Luister Donderdagaand na ‘Wringkrag Kinners’, geskoei op ware gebeure


Luister Donderdagaand na Wringkrag Kinners, ‘n verhaal geskoei op ware gebeure en die storie van baie van ons land se kinders, en die kinders wat grootmense word en kinders grootmaak.

Hein Henry Poole maak sy RSG debuut as skrywer en deel die waarheid op ‘n deernisvolle manier in hierdie drama.

Die storie

In ‘n plattelandse dorp lê daar ʼn diep geheim wat John Junior en Nessa gaan skok. Hulle ouers verkies om dit stil te hou omdat dit regtig nie saak maak nie.

John Junior, nes die res van die gemeenskap is versot op vinnige motors. Junior kry ʼn geleentheid om by ‘n motorwerktuigkundige ‘n ambag te doen.

Tans by sy huis sukkel hy om sy groot liefde uit die kloue van sy neef, ʼn groot bendeleier, te red. Wat dit moeilik maak is dat sy ware liefde Nessa, aan dwelms verslaaf raak en hy alles in sy vermoë doen om haar te probeer red.

In hierdie gemeenskap heers armoede en met dit kom sy uitdagings wat veral prooi op die jong onskuldiges . Die polisieman, Allie, is kop in een mis met die bendeleier. Die skok wat die ouers tref wanneer hulle sien hoe die lewe hulle kinders insluk, ruk die mat onder hulle voete uit.

Die skrywer

Hein Poole is bekend as speler in RSG radiodramas. In dié seisoen hou hy sy lyf ook skrywer met sy debuut drama, Wringkrag Kinners.

Hein vertel dat die stories van ouers, groot ouers, vriende en familie wat naastes aan geweld, dwelms en misdaad afstaan, hom na aan die hart lê. Hy skets ‘n volledige beeld van die lewe in gemeenskappe waar rasende motors en polsende musiek die pas aangee.

Keer op keer op ʼn ander manier tref dit onskuldiges, veral daar waar armoede oorheers. Geld word nagejaag op ‘n maklike uitweg wat die lewens van naasbestaandes onkeerbaar verander.

Die rolverdeling en akteurs

Die rolverdeling weerspieël ‘n diverse groep spelers met ‘n paar gereelde stemme en nuwe stemme wat nog lank op radio sal leef.

Die spelers en regisseur. Agter van links na regs is Albert Maritz, Andre Samuels, Merlin Balie, Lee-Ann van Rooi, Veronique Jephtas en Cole Wessels. Voor is Hein Poole (skrywer en akteur) en Frieda van den Heever (regisseur).

Die akteurs in die rolverdeling is:
Hein Poole as John Junior,
Veronique Jephtas as Nessa,
André Samuels as Ou John,
Lee-Ann van Rooi in die rol van Myrtel,
Cole Wessels was Edward,
Albert Maritz is Allie
en Merlin Balie in die rol van Aggies.

Die regie is behartig deur Frieda van den Heever.
Die klank deur Cassi Lowers.