Die hele seisoen se radiodramas


Die tweede Radioteater-seisoen van 2024 duur van Donderdag 3 Oktober tot 26 Desember met ‘n nuwe radiodrama elke Donderdagaand om 20:00. Daar is ‘n span nuwe skrywers, regisseurs en stemme met gesoute en bekende akteurs wat agter die mikrofoon inskuif.

Die hele reeks radiodrama’s in ‘n neutedop:

UITSAAI-
DATUM
TITEL SKRYWER REGISSEUR
03 Okt
2024
Gelykheid en Broederskap & Ou Leeumelker
GB – Abel Coetzee & OL – JWF Grosskopf verw. Eben Cruywagen Ou Leeumelker: Juanita Velts Gelykheid en broederskap: Anrich Herbst
10 Okt
2024
Eendag in Alicante

Mari Snyman Mari Snyman
17 Okt
2024
Nag van die luiperd

Joe Kleinhans Estel de Beer
24 Okt
2024
Ikarus
Sophia van Taak Sophia van Taak
31 Okt
2024
Slag
Adriaan Havenga Ina Strydom
07 Nov
2024
Argief – Put sonder water

Bartho Smit Eben Cruywagen
14 Nov
2024
Soete wraak
Karen Wessels Karen Wessels
21 Nov
2024
Die nagskuit kom

Anton Treurnich Johan Rademan
28 Nov
2024
Mevrou Dominee
Riëtte Heslinga Lelia Etsebeth
05 Des
2024
Wysie oor die water

Argief: Grensgeval
Wysie oor die water: Albert Short

Grensgeval: Rita Swanepoel

Wysie oor die water: Innovation for the blind

Grensgeval: Joanie Combrink

12 Des
2024
Mammie se voorhuis
Erin Patience Denver Vraagom
19 Des
2024
Die ongebakte Alaska
Dr. Johanna Steyn Joanie Combrink
25 Des
2024
Die ster van Bethlehem

Henriëtta Gryffenberg Eddie de Jager
26 Des
2024
Argief: Kysbriewe

 A.R. Gurney verw. Eben Cruywagen Eben Cruywagen

Luister weer

3 Oktober

Die seisoen begin met ‘n tweeluik-aanbieding van klassieke kortverhale, Ou Leeumelker deur JWF Grosskopf en Gelykheid en broederskap deur Abel Coetzee. Dit is vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen, met Anrich Herbst as regisseur van Gelykheid en broederskap en Juanita de Villiers wat haar regiedebuut maak met Ou Leeumelker.

Die drama met Cobus Venter, Christelle Webb-Joubert, Francois Stemmet, Rian Terblanche, Christopher van der Westhuizen en Hannes Brümmer handel oor die legende oom Hansie (Die Leeumelker) wat ‘n leeu moet opspoor

Oom Hansie is trots op sy kennis en ervaring as jagter, selfs al word hy deur die jonger geslag onderskat. Sy liefde vir die ou tradisies bots met die moderne wêreld rondom hom, en hy probeer sy plek daarin behou. Oom Hansie simboliseer die einde van ‘n era, maar vasgevang in sy eie tradisie en trots. Die spelers is Cobus Venter, Christelle Webb-Joubert, Francois Stemmet, Rian Terblanche, Christopher van der Westhuizen en Hannes Brümmer. Juanita de Villiers is die regisseur. Vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen.

Gelykheid en broederskap handel oor die armoede tydens die depressiejare met Carel Nel, Cintaine Schutte, Richard van der Westhuizen, Pieter van Zyl en Stefan Vermaak in die rolverdeling.

Ons toneel speel af in die Johannesburg van die 1930’s, rondom ‘n tafeltjie in ’n kafee waar ‘n joernalis en sy fotograaf-vriendin sit. Die joernalis het ‘n ontmoeting met ‘n bedelaar gehad, wat ‘n groot indruk op hom gemaak het. Na aanleiding sy vertelling aan sy vriendin, ontgin die twee hoofkarakters gedagtes op die vraag of ons, as mense, uiteindelik tog maar ongelyk is, en slegs ‘n broederskap handhaaf met die mense van dieselfde stand. Die spelers is Carel Nel, Cintaine Schutte, Richard van der Westhuizen, Pieter van Zyl en Stefan Vermaak. Anrich Herbst is die regisseur. Vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen.

10 Oktober

Eendag in Alicante is ‘n roerende verhaal propvol romanse en nostalgiese liefde.

Om ‘n geliefde aan die dood af te staan is een van die moeilikste dinge wat ooit met enige mens kan gebeur. Maar is daar hoop na die verlies.

Gesoute akteurs Elma Potgieter, Anton Dekker, Anton Schmidt en Heidi Mollentze vertel ‘n  storie van hoop in Eendag in Alicante.

Geskryf en opgevoer deur Mari Snyman.

Die storie

Mira en David ontmoet mekaar in Alicante, ‘n romantiese kusdorp in Spanje, en dis liefde met die eerste oogopslag. Eendag in Alicante is ‘n terugblik en terselfdertyd ‘n vorentoe-kyk van hulle liefdesverhaal.

Toe Mira se man, David, dood is, onttrek sy haar. Sy hou op werk, vermy haar beste vriendin Katrien, antwoord nie haar foon nie, en sy gaan nêrens heen nie. Enige iemand wat ‘n geliefde aan die dood moes afstaan sal die gedrag verstaan.

Maar Katrien gee nie moed op nie. Toe sy agterkom Mira vermy haar, daag sy eendag onverwags by haar huis op, en sy ‘dwing’ Mira om vir ‘n slag weer uit te gaan en die buitewêreld te ervaar. Mira vind dit moeilik, en sy raak angstig toe sy aan David herinner word in die mansafdeling van ‘n winkel.

Katrien ondersteun haar vriendin en die twee deel herinneringe uit hulle verlede. Hulle dink onder andere terug aan ‘n besoek aan Alicante, in Spanje, waar hulle vakansie gehou het, en waar Mira David ontmoet het. Dit was liefde met die eerste oogopslag. En, weereens, sal mense wat dit ervaar het, verstaan hoe dit werk.

Mira en David het saam ‘n tuinbou-besigheid bedryf en hulle visdam met ‘n spuitfontein is vir haar baie belangrik.

Wanneer die spuitfontein se pomp breek, roep sy die hulp van ‘n nutsman in. Dis hoe sy Lourens ontmoet. Hy het al swaargekry in sy lewe en, sonder dat Mira dit beplan of voorsien, begin sy met hom gesels. Sy vertel hom van David en begin stadig maar seker vrede maak met haar geliefde se dood.

Maar dit bly nie net by gesels nie. Daar is heelwat kinkels in die kabel voordat Mira finaal kan afskeid neem van David.

17 Oktober

Joe Kleinhans het Nag van die luiperd geskryf na aanleiding van ware gebeure waarin ‘n paartjie in hulle daktent aangeval is deur ‘n luiperd.

Die radiodrama is gebaseer op ‘n ware verhaal. Woensdagnag 20 Maart 2024 beleef ‘n paartjie ‘n rillernag in die Bosobogolo-kamp aan die Botswanakant van die Kgalagadi-oorgrenspark toe hulle deur ‘n luiperd in hulle “veilige” daktent op hulle bakkie aangeval word.

Nag van die luiperd is nie die paartjie se storie nie maar dit het die skryf van die radiodrama Nag van die luiperd geïnspireer. Net soos die paartjie, is Buks en Amy Botha onbewus wat op hulle een donker nag in die Bosobogolo-kamp wag wanneer Buks en sy lewenslange vriend Christo Kirsten besluit om hulle 50ste verjaarsdag in die Kgalagadi te vier met ‘n sewe-dag toer. Hulle jarelange vriendin, die ryk weduwee Delia Dirksen, rëel alles en word deel van die verjaarsdagvieringe. Die vier mense dra baie bagasie saam met hulle uit die verlede. En toe word ‘n luiperd ingespan om ‘n wrok reg te stel.

Akteurs:
Francois Stemmet speel Buks Botha
Jacques Gombault speel Christo Kirsten
Lizz Meiring speel Amy Botha
Marina Coetzee speel Delia Dirksen
Carl Trautman speel Eduard Enslin
Carl Trautman debuteer in sy eerste RSG radiodrama.
Estel de Beer is die regisseur.
Tegniese versorging: JD Labuschagne and Dipalesa Motau.

Marina Coetzee

Christo Kirsten en sy vriend, Buks Botha, vier hulle 50ste verjaarsdag in die Kgalagadi met ‘n sewe-dag toer. Hulle jarelange vriendin, die ryk weduwee Delia Dirksen, rëel alles en word deel van die verjaarsdagvieringe. Buks en Amy Botha is onbewus van wat op hulle een donker nag in die Bosobogolo-kamp wag. Wat is gevaarliker in die afgeleë Kgalagadi? ‘n Jarelange wrok tussen vriende, of ‘n uitgehongerde luiperd?

24 Oktober

Ikarus uit die Griekse mitologie is die inspirasie vir die verhaal uit die pen van Sophia van Taak, aanbieder van Vers en klank. Sophia, bekend om haar bekroonde radiodrama Springgety, debuteer ook as regisseur.

Die storie
Dirk is skielik die laaste tyd buierig en ontwykend. Hy praat bykans nooit meer met sy lewensmaat, Mari, nie en kom party aande selfs nie eens meer huis toe nie. Wat is aan die gang? Hy was nog altyd impulsief, gedurig besig om die een of ander droom na te jaag. Maar hierdie keer… Mari kan nog nie haar vinger daarop lê nie, maar dit voel anders, kommerwekkend.

Vlnr agter: Sophia van Taak, Bianca Flanders, Marion Holm, Wilhelm van der Walt. Voor: Jana Kruger en Angelo Bergh.

Op ’n reeds spanningsvolle Saterdag word dinge tussen dié twee op die spits gedryf wanneer hulle vir eens en altyd oor hul verhouding móét gesels. Aanvanklik is die gesprek ’n versigtige eierdans – totdat die krakies begin wys…

’n Verhouding word troebel terrein word wanneer ’n paartjie nie meer openlik met mekaar gesels nie. Ná baie jare saam voel haar lewensmaat skielik vir Mari soos ’n vreemdeling. Wat het geword van die partydier-Dirk, die prettige ou vir wie sy destyds geval het? Toegegee, hulle het albei sedertdien groot geword, middeljarig geword… Maar sy gedrag is die laaste tyd só eienaardig dat Mari vir sy sielkundige gesondheid begin vrees. Hy is so afsydig en sy weet nie eens meer aldag waar hy heen gaan nie. As Dirk maar net wil práát! Sy bedink ’n plan wat hom forseer om een hele Saterdag saam met haar by die huis te wees, maar dan loop dinge lelik skeef.

Die rolverdeling
Jana Kruger en Wilhelm van der Walt vertolk onderskeidelik die rolle van Mari en Dirk.
Bianca Flanders speel hulle jarelange vriendin, Jessica, en Angelo Bergh is hulle buurman.
Johan Rademan is die nuusvoorleser, en die nuwe inwoner in hul woonstelblok word gespeel deur Marion Holm.
Die skrywer en regisseur is Sophia van Taak.

Die spelers is Jana Kruger, Wilhelm van der Walt, Bianca Flanders, Angelo Bergh, Johan Rademan en Marion Holm. Die regisseur is Sophia van Taak.

31 Oktober

Die veelbekroonde radiodramaturg Adriaan Havenga, skrywer van Die dood van Bititi en Iewers in die grys, verras opnuut met Slag wat sorg vir onverwagse verrassings en geheime om die spanning in die verhaal vol te hou. ‘n Storm laat ‘n ongewone gas op die plaas opdaag. Dit blyk die gas is in die omgewing vir ‘n rede.

Die rolverdeling is Juanita de Villiers, Tobie Cronjé en Donovan Petersen. Skakel gerus in om te hoor hoe die verhaal ontvou met regie onder leiding van Ina Strydom.

Die storie

Ina Strydom, Donovan Pietersen, Junita de Villiers en Tobie Cronjé.

Theunis Kriegler en sy dogter Willa woon op ‘n plaas en boer met skape.  Hulle leef afgesonderd, en kry nie dikwels besoekers nie.  Dan daag daar een nag tydens ‘n storm ‘n vreemdeling op wat hulle lewens onherroeplik verander. En die vreemdeling – wat vir Theunis ontstellend bekend lyk – word ingenooi met verreikende gevolge.  .

Junira en Donovan

Tot watter uiterste sal ‘n pa gaan om sy kind te beskerm?  Dit is een van die hooftemas wat in die drama belig word.  Theunis (Tobie Conje) en Willa (Juanita de Villiers) Kriegler  woon op ‘n plaas waar hulle met skape boer.  Willa se ma is jare gelede vermoor.

Nou is sy en haar pa op mekaar aangewese.  Sy het haar werk in die stad laat vaar om by haar pa op die plaas te gaan woon aangesien die druk wat haar werk veroorsaak het te veel vir haar geword het.  En haar pa word ouer.  En dan, een aand tydens ‘n storm, is daar ‘n klop aan die deur.  Willa nooi die vreemdeling, Clint Moolman (Donovan Pietersen), in – tot haar pa se uiterste ontsteltenis.

Clint het sy eie duiwels om te besweer en soek antwoorde oor sy broer se dood.  Maar nie een van die drie is voorbereid op die gebeure wat dié aand ontvou nie.

Dis ‘n verhaal van grenslose ouerliefde, maar ook van vergifnis en medemenslikheid.

Ina Strydom

Die regisseur, Ina Strydom sê dit was belangrik om die regte pa te kry – en van die begin af was daar net één stem wat vir haar kon werk en dit was Tobie Cronje.  Want die pa moes bo alles sorgsaam wees teenoor sy dogter.  Dié kind vir wie hy bereid is om ‘n groot las te dra, vir wie hy tot elke prys wou beskerm ná ‘n verskriklike en tragiese voorval op die plaas.  “En Tobie se vertolking is, getrou aan sy aard, meesterlik” sê Strydom.  “Sy sorgsaamheid, as méns en as akteur,  bied ook die veilige ruimte vir die ander twee om intense emosies te kon uitbeeld”.

Sy sê die oggend van die opname het al drie akteurs gesê die stuk is “intens” vanweë die hewige emosies wat hulle moet uitbeeld. Strydom sê al drie akteurs het uitsonderlike vertolkings gelewer.  “Dit was ‘n groot voorreg om met so ‘n teks, en sulke uitstekende akteurs te kon werk!”

Die skrywer, Adriaan Havenga vertel dat Slag se konsep vir hom baie interessant is: ‘n man en vrou wat op ‘n afgesonderde plek woon en dan skielik ‘n besoeker ontvang wat ou wonde oopkrap. Vrees en ras is temas wat gereeld in sy werk raakgesien kan word. In hierdie radiodrama is dit geen uitsondering nie en word dit op ‘n subtiele manier tussen die spannende ontrafeling van die storie se intrige verweef.

7 November

Die Hertzogbekroonde dramaturg Bartho Smit sou vanjaar sy 100ste verjaardag gevier het, en RSG onthou hom met die uitsending van die argiefdrama Putsonderwater. Smit is ook bekend om dramas soos Moeder Hanna en is met die Encyclopedia Brittanica-prys bekroon vir sy Engelse vertaling van Die verminktes as The Maimed.

Bartho Smit se klassieke  drama Putsonderwater is destyds in Suid-Afrika verbied, maar word weer uitgesaai ter viering van die skrywer se 100ste verjaardag.

Die storie
Die drama speel af op ’n denkbeeldige gehuggie in ’n afgeleë woestynstreek van die land.

Dié veelvlakkige, komplekse drama handel kortom oor Maria, ’n swanger tiener, wat deur die gesagsfigure van die dorp – die Dominee, die Koster, die Polisiesersant en die Dokter – seksueel misbruik word. Sy glo haar enigste hoop is om uit Putsonderwater te ontsnap, maar telkens word haar hoop verskuif na nuwe uiterstes wanneer die realiteit van haar omstandighede tot haar deurdring. Wanneer sy aan die einde van die drama ’n wiegeliedjie vir haar ongebore baba sing, word dit dus ’n metafoor vir die verwagte koms van die Verlosser van die wêreld.

Dit is verwerk en opgevoer deur Eben Cruywagen met Frieda van den Heever, Marlo Minnaar, Petrus du Preez, Johan Botha, Nic de Jager, Neels Coetzee en Johann Nel in die rolverdeling.

 

14 November

Soete wraak is die opvolg van die 2023-radiodrama Soete drome. Dié keer hou Karen Wessels haar lyf nie net skrywer nie maar ook regisseur.

Die storie
Lisa Bruwer ontmoet haar “ridder op sy wit perd”, maar dié romantiese held bring verwarring en ‘n klomp geheime uit die verlede met hom saam.

As Lisa Bruwer by ‘n kamer instap straal haar aura nie elektriese seksualiteit nie. Sy word gesien as ‘n moederfiguur, ‘n vriendin, die ouer sussie op wie se knoppie jy enige tyd kan druk. Ons het ons heldin laasjaar in die radioteater Soete Drome ontmoet en haar leer ken as die versorger, die maatskaplike werker wat lojaal haar gemeenskap dien.

Maar daar is ‘n punt in enige een se lewe waar jy die mantel as ewige vriend van jou skouers wil aftrek en jouself wil oopmaak as iemand se wederhelfte wat saam in die liefde kan deel.

Haar ontwaking en soektog maak haar blind vir dit wat reg onder haar neus senuweeagtig wag. Ons held Sersant Tiaan Malherbe probeer nou al vir jare die moed bymekaar skraap om Lisa uit te vra, homself weerloos te maak en sy eie hart in die spervuur van verwerping te plaas.

En soos in vele romantiese verhale, sodra ons dink ons twee soekende siele gaan uiteindelik mekaar vind en verewig gelukkig saam in die gloed van ware liefde leef, daag nog ‘n ridder op ‘n wit perd op. En ons storie raak skielik kompleks, net soos die liefde: ingewikkeld en morsig. Want die ridder bring saam met hom nie net verwarring nie maar ook die herinnering aan die pynlike foute van die verlede.

Ons verhaal volg die intriges van ‘n liefdes driehoek maar ook die twis waarin Lisa haarself bevind. Sal sy die kans waag en haar hart aan die onbekende ontbloot? Of veilig in die bekende rus en die onsekerheid wat met risiko gepaard gaan ontglip? En so word ons heldin se vooropgestelde idee van wat liefde is, of moet wees, bevraagteken.

Die akteurs
Marina Coetzee kan weer gehoor word saam met Pierre Breytenbach, Donoven Pietersen, Kevin Smith, Casper Lourens en Reginald Hufkie.

Reginald Hufkie, Patrick, Kevin Smith, Pierre Breytenbach, Marina Coetzee, Donoven Pietersen en Casper Lourens en Thato Maporuma

Karen Wessels is die skrywer en regisseur.

Karen Wessels

Karren Wessels, die skrywer, vertel
Om die aankondiging te hoor: “RSG Radioteater bied aan…” en dan jou naam as skrywer, en tydens dié drama seisoen ook as vervaardiger en regiseur te hoor, is ‘n hoendervleis oomblik vir my.

Marina Coetzee

Ek sou nooit kon raai dat toe ek as kind vasgenael voor my digitale alarmklok radio na Wolwedans in die Skemer geluister het dat my naam eendag in daai einste aankondiging genoem sou word nie. Die eer wat daarmee gepaard gaan neem ek as ‘n Afrikaanse kunstenaar nie ligtelik op nie.

Dit is nog ‘n groter artistieke mylpaal as jy as kreatiewe gees die kans kry om die woorde van jou eie geskrewe teks as regisseur deur die spel van die akteurs lewe te kan gee.

Die rolverdeling was ‘n groot aanwins en om saam met die gekose groep akteurs te kon werk het die opname proses vlietend laat voel en die teks het van die bladsye af gespring.

Pierre Breytenbach

Pierre Breytenbach

Van die akteurs is ou vriende, ek en Pierre Breytenbach kon vinnig giggel oor ons lawwe skets komedie dae, Marina Coetzee saam met wie ek as akteur gegroei het in RSG se drama ateljee kon die intensiteit van die pyn van ‘n gebreekte hart met ‘n traan of twee deel.

Kevin Smith wat sy wysheid en deernis met statige geduld onselfsugtig gedeel het, Donovan Pietersen wat so voorbereid en professioneel sy kuns beoefen, Casper Lourens wat vir geen oomblik gehuiwer het om passievol met ‘n byklank en stem of twee in te spring nie en Reginald Hufkie met sy kalmte en vrygewige spel het die groep se onkeerbare talent omvou.

Casper Lourens

Ons gesamentlike liefde vir die kuns wat ons beoefen, hierdie broederskap, hierdie oomblik is van ontskatbare waarde vir my. En daarvoor sê ek aan elkeen van hulle en die skerp tegniese span, dankie.

Reginald Hufkie

Die romantiese verhaal Soete Wraak is ‘n verloop van Soete Drome, ons delf dieper in die liefdes weë van ons nuwe heldin Lisa Bruwer. Die doel van die drama is om die luisteraars met onwillekeurige glimlagte op hulle gesigte te vang soos die romanse oor die radio golwe ontvou, want wat is tog mooier as ‘n skaam hart wat verlief is? Wat is soeter as die belowende woorde van die een wat jou hart gesteel het?

As Lisa Bruwer by ‘n kamer instap, straal haar aura nie elektriese seksualiteit nie. Sy word gesien as ‘n moederfiguur, ‘n vriendin, die ouer sussie op wie se knoppie jy enige tyd kan druk. Ons het ons heldin al in die radioteater, Soete Drome, ontmoet, en haar leer ken as die versorger, die maatskaplike werker wat lojaal haar gemeenskap dien. Maar daar is ‘n punt in enige een se lewe waar jy die mantel as ewige vriend van jou skouers wil aftrek, en jouself wil oopmaak as iemand se wederhelfte wat saam in die liefde kan deel. Sersant Tiaan Malherbe probeer nou al vir jare die moed bymekaar skraap om Lisa uit te vra, homself weerloos te maak, en sy eie hart in die spervuur van verwerping te plaas. Sal sy die kans waag en haar hart aan die onbekende ontbloot? Of veilig in die bekende rus, en die onsekerheid wat met risiko gepaard gaan ontglip?

21 November

Robey Leibbrandt

Anton Treurnich het ‘n stukkie geskiedenis vasgevang in Die nagskuit kom wat handel oor die storm-en-drang- jare tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die verhaal van die kampioenbokser Robey Leibbrandt vorm die agtergrond van hierdie Weskusstorie.

Johan Rademan het die regie behartig met Deon Lotz, June van Merch, Jacques Bessenger, André Samuels, Stefan Vermaak en Estelle Grobler wat haar debuut in ‘n radiodrama maak op 21 November.
Die akoestiese versorging van Cassi Lowers.

Die Storie

 Abraham Cloete sukkel voort op sy plaas in die Sandveld na sy vrou se dood. Sy dogter Simoné Cloete help hom na haar terugkeer uit Kaapstad waar sy gekwalifiseer het as verpleegster. Dit is ʼn laat Saterdagmiddag, Junie 1940, en ‘n storm is aan die broei oor die Weskus.

Ryk Swanepoel, die polisiesersant, kom verby met stories oor ‘n Duitse duikboot wat in die omgewing gesien is en as die rivier afkom sal hulle weer afgesluit wees van die dorp. Hy het ook sterk gevoelens vir Simoné wat sy nie deel nie.

Liesbet Booysen werk vir die Cloetes en het die rol van moeder vir Simoné ingeneem. Sy sien die agteruitgang van die plaas waarvoor sy so lief is maar voel sy kan niks daaromtrent doen nie. Haar enigste vreugde is wanneer Hendrik Hermanus kom kuier, hy is ‘n karretjie mens wat in die kontrei rondtrek en los werk doen.

Dis die man wat haar bed warm hou en haar hart laat aanhou klop. Maar sal hy ooit sy tentpenne permanent by haar vasslaan? Sy kan voel daar is iets groot aan die kom. Is dit net die weer of is daar iets meer daaraan?

Die storm beweeg in en die reën begin val. Almal moet help om die diere van die rivier se bank af in te bring. Daar op die rivier bank sien hulle die nagskuit met die waterstroom afkom. Eers lyk dit of daar niemand in is nie, dan sien hulle ‘n man wat in die boot lê. Hulle help hom tot by die huis.

Liesbet voel dadelik die moeilikheid aan en wil hê hulle moet van die man ontslae raak. Simoné skop vas, as verpleegster moet sy hom help. Abraham is te besig met voorbereidings vir die storm. Hendrik wil op sy donkiekar klim om so vêr as moontlik weg te kom.

Ryk, die polisiesersant, daag op met die nuus dat die rivier sy banke oorstroom het en die man van die nagskuit word wakker. Die perfekte storm.

Die spelers is Deon Lotz, Estelle Grobler, June van Merch, Jacques Bessenger, André Samuels en Stefan Vermaak. Die regie is behartig deur Johan Rademan.


Estelle Grobler, Deon Lotz, Stefan Vermaak, Jacques Bessenger, Johan Rademan, Andre Samuels. Voor: June van Merch

Jacques Bessenger, Deon Lotz en Estelle Grobler

Estelle Grobler en Deon Lotz

Andre Samuels, Deon Lotz en June van Merch.

Van die skrywer Anton Treurnich

Enige storie se oorsprong het vir my twee fonteine.

Die eerste is die storie wêreld. Die Nagskuit speel af in die Sandveld. ‘n Smal area tussen die Swartland en die weskus waardeur die Bergrivier vloei. Die wêreld ken meer droogte as oorvloed en enige oes hang af van die rivier se water.

Die tyd is 1941. Die tweede Wêreldoorlog is in volle swang. Suid Afrikaners is verdeeld oor wie om te ondersteun in die oorlog en die depressie van die 1930’s klou nog soos ‘n neut aan die mense van die Sandvlakte. In Junie 1941 daag daar ‘n Duitse duikboot langs die Weskus op en ‘n Sidney Robey Leibbrandt kom aan land.

My tweede fontein is die Karakters. ‘n Pa wat eintlik al opgegee het op die lewe en van oes na oes voortploeg. Sy dogter wat nog die mooi in die lewe kan en wil raaksien en wil help opbou. Dan is daar die vrou wat die plaas en sy mense haar verantwoordelikheid gemaak het. Hoe sy die eensaamheid probeer verdryf met ‘n verhouding wat sy weet nêrens heen oppad is nie.

Dan is daar drie mans wat deur die storie op die plaas opdaag. Elkeen van hulle wil iets hê: Vryheid, liefde en aanvaarding. Alhoewel die storm en vloed om die karakters woed is dit die karakters se besluite en die konflik tussen hulle wat die aksie vorentoe dryf en die spanning laat opbou.

Ek het besluit om die storie te skryf want dis ‘n interessante tyd in die geskiedenis, op ‘n mooi vergete deel van Suid Afrika met karakters wat inmekaar se lewens en in die vorming van Suid Afrika ‘n impak gehad he

Die regie is behartig deur Johan Rademan.

*Indien jy meer van Robey Leibbrandt wil hoor gaan na rsg.co.za en onder POTGOOI se Driesestig was daar vanmiddag n onderhoud van Johan Rademan met Richard van der Westhuizen, asook 2 Kortomme van 2 en 19 Nov toe Gert Sarrisam oor Leibbrandt se besoek aan sy oupa geskryf het.

Kortom 19 November 2024

Ons ontsluit die misterie van die Ossewa Brandwag-spioen, Robey Leibrandt. Dit kom uit ware verhale van die Namakwaland wat deur Gert Sarrisam geskryf is. Die titel van die boek is, AS MURASIES KON PRAAT. Die voorleser van die tweede en laaste deel van OUPA SE VREEMDE BESOEKER is Richard van der Westhuizen, wat op Springbok grootgeword en Robey Leibrandt geken het. Leibrandt het ‘n slaghuis bedryf, en was huisvriende met Richard se pa.

28 November

Mevrou Dominee moet besoekers uit die gemeente ontvang en onthaal. Riëtte Heslinga skryf uit inspirasie wat sy put deur fyn na mense te luister.

Lelia Etsebeth debuteer as regisseur en het die teks fyn ontleed en versorg om die klankryke wêreld van radioteater ten toon te stel.  Die stemme van Cindy Swanepoel, André Stolz, Doctor Khasu, Tobie Cronjé en Gretha Brazelle kan gehoor word.

Die storie

Wees maar die minste het soms verreikende gevolge. ʼn Nee wat nie gehoor word nie. ʼn Nee wat gesluk word. Letterlik. Die dominee se vrou dink sy is veilig wanneer sy (ont)vlug maar sy lei haarself om die bos. Sy oorleef ‘n haarknip (giftige kam) en stywe voorskoot (korset) maar wat van die appel?

Mevrou Dominee is, soos menige ander Maandae-oggende, hunkerend na Sondag se oorskot nagmaalwyn. In Dominee se afwesigheid pleit Gabriël by haar om nie in die versoeking gelei te word nie. Hy maak homself tuis op die pastorie se kombuiskaste vanwaar hy alles beskou wat Mevrou aanvang. Hy aanskou ook haar tweestryd: sy sukkel om die gemeentelede tevrede te hou ten koste van haarself.

‘Onse Mevroutjie’, soos die klein dorpie se mense graag na haar verwys, se rug knak onder die las van verwagtinge en dan sus die wyn in die yskas haar ergste pyn. Met Gabriël se leiding worstel sy egter deur haar eie verlede om alkohol-vrye oplossings te vind vir haar hede.

Riëtte Heslinga se drama Mevrou Dominee word uitgesaai op 28 November om 8uur. Die regisseur is Lelia Etsebeth met Cindy Swanepoel, André Stolz, Doctor Khasu, Gretha Brazelle en Tobie Cronjé in die rolverdeling.

Wiseman Manqele, Luke pillaym, André Stolz, Gretha Brazelle, Tobie Cronje, Doctor Khasu. Voor is Cindy  Swanepoel en Lelia Etsebeth.

Van die skrywer Riëtte Heslinga

Fyn luister na mense se stories wat dan snags draaie in my drome maak en vir jare lê en ryp word, was die inspirasie vir Mevrou Dominee. Voeg daarby kennis bekom tydens ʼn verskeidenheid kursusse as gevolg van ongekende leerlus; ook RSG se Radiodrama-opleiding. My gesin en vriendinne moedig my al lankal aan om te skryf; iemand van ons omgeegroep wat graag daad by die woord voeg, het beveel: “Nou skryf jy…”

Riëtte Heslinga se drama Mevrou Dominee word uitgesaai op 28 November om 8uur. Die regisseur is Lelia Etsebeth met Cindy Swanepoel, André Stolz, Doctor Khasu, Gretha Brazelle en Tobie Cronjé in die rolverdeling.

5 Desember

Vanaand wag twee kortverhaal-dramas op die luisteraars.

Wysie oor die water
is ‘n kortverhaal deur Albert Short. Die drama is ten volle opgeneem en geproduseer deur siggestremdes in die ateljee van Innovation for the Blind op Worcester. Geen moeite is deur dié kreatiewe span ontsien om die beste eindproduk die lig te laat sien nie, selfs om in ‘n ysige swembad te klim in die middel van die winter!

Die drama is geskryf deur Albert Short en vervaardig deur Gavin Grundlingh, die regisseur was Sarel van der Westhuizen, die viool is gespeel deur Morné van der Merwe en die hoofrolle vertolk deur Sanna Antonie en FC Smit, almal siggestremdes.

Die storie

Dis ‘n stormagtige nag op ‘n skip. ‘n Meisie bevind haar op die skeepsdek, alhoewel sy weet dat die veiligste plek eintlik haar kajuit sou wees. Nogtans bly sy, en ontmoet sy ‘n misterieuse jong man. Dadelik is dit asof hulle mekaar ‘n leeftyd al ken.

In die verwarring van golwe, seewater en wind raak dit al hoe moeiliker om helder te dink. Wanneer reuse golwe oor die dek spoel en jy skaars kan sien wat om jou aangaan, is dit maklik om perspektief te verloor. Later wonder jy: waar is ek, en hoe lank is ek al hier?

Maar net soos wat ‘n storm op die see vrees en verwarring bring, bring dit later ook kalmte en rus. En nuwe geleenthede. Ander dinge om te beleef.

Die skrywer Albert Short vertel:

Die idee vir Wysie oor die water kom al meer as 25 jaar saam. Dis eers toe ek ‘n ruk terug van ‘n Kunstefees op ‘n skip gehoor het, dat ek besluit het om dit neer te skryf.

Ek het in my jongdae in Engeland gewerk. Dit was in 1996 en 1997. Ek het die land goed verken, maar wou graag die res van Europa ook sien. Die enigste land waarheen ek egter sonder ‘n visa kon gaan, was Ierland.

Die skip het vanaf ‘n hawe met die naam Land’s End vertrek. My beplanning was besonders sleg, want ek het om die een of ander rede so teen middernag aan boord gegaan. As ek reg onthou, was die rit drie ure lank, en omdat ek nie ‘n kajuit gehad het nie, het ek sommer net doelloos rondgedwaal.

Teen ongeveer twee-uur die oggend het ek my op die agterste dek bevind. Dit was ‘n magiese oomblik. Ek was alleen. Bokant my was die nag se koepellig genoeg sodat ek die wolke kon sien, en onder my het die oseaan gemaal. Die seewater het in wit strepe agter die skip gelê.

Ek het my aan die wêreld vergaap, maar die besef het my soos water in die gesig getref: indien ek per ongeluk oor die reëlings sou tuimel, sou niemand ooit weet wat van my geword het nie. Ons was te ver van die land af vir my lyk om ooit uit te spoel. Ek sou waarskynlik net in die donker dieptes verdwyn. Vir ewig sommer net weg.

Met die jare het die herinneringe aan hierdie oomblik vervaag, maar toe ek hoor van ‘n fees wat op die water gebeur, het allerlei gedagtes versmelt. Ek het my gevoelens in ‘n storie neergeskryf, en is verheug dat ek dit nou deur verbeelding en klank met mense kan deel.

Die geluid van die see is soos musiek. Asof ‘n wysie daarin vasgevang is. Dalk meer as een liedjie. Eerder ‘n hele koor of simfonie. Musiek kan streel of ontstel, maar daar is altyd iets magies omtrent dit. Nes die see, is goeie musiek tydloos. Die see is ‘n plek van veranderende emosies en daarom ‘n gepaste plek om ‘n storie oor mense en wonders te laat afspeel. Party menslike gevoelens is diep, ander oppervlakkig. En dis dieselfde met die see.

En bo alles is dit ‘n absolute eer dat hierdie verhaal deur die wonderlike mense by Innovation for the Blind opgevoer word. Daar is niks wat hierdie fantastiese voorreg ooit kan oortref nie.

Grensgeval

Die kortverhaal sal gevolg word deur ‘n argiefdrama uit 2011, Grensgevaldeur Rita Swanepoel met regie deur Joanie Combrink.

Die rolverdeling is  Roeline Daneel, Eben Genis, Waldemar Schultz, Wessel Pretorius en Susanne Beyers.

Die storie

Janet se opwinding is groot as sy en Arno saam gaan kamp nie lank na hy teruggekeer het van die grens af nie.

Haar ma het haar bedenkinge, maar Janet staan vas. Tot Janet se verbasing openbaar Arno vreemde gedrag wat ly tot ‘n paar grensgevalle. Hy word oorweldig deur herinneringe aan sy tyd op die grens tydens sy dienspligjare.

‘n Kamp wat moes afleiding en ontspanning bied word skielik ‘n terugflits van aksie, trauma en verlies.

12 Desember

Mammie se voorhuis bied ‘n blik op die wel en wee van ‘n Kaapse ouerhuis waar die deure oopstaan vir almal om hulle bagasie te kom afpak.

Erin Patience debuteer as skrywer met hierdie storie uit haar gemeenskap.

Daar word gekyk na die seer, die liefde en die saamstaan van ‘n buurt. Waar bure nog bure is en na mekaar omsien. Waar liefde seëvier. Nie net romanties nie, maar ook in die alledaagse omgee. In Engels sê hulle mos: ‘It takes a village’.

Die rolverdeling is Zenobia Kloppers, René Cloete, Simoné Benjamin-Carolissen, Sharfa du Plessis (debuut), Cole Wessels en Enrico Hartzenberg.

Die regisseur is Denver Vraagom.

Agter van links na regs: Zenobia Kloppers, Denver Vraagom, Simoné Benjamin-Carolissen, Cole Wessels Kniellend voor: René Cloete, Enrico Hartzenberg en Sharfa du Plessis.

Agtergrond

Wanneer Mammie se deur vir almal oop staan, kan dit nogal bietjie erg raak vir Tamia. Dit voel of Mammie al haar aandag aan die bure skenk en nie op haar fokus nie. Dit veroorsaak dat Tamia die goeie nuus wat sy ontvang het, van haar ma en haar pa weerhou. Maar, ook net omdat haar ma haar gedurig in die rede val. Tog verstaan sy dat die dood van haar broer, nie so maklik vir haar mammie was om te verwerk nie.

In die hartjie van ‘n uitbundige Kaapse gemeenskap, word ons hartlik uitgenooi om ‘n rukkie saam met Mammie te kuier in haar bruisende alledaagse lewe.

‘n Doodgewone dag is omver gegooi met die opwindende nuus van ‘n troue, gevrekte kat, jong liefde en die skemer van ontwrigtende familie-geheime.

Mammie, ‘n charismatiese gemeenskapsmens, se voorhuis is ‘n skuilplek van hoop en vreugde vir talle in haar buurt. Met ‘n oop hart en voordeur, verwelkom sy haar wêreld; gretig om in te spring met hulp en raad waar nodig.

Haar babbelkous vriendin, Shamila, dra ook alewig by met haar skertsend komieklike kommentaar. Deurloop van die bohaai, ontmoet ons vir Tamia, ‘n ambisieuse student met die groot drome…en nog groter geraamtes in die kas.

Die storie

Tamia is Mammie se oorblywende kind na die hartverskeurende dood van haar ouer broer, Michael. Hierdie verlies bly ‘n pynlike wond wat die familie steeds oor rou.

Al kloek Mammie se voorhuis bont met lewe en hoop, weet daardie vier mure alleen hoe bitter erg sy vasklou aan die herinneringe van haar seun. ‘n Besige huis vertroos ‘n eensame hart, of hoe?

Met verloop van die dag, ontmoet ons Mammie se buurseuns. Ricardo, ‘n liefdevolle grapgat wat gedurig by Mammie kuier en haar koskas leeg eet; en dan later vir Tony, die jong Adonis-van-‘n-man, wat vanaf kindsbeen al verlief is op Tamia.

Die spanning tussen Tamia en Tony besit reeds ‘n geheimsinnige liefdesnes, terwyl dit angstig wag in die skadu van lewens veranderende nuus wat later onthul word. Nuus wat beslis Mammie en Tamia se verhouding hard sal tref en sout op hulle familie-wond smeer.

Trou-voorbereidings kom tot ‘n stilstand wanneer die bruid, met krokodiltrane en ‘minced’ hare, die voorhuis instorm. Familie-vriendin, Jonie, se troudag word self verklaar as ‘n ‘absolute ramp’ nadat haar beplanner skielik kop uitgetrek het.

Ongelukkig, net soos die beplanner se pas-gevrekte kat, het die hele dag se reëlings ook die gees gegee. Mammie maak onmiddellik ‘n plan om die dag te red deur die voorhuis te omskep in ‘n huweliksonthaal.

Almal span saam om die troue ‘n werklikheid te maak, in die einste voorhuis waar Michael vir Jonie aan haar nou-verloofde lank gelede voorgestel het. Wat vir Mammie ‘n dag van vreugde was, het suid gedraai wanneer sy Tamia se geheim uiteindelik ontdek: sy trek Australië toe vir ‘n universiteits projek.

Alles stort in-een wanneer Mammie vrees dat Tamia haar moontlik ook kan verlaat soos Michael; maar vir Tamia, verlang sy na ‘n innerlike skuiling in die huis waar die hele buurt hul vrede vind behalwe sy wie daarin grootgeword het.

Van die regisseur Denver Vraagom

Wat ‘n fees was dit nie om weer saam met Zenobia Kloppers en Simoné Benjamin – Carolissen te kon werk nie. Twee ou hande agter die mikrofoon. Hierdie keer was hulle saamgespan met jonger radiodrama – akteurs. Jonger akteurs wat met soveel energie en entoesiasme net meer en meer wou leer, maar ongelukkig is daar net soveel ure in ‘n opname – dag.

Erin Patience se debuut-teks is werklik ongelooflik roerend en relevant. In hierdie nuwe drama word daar na die lief en leed van ‘n straat in ‘n buurt gekyk. Sy pen mooi. Die karakters is kleurvol en haar dialoog wil na geluister word. Daar is ‘n energie in haar skrewe. ‘n Energie, wat kleurryk deur die akteurs vasgevang word.

Daar word gekyk na die seer, die liefde en die saamstaan van ‘n buurt. Waar bure nog bure is en na mekaar omsien. Waar liefde seëvier. Nie net romanties nie, maar ook in die alledaagse omgee. In Engels sê hulle mos: It takes a village.

Zenobia Kloppers wat die rol van Mammie vertolk, sê:

Die karakter, “Mammie”, is ’n tipiese warm moederfiguur wat terselfdertyd nogal eksentriek is. Die trauma van haar seun se dood kom na vore wanneer sy oorreageer op haar dogter se onverwagse nuus. Sy is trots daarop dat sy na almal in die gemeenskap omsien en dat almal welkom voel in haar voorhuis. Ten spyte van haar eie verlies en hartseer, verwelkom sy steeds almal. Ek dink sy het dit eintlik nodig, want omgee vir ander is wat haar aan die gang hou en haar hernuwe.

Die skrywer Erin Patience sê:

Om ‘n storie geïnspireerd deur my persoonlike gesinslewe te skep, was nog altyd diep teen die mure van my hart gekerf. Ek glo die Here Jesus het alles so perfek beplan want op ‘n groter skaal is hierdie drama ook ‘n danksegging aan my ouers en familie. Dus het ek met tyd meer oplettend begin raak teenoor mense se maniërismes, manier van storievertelling, kommentaar, ens. Die mense in my lewe is my inspirasie.

Die kernpunt wat ek in hierdie drama wou duidelik maak was, ‘gemeenskap’. Hierdie tema het weereens tot gedagte gekom tydens twee onvergeetlike scenario’s waarin ek myself gevind het, net toe ek begin skryf het.

Eerstens, een van die kere toe ek my hare laat vleg het by ‘n agterkamer huis-salon in die Oos Rand. Die geselligheid tussen die verskeie mense en die dinamiese atmosfeer het my sterk herinner aan my familie in die Kaap. Die tweede geval was toe ek in my ouers se voorhuis gesit het, terwyl hulle en ons familie-vriende vir mekaar uitbundige stories van hulle jonger dae vertel het. Elke verhaal was uniek tot hulle menswees.

Toevallig was ek reeds ‘n paar bladsye in met ‘Mammie se Voorhuis’ maar in daardie oomblik het ek weereens die waarheid beleef waaroor ek so inniglik wou skryf: ‘Gemeenskap’ is om lewe saam te doen.

19 Desember

Dis Kersfees, die seisoen van welwillendheid, vrede en samesyn. Die ongebakte Alaska belig  daardie opwinding, vreugde en spanning oor die feestyd – veral as ‘n woonstel te klein is en die toilet te veel spoel.

Johanna Steyn skryf hierdie drama om ons almal te herinner dat die Kerstyd oor soveel meer gaan as vooropgestelde idees. Die ongebakte Alaska is Johanna Steyn se debuut as radiodrama skrywer.

Hannah Borthwick, André Terblanche, Albert Maritz, Susanne Beyers en Conradie van Heerden kan gehoor word in die drama met regie deur Joanie Combrink.

Agter vlnr: André Terblanche, Joanie Combrink, Albert Maritz, Hannah Borthwick. Sittend: Conradie van Heerden en Susanne Beyers.

Die storie

Estelle en Hennie berei voor vir ‘n Kersmaal in hul piep klein woonstelletjie. Haar ma en die se vriend is genooi om die Kerstyd by hulle te kom deurbring. Sy wil graag haar ma beïndruk, maar dinge werk nie heeltemal uit soos wat Estelle dit beplan het nie.

Dis Kersfees, seisoen van welwillendheid, vrede en samesyn. Dis die tyd van die jaar wanneer families saamkuier rondom ’n gesellige tafel vol geurige kos, hartlike gemoedelikheid, komplimente en geskenke. Of is dit? Estelle en Hennie het haar ma en die se vriend, genooi om Kersfees by hulle te kom kuier. Kom vind uit wat gebeur wanneer Estelle se perfek beplande Kersfees in die wiele gery word toe haar skoonfamilie onverwags opdaag enkele ure voor haar moeilike ma en dié se nuwe vriend arriveer. Estelle wil graag haar ma beïndruk met ‘n gebakte Alaska as nagereg. Hoe gemaak wanneer jou woonstel skaars groot genoeg is vir twee en jou geklitste eierwitte die hele tyd verdwyn terwyl die wyn vrylik vloei en die gekuier luidrugtig raak. Die perfeksionistiese Estelle sukkel om vrede te maak daarmee. Humeure vlam op en waarhede word vertel, maar op die ou end is Kersfees dalk tóg die seisoen van vergifnis en liefde.

Die skrywer Johanna Steyn skryf:

Hierdie stuk broei al vir jare in my kop. Alles speel af in die kombuis en ons volg die oploop van spanning deur wat die karakters in die kombuis kom doen. Die inspirasie daarvoor kom van ’n improvisasie wat ons in die dramaklas moes doen wat afspeel tydens ’n familie ete.

Die gehoor sien net die kombuis en die verhoog is dikwels leeg, maar die agtergrondgeluide en karakters se reaksies, lyftaal en gesprekke wanneer hulle dinge in die kombuis kom doen (soos vuil skottelgoed inbring, nog wyn kom haal, ens.), dui aan hoe die spanning opbou.

Wat die storie betref: Kersfees is die tyd van die jaar waarna baie mense uitsien, want dit is die tyd om te ontspan en dis ook die kans om saam met familie te kuier wat jy nie so gereeld te siene kry nie. Maar ek en ’n vriend het op ’n keer aan die gesels geraak oor Kersfees en hy het toe laat val dat dit vir hom glad nie ’n tyd is om te ontspan nie, juis omdat hy saam met familie moet kuier, want nie almal kom noodwendig oor die weg met mekaar nie en ook omdat die vrouens in sy familie en skoonfamilie die kos al maande voor die tyd haarfyn beplan en dit irriteer hom grensloos want eintlik wil hy nà sy lang en moeilike jaar net op die bank sit en sport kyk en eet wat hy wil, wanneer hy wil. Hy verkies dit eintlik om Kersfees ver weg te gaan en eerder op ’n ander tyd saam met die familie te kuier.

Ek dink Kersfees is vir heelwat mense nie juis ’n plesier nie – veral as jy dink aan oorvol winkels en ongeduldige mense en hoë verwagtinge. Soms is humeure maar kort want almal verwag om ’n goeie tyd te hê en dikwels werk dit nie so uit nie. Vir party mense is dit erg dramaties en dit kan daartoe lei dat mense vir lang tye nie met mekaar praat nie.

Ek dink egter dat dit eintlik nogal snaaks kan wees want ons is almal maar net mense en ons neem onsself dikwels heeltemal te ernstig op. Dit gesê wil ek ook noem dat daar mense is wat enige situasie met grasie kan hanteer en enige iemand kan laat welkom voel, maak nie saak of jy nou genooi is of nie. Ek is nie een van hulle nie.

Luister na die drama:

DIE ONGEBAKTE ALASKA deur Johanna Steyn

25 Desember

Op 25 Desember word ‘n spesiale Kersprogram gevolg met ‘n Kersdrama om 15:05. Die Ster van Bethlehem is ‘n verwerking deur Henriëtta Gryffenberg van die verhoogteks “Wagters op die mure” deur haar pa, Emil Gryffenberg. Die verhaal word vertel vanuit die oogpunt van ‘n jong, gestremde skaapwagter wat op die buitewyke van Bethlehem woon.

Die rolverdeling sluit jong, bekende en nuwe stemme in soos Hendré Henning (wat in die vervolgverhaal Op die oog af gehoor is), Charlie Bouguenon, Kaz McFadden, Duncan Johnson, Antowan Nothling en Rian Terblanche. Lizelle Pike maak haar buiging as Maria. Eddie de Jager is die regisseur.

Die drama speel af tydens die regering van die Romeinse Keiser Augustus, waartydens die Joodse volk, Israel, deel was van die Romeinse Ryk. Dit word vertel uit die oogpunt van ‘n jong gestremde skaapwagter, wat in die buitewyke van Bethlehem skape oppas, terwyl sy vader snags die nagwake uitroep. In die ou dae voordat daar van horlosies gebruik gemaak is, was die gebruik dat die wagte op die mure om die stad, die stand van die sterre snags dophou om só die tyd te bepaal. Die skaapwagter, Mefiboset, se leergierige pa, Shamar, bestudeer en dokumenteer egter ook die stand van die sterre. Die verhaal skop af as ‘n vreemde ster met ‘n langstert sy verskyning op die horison maak. Die oorspronklike teks, WAGTERS OP DIE MURE, is verwerk vir die radio deur sy dogter, Henriëtta Gryffenberg.

26 Desember

Die seisoen sluit af met die argiefdrama Kysbriewe (Love Letters) deur A.R. Gurney.  Dié liefdesverhaal is vir die radio verwerk, vertaal en opgevoer deur Eben Cruywagen met Johann Nel, Juanita Swanepoel en Ronel Geldenhuys in die rolverdeling op 26 Desember.

Dit handel oor Andrew en Melissa wat vir sowat ses dekades lank vir mekaar briewe skryf. Dit is ‘n wipplank- en uitdagende verhouding wat veroorsaak dat hulle al hoe verder van mekaar wegdryf. Maar op papier blom die liefde steeds.