Luister Donderdagaand na ‘Hamlet’


Luister Donderdag om 20:00 na Shakespeare se Hamlet, ‘n klassieke radiodrama uit die argief. Dit is ‘n tipiese Shakespeariaanse tragedie met verwyt, moord, wraak, bloedskande en natuurlik ‘n kinkel in die kabel wat niemand verwag nie.

Die opname het destyds onder regie van Leon van Nierop gestaan en is vir radio verwerk deur Alewyn Lee.

Luisteraars kan regmaak vir ‘n reis terug in tyd met akteurs soos ‘n jong Chris van Niekerk as Hamlet, Annette Engelbrecht as Ophelia, Johan Botha as Claudius en Johannes Slabbert as Laertes. Polonius is vertolk deur Jan Cronjé, Gertrude is Joey de Koker en die Gees van Ou Hamlet is Jan Schutte. Die koninklike toneelspelers is Lochner de Kock en Roelien Spruyt. Ander spelers is Theo Conradie en Johan van Wyk.

Die storie

Hamlet moet hom wreek op sy pa, Ou Hamlet, se dood. Hy word besoek deur sy pa se gees wat deurentyd by hom spook om die opdrag uit te voer. Dit bring Hamlet in konflik met homself en deur die verloop van die drama speel sy kontrasterende emosies teen mekaar af tot ‘n klimaks wat op die grootste tragedie uitloop.

Sy verhouding met familie, naastes en vertrouelinge is deel van die reis waarop Hamlet moet gaan in ‘n poging om sy vader se dood te wreek. ‘n Resep en gepaste storie vir ‘n aangrypende radiodrama.