Rare versameling antieke tapisserieë
Johan Rademan het by Nicky Coetzee se huis gaan besoek aflê en op kultuurhistoriese skatte uit Frankryk afgekom wat jou asem sal wegslaan – antieke tapisserieë van tussen 200 en 400 jaar oud!
Nicky Coetzee gesels oor haar droom van kleindogtertjie se verbeeldingsvlugte in ouma se tapeserie op die plaas Ramskop in Calvinia na Frankryk se dorpie Aubosson. Aubusson is ‘n dorpie in die Limousin streek in Frankryk. Die Creuse-rivier sny deur die gebied en die water met ‘n hoër suurgehalte het eeue gelede daartoe gelei dat manjifieke tappeserieë in die dorpie met die hand geweef is. Die suurgehalte van die rivier se water, maak dit makliker om die wol en materiaal wat gebruik is, te was en oorbodige olies van ontslae te raak.
Vroeër in die Middeleeue het spanne van tot 10 mans, of selfs meer, daaraan gewerk en dit was fisies inspannende werk wat ook fyn kunstenaarskap geverg het. Die spanlede het dan volgens hul sterkpunte gewerk en met die hand geweef. Party was goed met flora, ander fauna en dan weer mensfigure, kastele en katedrale.
Nicky Coetzee se inspirasie kom uit die Konings Louis se tydperke Louis die 14de, 15de en selfs 16de, maar die Suid-Afrikanaanse kunstenaar Louis Janse van Vuuren en Hardie Botha wat juis in die streek woon het haar op die spoor van die uitsonderlike skaars werke geplaas.