Luister Donderdagaand na ‘Die Spreekkamer’


Kom luister Donderdag 6 Junie om 20:00 na Die Spreekkamer, ‘n oorspronklike, splinternuwe radioteater deur Almero Welgemoed en Pietie Beyers gebaseer op hul gelyknamige, eerskomende eenman-teaterstuk.

Die Spreekkamer maak egter sy debuutbuiging op radio, spesiaal vir RSG.

Kom ontmoet vir Albert, Heleen en hul twee pragtige kinders, en vind uit wat régtig agter geslote deure plaasvind. Die Spreekkamer leer dat dit wat ons wegsteek, dalk meer sê as dit wat ons wys. Eg en opreg.

Met ‘n ongelooflike rolverdeling wat bekendes soos Anton Schmidt (die sielkundige), Deon Coetzee (Albert) en Heidi Mollentze (Heleen) insluit. Erin Patience (Mia) en Rico Immelman (Johannes) debuteer in die drama.
Pietie Beyers maak ook sy buiging as regisseur.

Almero Welgemoed het oorspronklike musiek vervaardig vir die opname.

Agtergrond

Die Spreekkamer het aanvanklik vorm gekry as ‘n teaterteks wat toe verwerk is tot ‘n radiodrama.

Almero en Pietie het beide ‘n volgehoue waardering vir die proses van terapie. Albei het al die voordele van goeie terapie ervaar en Almero het ook sielkunde studeer.

Die kompleksiteit van mense se verhale wat in ‘n sielkundige se spreekkamer ontvou is besonders unieke verhale wat tog ‘n universele tema bevat – om te behoort, om veilig te wil wees, om lief te hê, om seer te kry. Almero en Pietie wou iets van hierdie temas vasvang op ‘n manier wat mense laat voel asof hulle self in die spreekkamer van ‘n sielkundige is en luister na mense se verhale. Dit is amper ‘n afloer-ervaring, ‘n kans om mense se verhale te hoor wat gewoonlik agter toe deure plaasvind. En hopelik vind die luisteraar hoop en empatie agter daardie deure.

Van links na regs: Rico Immelman, Erin Patience, Anton Schmidt, Deon Coetzee (agter), Heid Mollentze (voor), Pietie Beyers (agter) en Almero Welgemoed.

Rico Immelman en Anton Schmidt in aksie.

Rico Immelman en Erin Patience

Almero Welgemoed.