Luister Donderdagaand na ‘n dokumentêr “Wik en Weeg”: is elite skole beter vir jou kind se toekoms?


Luister Donderdagaand na die dokumentêr Wik en Weeg deur Eloïse Cupido oor hoe jy die beste skool wat jy kan bekostig vir jou kind kies, en die uitwerking daarvan op die kind se toekoms.

Wanneer jy die kans kry om bo jou omstandighede uit te styg, en ‘n beurs kry na ‘n baie beter skool in ‘n beter buurt, dorp of stad of kosskool, is dit werklik beter?

Baie mense  sal die kans met alle mag aangryp om aan hul kinders ‘n beter toekoms te kan gee. Soms kom dit in die vorm van ‘n barmhartige aanbod of ‘n geleentheid om met behulp van ‘n beurs, aan ‘n skool te kan studeer waar jy blootgestel word aan ‘n wêreld wat jou agtergrond tot op hede nie toelaat nie.

Daar is baie “onbekostigbare” skole, waar skoolfooie tot in die honderde duisende rand per jaar beloop(sommiges meer as van die voorste universiteite) met die belofte van eksklusiwiteit en toegang tot die netwerke en binnekringe wat “privilege”/om in hierdie bevoorregte kringe te beweeg, aan jou gee. Met hierdie netwerke wat van skooltyd af kom of selfs net die wete dat jy hierdie elite skool bygewoon het, kom met die onuitgesproke belofte dat dit, op die lange duur, vrugte sal afwerp en deure sal oopmaak na geleenthede wat jou andersins nie beskore sou wees nie.

Hoe gemaak as jy twee verskillende, opponerende wêrelde bewoon? Die een wat jou toekoms verseker of moontlik kan verbeter en die een waar al jou mense woon, wat geen idee het van wat jy doen, hoekom jy dit doen of die prys wat jy op geestelike, emosionele of finansiële vlak betaal om die ander wêreld te betree nie.

Eloise Cupido het met Michelle Diamond, eienaar van Chilli and Ice Counseling op die Wesrand en Uitvoerende hoof van Golden Score Judoskool sowel as Kyle, onderwyser en hokkieafrigter by ‘n hoërskool in Johannesburg  hieroor gesels.

Watter prys betaal die jong mens wat uitstyg en die familie wat “agterbly” vir hierdie vooruitgang?