Aangrypende ‘Kolskoot Visagie’ is geskoei op tragiese volkslegende


Kolskoot Visagie deur Christopher Joynt gaan oor Barend Visagie en sy seun Willie se tragiese verhaal wat in 1948 in die Swinburne distrik afspeel. Hoewel dit n fiktiewe storie is, is die drama is geskoei op die Suid Afrikaanse volkslegende, waarop C M Van den Heever op sy beurt sy gedig: “Waar ruwe rotse” gebaseer het.

KOLSKOOT VISAGIE is DONDERDAGAAND, 14 Junie, 20h00 in Radioteater uitgesaai.

Die drama

Swinburne distrik

In die drama wissel die tonele tussen Van Reenen (waar Oom Giel op Neef se stoep vir Neef die storie sit en vertel in 2018) en die Swinburne distrik (waar die tragedie plaasvind in 1948). Swinburne is ‘n dorpie langs die N3 snelweg, in die Vrystaat, 25 km suid van Harrismith. Dis die laaste dorp op die grens tussen die Vrystaat en Natal, en het een van die oudste brue in die Vrystaat. Die brug is in 1884 in gebruik geneem en strek oor die Wilgerivier. Agter Swinburne lê Rensburgkop – en dis hier waar Barend, oftewel Kolskoot Visagie, op sy plaas Barsland geboer het.

Omdat van Reenen net 12 km van Swinburne af is, ken die mense van Van Reenen ook die tragiese verhaal van Kolskoot en Willie. Die tragedie het in 1948 gebeur, en baie van die mense het nooit uit die distrik uit weggetrek nie, en woon steeds daar. Dis nou mense soos Oom Giel, wat die verteller van die verhaal is en vir Neef in kleur en geur die gebeure uiteensit soos wat die drama ontvou.

Smithfield

Die gedig

C M Van den Heever se gedig “Waar ruwe rotse” is na bewering gegrond op die gebeure wat by Aasvogelkop oorkant die Caledonrivier by Gladdedrif in die Smithfielddistrik afgespeel het. Dit gaan oor ‘n pa wie se seun in ‘n klipskeur geval het. Na dae se geswoeg om die seun tevergeefs uit te kry, laat dit die pa geen ander keuse as om sy seun uit die klipskeur te verlos met die dood nie. Die seun word deur sy eie pa doodgeskiet.

Waar Ruwe Rotse (CM van den Heever)

Waar ruwe rotse teen die hemel klim,
waar môrerooi se eerste traanglans glim

waar aasvoëls hoog in sirkelbane sweef,
hul rou gekras in afgronde laat leef;

waar grou-wit kranse na die klowe val,
gekeep-hou tot spelonke bo ‘n dal;

waar oopgeskeurde klippekake wag
met draketande wat daar grynsend lag –

daar knal opeens geweerskot bo die kruin
en eggo’s antwoord hard met skelbasuin.

Die dassies wip verskrik oor gladde krans,
patryse saai vlerktrillend uit hul skans.

Skuins glip ‘n voet en drillend val ‘n roer …
‘n skerp geskuur – ‘n pad wat afwaarts voer.

Twee hande gryp ‘n bos, die angs oorstelp,
benoud klink uit die diepte: “Here, help!”

Twee vader-oë kyk verward … sy seun,
die afgrond lag oor wilde skuurgedreun.

Die kruit en stof vlek oor die lug se blou,
die vader bly sy hand oor sy oë hou.

En dan gewaar hy in die skemering
sy kind, deur rotseskouers vasgedring.

‘n Riem rol na die seun daaronder neer,
“Bind vas, my kind … en Pa die sal probeer.”

Maar dis vergeefs … die kransedraak hou vas,
die riem bly stukkend breek, kry las op las.

En hulp snel by … die rotsetande gryns,
hier moet die mensverstand terug voor deins.

Dan klaag daar uit die diepte, sag en flou:
“Ek smeek dat Pa my skiet … en nou …”

‘n Roer die bewe in die growwe hand,
sag sif in skemerafgrond korrels sand.

Vas lê die kolf teen vaderskouer aan,
en langs die sneller glans ‘n afloop-traan.

“Vergeef my, God!” … ‘n skoot gedemp en dof …
en bo die bergegraf styg kruit en stof.

Nog skuur iets rog’lend in die diepte daar,
dis stil … die aasvoëls kras … ‘n vader staar.

Die roman

Volgens Perspektief en Profiel was Toorberg, uit die pen van Etienne van Heerden ook deur hierdie “volksgeheue” geïnspireer:

Oppervlakkig handel Toorberg oor die dood van Druppeltjie (Noag) du Pisani – die buite-egtelike kind van Waterwyser du Pisani en Kêns Tillie Moolman.

Hy het in ‘n boorgat geval en nadat alle pogings om hom daar uit te kry, misluk het, is hy deur sy grootvader, Abel Moolman, in die gat doodgeskiet.

Die owerhede is nie tevrede met hierdie uitleg nie, en nou moet ‘n magistraat gaan vasstel wat werklik plaasgevind het.

Die legende

Die Regisseur – Renske Jacobs

Die regisseur van die drama, Renske Jacobs:

Ek het Kolskoot Visagie ‘n paar jaar gelede al vir die eerste keer gelees, en ek was nie bewus van die legende waarop dit geskoei is nie. Toe ek die geleentheid kry om dit op te voer het ek eendag vir my ma vertel van hierdie indrukwekkende storie, en sy se toe dat dit klink soos die gedig wat die kinders gereeld by die kunswedstryd gedoen het. Ons soek toe rond in haar digbundels en kry uiteindelik die inligting op die internet (ons het geGOOGLE). Dit blyk toe C M Van den Heever se “Waar ruwe rotse” te wees, en met verdere navorsing kom ek toe af op die volgende:

Mense wat in rotsskeure vasval en vassit is nie ‘n sonderlike verskynsel nie.

In 2014 nog het die 26-jarige Tsenolo Shadrack Rasello in ‘n rotsskeur van die Rustenburgkloof vasgesit. Sy been is deur prof. Frank Plani afgesit om hom te bevry.

Die genadeskoot wat deur die vaders toegedien word, as die laaste uitweg, kan wel raar wees. Tog skryf DJ Opperman in sy Junior Verseboek by die biografiese besonderhede dat hierdie gedig ‘n volksvertelling oorvertel wat in die bergstreke van verskillende dele van Suid-Afrika voortleef. Ook in Aantekeninge oor Junior Verseboek staan daar op bl 36: Waardering: ‘n Ou en bekende legende word hier deur Van den Heever spannend verhaal.

Die presiese plek kan wissel: soms is dit Kogmanskloof (tussen Bonnievale en Montagu), ander kere weer naby Ladysmith en Harrismith in KwaZulu-Natal, of naby Swinburne by Rensburgskop in die Vrystaat of “Gordon Rots” naby die Paarl.

Julian Roup skryf in Boerejood (2004) dat sy ma van ‘n soortgelyke verhaal vertel het wat in die Paarl sou afgespeel het.

Teen die eeuwending van die 20ste eeu het ‘n jong lat saam met sy makkers na die Paarlrots opgeklim om daar te gaan speel. Dit was ook heel doodgewoon vir kinders om toe, soos Roup se ma self ook gemaak het, teen die gladde oppervlak van die rots op pale af te gly. Na so ‘n dag se mannewales is die kinders by hul tuiskoms dan gewoonlik oor die skoot getrek omdat hul klere so verrinneweer is. Op ‘n soortgelyke wyse het die seuns by ‘n “arendsnes” gaan speel wat oor Paarl uitkyk. Een van die seuns het met ‘n geskreeu in een van die rotsskeure geval. Hy was ernstig beseer, en na vele probeerslae om hul makker los te kry, is sy maats vort om hulp te gaan soek. Die seun se pa en ander mans het met toue opgedaag. Soos die uurwyser verbygetik het, het die seun al meer begin besef dat die hele saak ‘n ongewonne, doodgebore stryd was. Niemand sou die pa of seun se pyn in hierdie oomblik kon begryp nie. Toe die seun nie meer sy doodsangs kon temper nie, het hy sy pa gesmeek om hom dood te skiet. Dit is onbekend hoe lank hierdie innerlike worstelstryd in die pa geduur het, maar oplaas het die seun se krete net te veel geword. Die pa het toe sy seun geskiet. So is die verhaal van geslag tot geslag oorvertel.

Die dokumentêr

Omdat die legende waarop die drama geskoei is so eg-Suid Afrikaans is, het Ina Strydom verder gaan soek om te sien of die storie se wortels nie dalk dieper le as wat ons dink nie. Sy het toe ‘n dokumentere program, “Die pad wat ‘n storie loop” saamgestel. Dit sal die oggend voor die aand se uitsending op Donderdag 14 Junie in Oggend op RSG tussen 09h00 en 10h00 uitgesaai sal word. In hierdie dokumenter kyk sy na die universele aard van stories, in dié geval dieselfde storie wat in verskillende genres vertel is; asook die proses wat die regisseur gevolg het met die maak van die drama.

Die Skrywer – Christopher Joynt

Die skrywer

Na 30 jaar as kunsonderwyser was Chris Joynt moeg vir kwas, potlood en ink. Om homself besig te hou het hy begin om kortverhale vir sy kinders en kleinkinders oor Suid- Afrika en sy mense te skryf. Oom Giel en Neef het vorm aangeneem en ‘n reeks “Stoepstories” sowel as n roman het gevolg.

Omdat Chris hom in ‘n Engelse skool en gemeenskap bevind het, het hy meestal in Engels geskryf, totdat hy na sy aftrede RSG en radiodramas ontdek het.

“Wat n plesier is dit nie om myself weer in my huistaal uit te kan druk nie”, verklaar Chris, en oor Kolskoot Visagie se skryfproses, het hy die volgende te se:

Ons het seker maar elkeen sy eie individiuele benadering tot die skryf van ‘n storie of radiodrama. Vir my is die moeilikste van die hele proses die kry van ‘n idee. Oorspronklik het ek Kolskoot in die vorm van n kortverhaal geskryf vir my kleinkind, en toe was daar nie van ‘n Giel en Neef gebruik gemaak nie. Toe kom die besluit om dit na ‘n radiodrama te verwerk, en daarna skryf ek toe díe twee in om as vertellers van die verhaal te kon dien. Dit het my die kans gegee om van terugflitse van die hede na die verlede gebruik te maak.

Omdat oumense so tuis is in hul eie vel en so ‘n ryke lewenservaring het, het ek besluit dat Neef jonger as Giel moes wees. Die jongman leef meer in die hede en ou Giel weer al hoe meer in die verlede. Dieselfde is natuurlik gedoen met Kolskoot en die jonge Willie. Dit maak ook die pyn en lyding van Mara soveel meer met die verlies van haar ou man en jong seun.

Mara, wat die meer Woord gerigte een is, het juis haar naam verkry omdat dit bitterheid beteken. Gedurende die skryfproses praat die karakters in my kop met mekaar en na elke spreekbeurt kom die volgende karakter se woorde outomaties te voorskyn. Ek skryf die hele storie in een sitting van begin tot einde en dan soos ek dit deurlees begin ek uithaal en invoeg soos dit nodig blyk te wees. Soos die storie vorm aanneem, groei die nood vir ‘n ʺtwist in the tailʺ wat dit net effens anders kan maak as die oorspronklike volkslegende en dit is hoe ek op Kolskoot se einde gekom het.

Dit het beteken ek moes toe teruggaan en vir hom die naam Kolskoot gee en ‘n stukkie van sy verhaal vertel om uit te kon lig dat hy ‘n bobaas skut is om sodoende die einde van die verhaal te kon bewerkstelling.

Nou ja, soos ek gesê het mens speel maar so bietjie rond tussen die karakters en dan groei ‘n storie so langsamerhand uit die gespelery.”

Die rolverdeling

Barend (Kolskoot) Visagie – Paul Luckhoff

BAREND (KOLSKOOT) VISAGIE – Paul Luckhoff: ‘n Stoere boer, hardwerkend en besorgde eggenoot en pa. Hy is besig om die plaas oor te gee aan sy seun, Willie. Hy en Willie het n goeie verhouding maar hy kan ook maar lekker kwaad raak vir sy soms hardnekkige seun.

WILLIE – Luan Jacobs: Vooruitstrewend met die drif van n jongman, maar liefdevol teenoor beide ouers.

Mara en Willie Visagie – Ria Smit & Luan Jacobs

MARA – Ria Smit: Liefdevolle en sagmoedige vrou en ma. Regte moederhen wat haar bekommer oor die mans in haar lewe.

Neef en Oom Giel – Lochner de Kock en Jacques Bosch

OOM GIEL – Jacques Bosch: Hy daag ‘hoed in die hand op’ by Neef met n versoek vir n saamry-geleentheid. Oom Giel is n gebore storie verteller, wat weet hoe om dinge uit te rek, maar hy is effens teësinnig om hierdie storie met Neef te deel.

NEEF – Lochner de Kock: Stoepsitter en vriende met Oom Giel. Hy word versoek om oom Giel n ent uit die dorp te neem vir die herdenking van die ‘tragedie’. Neef gesels gemaklik met Giel en dit is duidelik dat hulle gereeld saam kuier op die stoep.

Die akteurs

Toe daar vir hulle gevra is om iets oor hulle karakters te skryf, het Paul Luckhoff, wat die rol van Kolskoot speel, net soos sy karakter seker sou, ‘n handgeskrewe stukkie gestuur:

Willie Visagie – Luan Jacobs

Luan Jacobs vertolk die rol van die 20-jarige Willie. Hy’s bekend vir sy rolle op TV en in flieks soos: Ballade vir ‘n Enkeling, Jagveld, Binnelanders en 7de Laan. Op radio het ons hom gehoor in Ratels en hy speel tans Renzo in Hartebreker. Hy was ook in ‘n hele paar radiodramas soos Die Kwilter en die Kelner, Maskers, Vel en Boelie.

In 2012 word Luan gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig by die 2012 Kulturele Olimpiese Spele en tree op in ‘n toneel wat hy geskryf, die regie van behartig het, asook opgetree het as deel van die World Event Young Artist, waar die beste jongelinge regoor die wêreld bymekaar kom en ‘n Kulturele Olimpiese Spele vier.

Oor sy karakter het hy die volgende te sê:

“Ek sien Willie as ‘n absolute “sontraal” in Kolskoot.  Hy is eerbiedig teenoor sy ouers en pak die lewe aan met ‘n geesdrif waarvan ons almal baat kan vind om ‘n paar notas te neem.  Sy energie is aansteeklik en daar is ‘n speelsheid omtrent hom waarby ek aanklank gevind het.  Hy straal liefde en lewenslus uit en in terme van die storie self maak hy deel uit van ‘n groter boodskap van die waardering van die mense in jou lewe en die opoffering wat mens soms moet maak.  Wat uitdagend was met Willie, was om hierdie energie eg te maak, om seker te maak dat daar nie ‘n oomblik se twyfel in die karakter is nie, om seker te maak dat mense met hom kan assosieer.  Kolskoot Visagie beloof om die hartsnare te roer.”

LET WEL: DIE INHOUD IS VAN SO ‘N AARD DAT DIT SENSITIEWE LUISTERAARS MAG ONTSTEL

DIE PAD WAT N STORIE LOOP WORD DONDERDAGOGGEND, 14 Junie, tussen 09h00 – 10h00 in Oggend op RSG uitgesaai.