Klein olyfboerdery maak groot verskil


Aan die voet van Kasteelberg, neffens Riebeek-Kasteel, is daar ‘n klein olyfboerdery wat ‘n gróót verskil maak. Die Goedgedacht Trust boer al drie dekades lank met hoop én impak om die Swartland ‘n beter plek te maak vir landelike gemeenskappe. Vanjaar is dié olyfboerdery geseën met ‘n rekord-oes. Volgens Pieter Brand, Goedgedacht se plaasbestuurder, is die oes van 150 ton olywe nie net hulle tweede grootste ooit nie, maar ook hulle hoogste gemiddelde oesopbrengs teen 17% per blok. Boerdery en gasvryheidsaktiwiteite is noodsaaklik om die Goedgedacht Trust se ontwikkelingswerk moontlik te maak.