Vanaand: Dokumentêr oor ‘jukeboxes’


RSG se tweede dokumentêre seisoen vir die jaar word vanaf Julie elke Donderdagaand om 20:00 uitgesaai . Alle dokumentdokumentêre sal ook op potgooi beskikbaar wees by rsg.co.za

25 Julie
Haidee Muller-Isaacs reis nostalgies na die era van jukeboxes – lank voor musiekstroomdienste beskikbaar was. Waar kom hierdie blêrkaste vandaan en hoekom het Suid-Afrika dit in 1948 verbied? Luister Donderdagaand 25 Julie om 20:00.

1 Augustus
Padwoede in Suid-Afrika het met rasse skrede toegeneem. Op Donderdag 1 Augustus om 20:00 kyk Flip Loots na hierdie vorm van aggressie en wat dit veroorsaak. En hoe tree ‘n mens op as iemand ‘n krieketkolf of gholfstok uit die kattebak haal en iemand in spitsverkeer daarmee aanval?

8 Augustus
Om 20:00 gaan kuier Lizelle de Bruin op die strande van St. Helenabaai waar ‘n groep vroue sit en die visnette van die groot treilers regmaak. Dit is ‘n verhaal van liefde vir die see en hoe ‘n weskusgemeenskap oorleef.

15 Augustus
In Wik en weeg deur Eloise Cupido op Donderdag 15 Augustus kyk sy na die dilemma wat soveel ouers ondervind wanneer hulle moet besluit – moet ek my kind in die klein plaaslike skool waar ons woon laat aanbly of eerder na die spogskool in die verafgeleë stad stuur met die hoop op ‘n beter opvoeding en geleenthede?

22 Augustus
Pieter Steyn, Op en Wakker se inhoudregisseur, het na Magoebaskloof gereis vir Mooiloop by die dinge, wat op Donderdag 22 Augustus uitgesaai word. Dit handel oor een van die grootste tamatieprodusente in die wêreld wat in sy direksie ‘n filosoof aangestel het. Dit het die koers van die megaboerdery in Limpopo radikaal verander.

29 Augustus
Die akteurspaar Carel Trichardt en Petru Wessels is bekend vir hul verhoog-, radio- en rolprentwerk en het selfs hul eie teater in Pretoria bedryf. Hulle is reeds vir bykans sestig jaar lank getroud en Ina Strydom laat val die kollig op Donderdag 29 Augustus op hierdie twee veterane in die Afrikaanse kunste.

5 September
Op Donderdag 5 September volg Martelize Brink se Vlug, na waar? wat handel oor vlugtelinge wat in vreemde lande waar hulle nie eens die taal magtig is nie, ‘n nuwe lewe probeer skep.

12 September
Carla Mackenzie bekyk die kleurryke geskiedenis van wyle Jerry Watt en die internasionaal bekende The Rockets op Donderdag 12 September. ‘n Kleinkind van Jerry volg egter in oupa se voetspore en sorg dat die musiek steeds weerklink.

19 September
In die voorlaaste dokkie van die seisoen vertel Heindrich Wyngaard van die raaiselagtige verdwyning van baba Zephany Nurse. Zephany is drie dae na haar geboorte in 1997 uit ‘n hospitaal in Kaapstad gesteel.

26 September
Die seisoen word op Donderdag 26 September afgesluit met ‘n uurlange dokkie oor die “vergete mense” van Platfontein in die Noord-Kaap deur Fritz Klaaste en Johann Pieterse. Platfontein, net buite Kimberley, bestaan uit twee San-groepe, !Xun en Khwe. Talle van hierdie San-mense was soldate wat in die destydse grensoorlog geveg het, maar hoe het hulle in hierdie verlate plek beland en wat is hul daaglikse uitdagings?

RSG se tweede dokumentêre seisoen word gevolg deur Frazer Barry se nuwe musiekreeks, Rymklets sonder grense, om 20:30.

Afgehandel

4 Julie
Die seisoen begin op Donderdagaand 4 Julie om 20:00 met Derrich Gardner se dokumentêr oor Al Debbo, wat in verskeie gewilde komiese rolprente te sien was en onthou sal word vir sy lekkerlagtreffer Sonbrilletjies.

11 Julie
Die volgende week is Ettienne Ludick aan die beurt met Walms vol geheime oor damprook wat soos ‘n veldbrand onder kinders versprei. Hierdie sogenaamde onskuldige manier van rook word selfs deur sommige ouers aangemoedig wat vir hul kinders vapes koop. Maar wat is die werklike gevaar?

18 Julie
Op Donderdag 18 Julie betree Elsje van Jaarsveld die snelgroeiende wêreld van Kunsmatige Intelligensie (KI) en bekyk die voor- en nadele asook die jongste maniere wat mense hierdie nuwe tegnologie aanwend.