Luister Donderdagaand na ‘n argief-dokumentêr oor hoe vier ouers ‘n jong swart, Afrikaanse seun se lewe verander het


Dit verg ‘n gemeenskap om ‘n kind groot te maak. So het vier onwaarskynlike, maar ongelooflike mense, een kind ‘n wonderlike lewe gegee. Patrick Shabangu, gebore in 1987, is die kind van Emma Shabangu en Phillemon Magula van Moloto, en ook van Leen en Annemarie van der Bijl van Centurion.

Kom luister Donderdagaand net na 20:00 hoe een ma die nood in ‘n ander een se hart gesien het, en hoe een kind se lewe onherroeplik verander het.

Patrick se biologiese ouers het vir die Van der Bijl-gesin as huishulp en tuinman gewerk toe Patrick se ma in 1987 swanger word met hom.

In 1994, tydens die eerste demokratiese verkiesing van Suid-Afrika, word Patrick die eerste swart kind wat in Elarduspark Laerskool in Pretoria ingeskryf word. Selfs al was daar negatiewe kommentaar, opmerkings en selfs ouers wat hulle kinders uit die kleuterskool gehaal het toe Patrick daar was, was Patrick as kind salig onbewus en (soos hy dit noem) vreeslik beskermd groot gemaak. Hy was ‘n swart, Afrikaanse kind wat vier ouers gehad het wat alles in hulle vermoë gedoen het om hom gelukkig en veilig te hou en bo alles net lief te wees vir hom.

In die dokumentêr, wat oorspronklik in 2017 opgeneem is, kuier Christelle van Tonder saam met Patrick in Moloto by sy ma Emma, en ook in Centurion by sy ma en pa, Leen en Annemarie, en vertel Patrick en sy ouers in hulle eie woorde oor hoe hulle saam gewerk het om ‘n kind in twee wêrelde groot te maak. Patrick deel van die innerlike stryd, die aanvaarding en die ongelooflike liefde wat hy vir al vier sy ouers het.

Sewe jaar later raak Patrick se storie steeds mense se harte aan. Luister na die heruitsending van die dokumentêr Jonk, swart en Afrikaans deur Christelle van Tonder, wat in 2017 deur die ATKV Media-veertjies bekroon is vir beste dokumentêr.

Patrick se biologiese ma Emma Shabangu, is in 2018 oorlede. Ons dra die dokumentêr van haar seun aan haar op.