Weeksdae: Rika Sennett lees Audrey Blignault
Met haar rooi rok voor RSG se deur
Die aktrise Rika Sennett lees dan voor uit Met my rooi rok voor jou deur: ’n Keur uit die werk van Audrey Blignault (uitgegee deur Tafelberg-uitgewers).
Die onweerstaanbare Audrey Blignault het destyds die wêreld van die Afrikaanse vrou óópgeskryf en was haar tyd vooruit. Dié unieke keur bring haar beste werk byeen, van kort sketse uit die vroeë bundels tot langer essays en verhale uit latere publikasies. Hierdie baldadige, skalkse, “onwennige ouma” skryf dalk oor vervloë dae, maar op so ’n unieke, toeganklike manier dat dit vir vandág se leser kraakvars is, en jou ten diepste raak.
Die regisseurs is Kobus Burger en Ina Strydom.
DIE SKRYWER AUDREY BLIGNAULT
Audrey Blignault (1916 – 2008) is met die Eugène Marais-prys bekroon, die W.A. Hofmeyr-prys asook met die Italiaanse Adelaide Ristori-prys vir haar bydraes tot kultuur. Die ATKV het haar met hul Prestige-toekenning vereer. En die KKNK in Oudtshoorn het haar die Afrikaans Onbeperk-prys vir lewensbydrae gegee.
RSG het Blignault gehuldig met die uitsending van ’n Oulap se rooi met die aktrise Woutrine Theron as deel van RSG Kunstefees 2016, ter viering van Blignault se 100ste verjaardag.