Woensdag: ‘Op die oog af’ begin


RSG bied met trots van 26 Junie ‘n nuwe 60-episode middagvervolgverhaal, Op die oog af aan. Dié vervolgverhaal is in opdrag van RSG geskryf en opgevoer deur Leon van Nierop.

In gesprekke met persone met gestremdhede was dit duidelik dat RSG se storie aanbod ‘n groot aanhang in die gemeenskap geniet. Juis daarom was die opdrag om ‘n storie te ontwikkel wat die leefwêreld van ‘n spesifieke groep persone met die luisteraar deel.

Luisteraars kan uitsien na ‘n storie wat jou gaan deel maak van die lewens van die leerders en personeel by Uitsig-skool.

Die storie

Om saam met blindheid te leef vorm die grondslag van die Uitsig Skool vir Blindes wanneer ‘n groep uiteenlopende karakters, siende en siggestrem, kragte moet saamspan om die skool se voortbestaan te verseker.

Op die oog af lyk almal gelukkig by die Uitsig Skool vir Blindes. Maar dan laat spaander die hoof met die skool se fondse en skenkings, en dit moet sluit.

‘n Weldoener koop egter die skool en gee vir ‘n industriële sielkundige, Corlia Mouton, drie maande om die skool te red.

Corlia voel soos ‘n vis uit die water en beland midde-in die wêreld van blindes of siggestremdes. Gou besef sy dat hulle ander uitdagings as leerders in alle skole het. En sy moet sy blitsvinnig aanpas, veral as dit haar later intens persoonlik begin raak as gevolg van onverwagte gebeure.

Wanneer ander krisisse die skool tref, beweeg sy ver buite die gewone grense om die skool ordentlik te bestuur, die leerders se spesiale behoeftes aan te spreek en probleme wat onverwags en dramaties opduik aan te spreek.

Nie alleen ontmoet sy die skool se toegewyde en fyn-opgeleide personeel nie, sy maak ook kennis met ‘n wyd-uiteenlopende groepies blinde leerders, onder andere die rebelse Shane wat steeds in rou is omdat hy onlangs blind geword het, die saggeaarde hoofseun Rocco wat besef hy sal ruggraat moet kry om die leerders te lei, en die vrolike klein Didi wat in ‘n tent in sy kamer woon en ‘n snoepie bedryf. Almal hanteer blindheid op hul eie manier en het geleer om oor die weg te kom.

Die koshuismoeder Katryn Koegelenberg en die tuinier Sweis Smit doen spesiale programme om die leerders se lewens te vergemaklik.

Maar alles verander wanneer iemand die skool begin saboteer en Corlia probeer wegdryf tot nadeel van die skool. Die siggestremdes se verskerpte sintuie skop dramaties in om die skuldiges uit te ruik en die skool van ondergang te red.

Oor die skrywer en regisseur Leon van Nierop

Leon van Nierop het stewige navorsing gedoen oor die wêreld van die siggestremde, asook met blindes uit verskeie dele van die samelewing wat hul ervarings as blindes met hom gedeel het voor die skryf van elke episode. Hierdie ervarings is in verskeie tonele gedramatiseer en uitgebeeld presies soos dit met hulle gebeur het.

Maar dit was die humorsin, optimisme, dapperheid, aanpasbaarheid en vrolikheid wat met hierdie gesprekke saamgegaan het, wat al die fiktiewe karakters geïnspireer het en die storie dryf.

Op die Oog Af beeld in klank uit hoe om daagliks saam met blindheid te leef en word op toeganklike wyse geskryf sodat luisteraars kan verstaan hoe siggestremdes byvoorbeeld leer om braille te lees, in winkelsentrums oor die weg te kom, loopbane aanpak, sport beoefen en ‘n curriculum te volg.

Hulle open selfs hul eie radiostasie waarin hulle met omliggende skole kommunikeer. Maar dit kyk veral ook hoe ouers hulle kinders in hierdie spesiale omstandighede hanteer, aanvaar en by hulle aanpas.

Romanse en vriendskappe wat ontwikkel of struikelblokke akkommodeer is ook temas wat pertinent voorkom.

Maar die karakters bejammer nie hulself nie of isoleer hulle van die lewe nie. Nog minder word hulle spesiaal uitgesonder of gestereotipeer. Hulle verstaan meer as enigiemand anders die uitdagings, tragiek, romanse, blydskap, konfrontasies, grappe en verhoudings wat onwikkel in ‘n skool vir blindes en die wêreld daarbuite.

Die interaksie tussen blindes en siggestremdes word met empatie en respek hanteer. Persoonlike intriges, soos in enige ander storie, kom gereeld voor, nieteenstaande die spesiale uitdagings van sekere karakters en hulle spesiale wêreld en omgewing.

Hierdie is dus nie ‘n dokumentêr of gedramatiseerde pleidooi om blindes te akkommodeer en te verstaan nie. Dit probeer om die twee soomloos te laat saamvloei en te kombineer en begrip te skep.

Nuwe akteurs

RSG fokus daarop om jong stemme te voeg by die reeds formidabele lys akteurs wat gereeld in van die stories te hoor is. Leon van Nierop het die jongelinge onder sy vlerk geneem en hul meesterlik gelei en geleer. Die tradisie van die ontwikkeling van spelers in die radiodrama-ateljee duur met trots voort. Ervare akteurs het ook saamgespan om hulle touwys te maak.

Agter va links na regs: JJ Roberts, Hendré Henning, Charlie Bouguenon, Pietie Beyers en Eddie de Jager. In die middel: Imarie Oberholzer, Ria Smit, Leon van Nierop, Mandi Baard, Thato Maphoroma, Frik Wallis. Voor  is Henriëtta Gryffenberg en Wiandre du Plessis

Die Rolverdeling en akteurs

Corlia Mouton                  Henriëtta Gryffenberg

Katryn Koegelenberg         Ria Smit

Emma Mouton                    Imari Oberholzer

Didi Roets                               JJ Roberts

Sweis Roets                          Charlie Bouguenon

Nardus Opperman              Pietie Beyers

Shane Smit                            Wiandré du Plessis

Nicole Hawkins                  Mandi Baard

Kallie Pretorius                  Eddie de Jager

Rocco Jonker                       Hendré Henning

Lothar Smit                          Leon van Nierop

Sylvia Smit                            Estel de Beer

Herman                                Rico Immelman

Potsunyane                          Junior Khumale (gas)

Ander gassspelers            Christian Norté en Brendan Kruger

Sittend om die tafel kloksgewys van links: Leon van Nierop, Henriëtta Gryffenberg, Ria Smit, Charlie Bouguenon, Wiandre du Plessis, Mandi Baard, JJ Roberts, Pietie Beyers en Imarie Oberholzer. Agter: Estel de Beer, Eddie de Jager en Hendré Henning

Wiandre du Plessis en Pietie Beyers

Die karakters en die storie

Corlia Mouton was die skoolhoof van ‘n prestige skool. Sy is ‘n formidabele vrou wat van uitdagings hou. Nadat die Uitsig-skool vir blindes in Pretoria byna bankrot speel omdat die voormalige hoof met meeste fondse en borge weg is, word Corlia deur ‘n geheimsinnige weldoener aangestel wat die skool pas gekoop het, om Uitsig te herposisioneer, weer op te bou en status te gee. Ook om dit van bankrotskap te red en as een van die voorste skole in die land te vestig.

Sy moet self eers leer hoe die skool werk en hoe blindes die lewe ervaar, wat ‘n deel van die storie uitmaak met die hulp van onderwysers en leerders. Haar dryfkrag, wat haar en die luisteraars lei, is die goedige en bekkige maar formidabele koshuismoeder, Katryn Koegelenberg, wie se man destyds koshuisvader vir die seuns was, maar wat haar ‘n dekade gelede ontval het. Sy is die blindes se yster-ma met ‘n mond aan haar wat vir niks skrik nie. Sy is hulle vertroueling, streng opvoeder maar ook simpatieke skakel met die buitewêreld. Katryn sal later by Sweiss Roets begin aanklank vind.

Nicole Hawkins, ‘n onderwyseres wat self swaksiende was, maar wie se sig dramaties verbeter het gedurende haar skooljare by Uitsig (2015 tot 2019), neem veral die blinde matrieks en siggestremdes onder haar vlerk en mentor hulle. Praat hulle moed in. Bied haar klasse (waar leerders altyd individuele aandag kry) formidabel en verbeeldingryk aan.

Sommige leerders kan bietjie sien of is siggestremd, ander kan slegs lig en donker asook beweging onderskei. Nicole se sig kom en gaan (dit het te doen met die impulse wat die senuwees tussen die brein en die oë stuur of wat breek of verdwyn), en ander is blind gebore. Nicole help en lei die leerders geduldig deur die wêreld van ‘n klaskamer na die buitewêreld waar daar gehoor en gevoel word, maar baie min gesien kan word.

Om die leerders ‘n goeie selfbeeld te gee en iets te gee wat hulle motiveer, het sy ‘n private radiostasie, Radio Uitsig, in die skool gestig waarin van die leerders gedurende pouses en die laaste uur voor slapenstyd uitsaai. Dit stasie het sy eie golflengte en luisteraars. Dit gaan hier oor klank en hoe daardie klank aangewend word, want blindes luister veral boeke en radiostories en voorlesings en stemme (soos Google-stemme,) dus stemme wat hul e-posse lees en stemme wat hul tekste vir hulle lees, selfs hul horlosies se tyd praat, en gebruik dit.

Corlia se lewe verander dramaties wanneer haar slim dogter Emma Mouton (16) kort ná haar aankoms in die skool in ‘n tref-en-trap-ongeluk blind raak. Nou is Emma die luisteraar se skakel met die wêreld van blindes. Iemand wat kon sien en skielik op 16 moet leer om depressie, woede en verwyte te oorkom, en Braille van voor af te leer en moet aanpas.

(Terloops, die uitvinders van Braille het braille-skrif in 1824, presies 200 jaar gelede, ontwerp, en dit sal ook in die verhaal gevier word.)

Die leerders en onderwysers moet ook help om fondsinsamelings te doen deur konserte, bazaars, sportbyeenkomste en allerhande ander maniere wat vele storielyne tot gevolg sal hê.  So staan almal saam met Corlia om die skool te red.

Ander karakters sluit in die platjie Didi Roets wat ‘n snoepie vanuit sy koshuiskamer bedryf. Hy woon in ‘n tent, want ‘n bed is vir hom te ongemaklik. Die tent staan in een van die leë kamers. Hy is gevat, bekkig, vrolik, kan klein bietjie sien, is die komiese afleiding en die hart van optimisme van die skool wat wys ‘n mens kan oorleef al is jy blind. Hy sal ‘n geliefde en unieke karakter word met ‘n piekfyn-persoonlikheid en lingo.

Sy rowwe dog vriendelike pa is Sweis Roets, ‘n motorwerktuigkundige wat sy werk verloor. Didi slaag daarin om vir hom werk as ‘n tuinier in Uitsig te kry, want die tuine is verwaarloos en hy maak alles in die skool reg en versorg die tuin. Hy het ‘n goeie hart.

Die leerders word ook aangemoedig om elk hul eie lappie grond te kry waar hulle blomme, groente ens. kweek om hul ledige ure te vul.

Die rebelse Shane Smit kan nie vrede maak met sy blindheid nie, en kom gedurig daarteen in opstand as hy in iemand vasloop of in krieket verloor. Dié sterk entrepreneur en voortvarende matriekseun verteenwoordig die frustrasies van blindes. Hy leer om sy blindheid te aanvaar want hy wil ‘n sportman wees wat rugby speel. Hy begin ‘n verhouding met die skoolhoof se (nou blinde) dogter, Emma Mouton. Hierdie verhouding tussen twee mense wat met ‘n donker wêreld moet vrede maak, is een van die vele storielyne wat die verhaal dryf.

Die anker karakter is die stabiele en sagmoedige, dog ferm en gesaghebbende hoofseun Rocco Jonker, wat stabiliteit moet handhaaf en die uiteenlopende leerders moet lei. Hy is die skoolhoof en onderwysers se steunpilaar en wys hoe feitlik enige frustrasie wat met blindheid gepaardgaan, oorkom kan word, maar ook hóé dit oorkom kan word.

Kallie Theron, die heldfhaftige wetenskaponderwyser sukkel self met ‘n oogprobleem – daar kom dikwels ‘n waas voor een van sy oë. Hy is die vriendelike dog streng skakel tussen rekenaarskerms met reuse-font op, sodat blindes kan sien, en die leerders wat heeltemal blind is en dikwels voorwerpe of abstrakte begrippe moet “voel.” Hy en Nicole (wat ook die radiostasie bedryf) sal later romanties bymekaar betrokke raak.

Vele ander karakters sal voorkom. Sommige blind, sommige kan sien. Ook ouers wat hul kinders se probleme moet hanteer, elemente soos gidshonde, die daaglikse administrasie van ‘n skool, die wyse waarop blindes met ‘n biblioteek omgaan (bestuur deur die geliefde Jan-Rap Krynauw wat ‘n leidende rol sal speel in braille-temas (een van die leerders wil ‘n boek skryf oor haar ervarings by die skool), hoe leesboeke in braille (of na gewone skrif)  verander word, hoe hierdie groot, swaar boeke vervoer word.

Die storie sal sentreer rondom die daaglikse probleme en vreugdes van ‘n groep blinde leerders wat leer hoe om met hul gestremdheid vrede te maak en oor die weg te kom, Corlia se massiewe probleme om die skool (saam met die weldoener) reg te ruk en die daaglikse skoolbedrywighede, en die reuse-invloed wat die oer-moeder Katryn op die kinders en hul welstand sal hê.

Die verhaal word geskryf met die bystand van blindes wat die feite soos in die episodes uitgebeeld, sal deurgaan en goedkeur, wat met storielyne kan help, en die stigma van blind wees, sal verwyder. Dit sal eindig met ‘n matriek-afskeid waar die leerders hul pryse en sertifikate sal ontvang ná die matriek-eksamen, maar ook die loopbane wat hulle kan volg en wat hulle met hul lewens gaan maak nadat Corlia die finansies omgedraai het en die skool  gered het.

Onder: Henriëtta Gryffenberg, Wiandre du Plessis en Ria Smit in aksie

Ons sê dankie

RSG betoon graag ons dank teenoor die verskeie persone in die blinde gemeenskap wat sonder om te skroom hulle deure vir ons oop gemaak het. Hulle insette was vanaf die ontstaan van die projek die basis waarop die karakters en storielyn ontwikkel is. Spesiale dank aan die personeel en spesifiek die skoolhoof van Prinshofskool, Karin Swart, wat ons ontvang het en tyd afgestaan het om ons na klaskamers te neem, ons voor te stel aan onderwysers en leerders, en die leefwêreld van ‘n skool vir blindes vir ons oopgebreek het.

Verder het die klank ingenieur Lané Croucamp, ‘n voormalige leerder van Prinshofskool, ‘n groot rol gespeek in die ontwikkeling van byklanke vir die vervolgverhaal. Sy het voortdurend bystand gelewer om seker te maak die klank wat in die produksie gebruik word is korrek en eg.

Verder was ander voormalige leerders van Prinshofskool soos Twané Norris gereeld met Leon in kommunikasie om ware insig tot die dag tot dag lewe van ‘n kind by ‘n skool vir siggestremdes te bied.

Stephné Botha, hoofbestuurder van Innovation for the Blind, het ook waardevolle inligting gedeel wat gehelp het om die prentjie in te kleur.

Episode opsommings

EP 1  26 Junie 2024
Corlia Mouton daag by die skool vir blindes op wat sy van bankrotskap moet red, en tref ‘n hele hoop probleme aan.

EP 2 27 JUNIE 2024
By die skool vir blindes ontmoet Corlia die moeilikheidmaker Shane Smit wat bipolêr is.

EP 3
Klein Didi, wat in ‘n tent in sy kamer in die skool woon, erken dat hy ‘n braille-briefie vir ‘n meisie skryf.

EP 4
Die blinde Shane staan in die middel van ‘n besige pad en kan enge oomblik raakgery word.

EP 5
Shane se pa besluit om die blinde ete by te woon waar ouers in die stikdonkerte deur hul kinders in die skool bedien word.

EP 6
Doktor Kallie gee vir Shane terapie nadat sy pa, Lothar, ‘n insident by die skool vir blindes veroorsaak het.

EP 7
Didi en Rocco is albei ewe erg oor Emma. Maar Shane staan in die pad.

EP 8
Emma, Corlia se dogter, veroorsaak ‘n klein sensasie onder die seuns in die skool vir blindes.

EP 9
Corlia probeer vrede met haar dogter Emma maak, maar dit is nie so maklik nie.

EP 10
Nicole is erg teleurgesteld nadat sy haar televisie-oudisie gedop het en Nardus vertroos haar.

Ep 11
Didi is verbaas as sy pa, Sweis Roets, by die skool opdaag.

EP 12.
Sweis, Didi se pa, maak ‘n geyser reg en kom in Katryn se goeie boekies.

 EP 13
Nadat Emma en Shane so lekker klere gekoop het, is hy na haar huis genooi vir middagete wat ’n konfrontasie met Rocco veroorsaak.

EP 14
Shane is in die moeilikheid by Corlia omdat hy Rocco aangerand het. Sy bel sy pa.

EP 15
Daar is skielik ‘n blokkasie by die skool se hek gedurende ‘n taxi-staking en Nardus moet gaan help.

EP 16
Shane se pa, Lothar, neem hom Durban toe, maar sake verloop nie vlot nie.

EP 17
Die bottelnek by die berugte brug oor die pad naby die skool ruk nou hande uit.

EP 18
Die stukkende stoel in Corlia se kantoor bring skielik twee uiteenlopende mense bymekaar…

EPI 19
Rocco begin sy skoolwerk afskeep ten koste van swem en Nicole praat met hom.

EP 20
‘n Ete by die skool veroorsaak wrywing tussen Rocco aan die eenkant, en Emma en Shane aan die anderkant.

EP 21 24 JULIE
Kallie neem Didi na ‘n winkelsentrum toe, maar die besoek loop skeef.

EPI 22 vir 25 JULIE
Wanneer Didi gimnasium toe gaan, ontdek hy Shane langs hom, maar skielik is Shane vriendeliker. Wat is aan die gang?

Word vervolg…