.

Skeepsroetes is ook deesdae deur gebiede waar walvisse eet en kalf. Hoe meer bote en skepe, hoe groter die kans van ‘n botsing.

Veral wanneer bote teen ‘n vinnige spoed vaar, is dit moeilik om seediere onder die water oppervlak te sien. Baie skepe kom selfs nie eers agter dat hulle iets getref het nie, en die beseerde of dooie diere spoel dan later uit op die kuslyn, of sink.

Walvisse, robbe en dolfyne sal wel bote benader, aangesien hulle nuuskierige diere is. Dit is nie ‘n probleem met stilstaande of stadigbewegende bote nie. Om na walvisse van ‘n boot te bekyk, is ‘n groot industrie. Bote met permitte kan naby aan walvisse beweeg, wat vir mense ‘n wonderlike ervaring is. As walvisse, of enige van die ander seediere werklik bote wou aanval, sou ons verseker meer ongelukke gesien het in hierdie industrie.

In Suid-Afrika het ons ‘n reel in ons ‘Marine Living Resource Act’ wat ons verhoed om nader as 300m aan walvisse te gaan in bote of vliegtuie. ‘n Mens mag ook nie deur ‘n skool dolfyne ry met ‘n boot nie. Hierdie reel help juis om diere te beskerm.

Walvisse en dolfyne is ongelooflike marine soogdiere en het baie goeie sig en gehoor. Hulle gebruik eggolokasie om te navigeer en stuur dus verskeie klangolwe uit en analiseer die eggo soos die klanke terugbons. Hul kakebeen tel die klank as vibrasies op.

Skepe in die roete om die Kaapse kus.

In ‘n oseaan vol skeepsgeluide raak dit al hoe moeiliker om akkuraat te navigeer en walvisse en dolfyne vind hulself dus in die direkte pad van ‘n aankomende seevaartuig. Oor die laaste 50 jaar het die toename in skepe daartoe gelei dat onderwatergeraas elke tien jaar verdubbel het. Dít verhoed selfs dat walvisse met mekaar kan kommunikeer. Langtermyn blootstelling aan sulke geraas kan selfs tot gehoorverlies lei.

Groot skepe se enjingeluide word ook vasgevang in die golf- en wateraksie reg voor die skip, en die klank beweeg dan nie soos normaal deur die water wat seediere kan waarsku dat die skip naby is.

Spoed is natuurlik een van die grootste probleme. Met beter tegnologie is skepe en bote groter en vinniger as ooit. Sommige hawes beloon skepe as hul stadiger vaar deur areas waar walvisse veral voorkom of migreer.

Al het see skilpaaie ‘n harde dop word hulle baie gereeld deur bote getref. Seeskilpaaie spandeer baie tyd naby die wateroppervlak en ‘n boot se propeller kan hulle doppe werklik flenters kap.

See-verkeer neem elke dekade toe.

Bewustheid van die seediere in die omgewing is baie belangrik vir seevaarders sodat hulle spoed en roetes kan aanpas om kanse van seediere tref te verminder.

Mense is ook al beseer as gevolg van skepe en bote wat veral walvisse tref. Onlangs in Japan is meer as 80 mense beseer nadat ‘n vinnige passasiersboot iets groot getref het wat hulle glo was ‘n walvis.

In die laaste dekade is meer as 1200 skip-walvis botsings gerapporteer, wat ‘n skrikwekkende getal is.

Hopelik sal beter bewustheid daartoe lei dat hierdie insidente verminder word. Min seediere oorleef sulke botsings.