Luister Donderdagaand na die storie van die ‘Jukebox’


Luister Donderdagaand na ‘n dokumentêr oor die geskiedenis van die jukebox in Suid-Afrika. Die dokumentêr is saamgestel deur Haidee Muller-Isaacs.

Hoewel die gewildheid van tradisionele jukeboxes afgeneem het, is daar nou onder versamelaars en entoesiaste ‘n oplewing in belangstelling in ouer jukeboxes. En dié oplewing word gedryf deur nostalgie en die unieke bekoring van dié ikoniese musiekspelers.

Moderne digitale jukeboxes het ‘n omvattende katalogus van liedjies en interaktiewe kenmerke.

Die storie van die jukebox

Die jukebox, ook bekend in Afrikaans as ‘n “plate speelkas,” het gewildheid verwerf in kroeë, eetplekke en ander vermaaklikheids- persele gedurende die vroeë tot middel 20ste eeu, en het ‘n ikoniese simbool geword van die era se musiek- en  vermaaklikheidskultuur.

Ongeag die presiese oorsprong van die woord, het  “jukebox” uiteindelik die algemeen aanvaarde woord geword vir ‘n masjien wat plate speel soos geselekteer deur die gebruiker nadat geldmunte in die masjien geplaas is.

Die jukebox het sy oorsprong in Amerika waar maatskappye soos Wurlitzer, Rockola, Seeburg en AMI (Automatic Machine Instruments) vir baie jare die topvervaardigers van jukeboxes was.

Gedurende WO2 is die vervaardiging van jukeboxes in die VSA gestaak, maar in 1946 is die vervaardiging, verkoop en uitvoer van jukeboxes weer hervat.

AMI se modelle A&B was veral gewild in Suid Afrika en laasgenoemde was in 1946 en 1948 onder die top 5 lande wêreldwyd wat jukeboxes uit Amerika ingevoer het.

Daar is sowat 12 000 Model A en 7 800 Model B jukeboxes vervaardig in die VSA. Ek vermoed dat daar groter getalle van die model B na Suid Afrika uitgevoer is vanwee sy “slim line” styl wat meer byval gevind het as die groter “bonkige” model A.

Ongelukkig het die SA regering aan die einde van 1948 ‘n verbod geplaas op die invoer van jukeboxes nadat dit as luukse goedere geklassifiseer is. Die verbod is geplaas agv van monitêre uitdagings wanneer daar nie in Sterling handel gedryf kon word nie. Die verbod het ook ander produkte ingesluit, onder andere piesangs, en is eers aan die begin van die 1960’s opgehef.

Tydens die 1940’s het AMI (Automatic Musical Instruments), soos baie ander jukebox-vervaardigers, ontwerp-elemente ingesluit wat beïnvloed is deur die heersende ontwerp estetika van daardie tyd.

AMI se “Streamline Modern” was ‘n evolusie van die art deco-styl, wat klem gelê het op gladde, vloeiende lyne, aerodinamiese vorms, en ‘n gevoel van moderniteit.

Die Jukeboxes wat voor en gedurende gedurende die 1940s vervaardig is, was nie net musiektoestelle nie, maar ook stukke funksionele kuns wat die gees van daardie tyd vasgevang het.

Die afname in die gewildheid van jukeboxes sedert die 1960’s, kan toegeskryf word aan verskeie faktore, wat veranderinge in beide klanktegnologie en kulturele voorkeure weerspieël. Dit verduidelik dan ook hoekom Suid Afrika volgens ‘n verslag van EMI Platemaatskappy teen 1966 amptelik slegs 200 jukeboxes in bedryf gehad het!