Klein Karoo Klassique was ene hoogtepunte
So is ek die gelukkige ou wat die RSG-prys gewen het om die Klein Karoo Klassique van 4 tot 6 Augustus in Oudtshoorn by te woon, skryf Jasper Coetzee.
Baie dankie RSG, Klein Karoo Klassique, Queen’s Hotel en die beste olyfolie in die wêreld, De Rustica, vir ’n wonderlike naweek!
Die Klein Karoo Klassique is die plek waar klank, ritme en harmonie in ’n ruimte bymekaar gebring word en weergalm om ‘n onvergeetlike ervaring te maak.
Ek kon vyf uitvoerings bywoon wat deur Suid-Afrikaanse wêreld-klas musikante aangebied is. Na elkeen het die legendariese Coenie de Villiers en Lynelle Kenned met die musikante gesels het om hul insig oor die musiek te deel.
Maar die fees bied veel meer as musiek. Daar is gesprekke oor boeke, ’n kunsuitstalling, historiese wandeltoere deur die dorp en geleenthede om bier en kaas te proe.
Die hoogtepunt vir my was ongetwyfeld die ATKV-Galakonsert met Kaapstad Opera. Dit gebeur min dat die gehoor binne minute die dak lig, maar die vier wêreld-klas soliste en begeleier het dit reg gekry! Die immergroen hoogtepunte uit die bekendste operas en musiekblyspele was besonders. Bravo aan Brittany Smith (sopraan), Alida Scheepers (sopraan), Lukhanyo Moyake (tenoor), Conroy Scott (bariton) en begeleier, José Dias.
Nog ‘n hoogtepunt was KAROONAG met die multi-bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor onder leiding van Jan-Erik Swart en gaskunstenaars Coenie de Villiers en soprane Alida Scheepers en Brittany Smith. Dit is verstommend om te dink dat die koorlede afkomstig is van dorpe soos George, Knysna, Oudtshoorn en selfs so ver as Stilbaai. Die ouers van die kinders verdien ‘n klop op die skouer om gereeld hul kinders by konserte en oefensessies te kry.
Benewens die musikante het ek ook ‘n paar bekendes gesien. Skrywer Deon Meyer was daar, maar ek het nie vir kaptein Bennie Griesel gesien nie. Hy was seker besig is om ‘n misdaadtoneel iewers te ondersoek.
Bekendes uit die sakewêreld, Dr Franklin Sonn en die aanbieder van Kletsrym Sonder Grense op RSG, Frazer Barry, was ook daar.
Hier is ‘n paar foto’s wat deur Hans van der Veen geneem is en wat ons met vergunning van die Klein Karoo Klassique mag plaas.
Vir meer inligting oor die KKNK en die Klein Karoo Klassique, besoek www.kknk.co.za en www.klasique.co.za