RSG kondig wenners van ons 28ste Radiodramakompetisie aan


Die wenners van die 28ste RSG-Radiodramaskryfkompetisie, aangebied in samewerking met die ATKV, is pas in die gewilde program Spitstyd op RSG bekend gemaak.

Hierdie kompetisie, wat jaarliks groot name en opkomende skryftalent lok, is ’n bewys van RSG se statuur as die pionier van radiodramas in Suid-Afrika. Om as wenner uit hierdie uiters gesogte kompetisie te tree, is nie net ’n eer nie, maar ook ’n kans om deel te wees van die tradisie om radioteater na die huise van luisteraars te bring.

Volgens Estel de Beer, RSG se Senior Vervaardiger: Drama en Opvoedkunde, was daar vanjaar ’n merkbare styging in die kwaliteit van inskrywings. “Die beoordelaars het almal aangedui dat die inskrywings vanjaar van ’n uitsonderlike hoë standaard was. Die wenners het duidelik uitgestaan, en daarom het ons besluit om vanjaar ’n addisionele merieteprys toe te ken. Ons sien uit daarna om hierdie ongelooflike verhale met ons luisteraars te deel.”

Die wenners is as volg:

Marion Erskine. Foto: Clare Clark Photography 9

Eerste plek: Konneksie deur Marion Erskine
Tweede plek: Leniesgif deur Hendie Grobbelaar
Derde plek: Lyne Wat Kruis deur Wilmi Wheeler
Jong skrywer: Die Versamelde Dagboeke van Ene Professor Weideman deur Shawn Day

Omdat die kompetisie so straf was, het RSG besluit om vanjaar twee merietepryswenners aan te wys:
Merieteprys 1: Twee Grafgrawers en ‘n Melkhout deur Jaco Versfeld
Merieteprys 2: Die Vrywording van Egbertus Lodewikus Appel deur Manie Groenewald

Marion Erskine is ‘n Afrikaanse skrywer, gebore in Randfontein en grootgeword in Westonaria, Suid-Afrika. Hy bly al 22 jaar oorsee en het homself gevestig in Frankryk. Erskine het verskeie boeke gepubliseer, insluitend Vlerke vir Almal (2017) wat ‘n ATKV Woordveertjie-toekenning gewen het. Hy het al ook ‘n paar radiodramas vir RSG geskryf en sy Akwarius het in 2018 vir hom ‘n ATKV Mediaveertjie verwerf.

Hendie Grobbelaar

Hendie Grobbelaar het ‘n liefde vir kortverhale, waarvan verskeie in Vrouekeur en ander versamelings gepubliseer is. Sy het al verskeie prestasies behaal, insluitend finalis plekke in die RSG-Radiodramakompetisie. Grobbelaar het haar debuutdrama Johanna se Elvis in 2019 by hierdie kompetisie ingeskryf, en was ‘n finalis in 2020 met Sterrereën. Sy het ook in 2022 ‘n finalis-toekenning behaal met Nols D’Amus.

Wilmi Wheeler

Wilmi Wheeler het haar inspirasie vir Lyne Wat Kruis gekry uit haar eie werkservarings en situasies wat sy in haar lewe ervaar het. In 2019 het sy die RSG Slypskool bygewoon, wat haar gehelp het om haar skryfwerk te verfyn.

Shawn Day

Shawn Day het met Die Versamelde Dagboeke van Ene Professor Weideman die 2024 Jong Skrywer toekenning gewen. Shawn is 21-jaar oud en het ‘n B.A. Drama-graad behaal aan die Universiteit van Stellenbosch.

Jaco Versfeld

Jaco Versfeld is tans ’n nuusskrywer en omroeper en het ervaring in radio en skryfwerk. Hy het toesprake vir die Gautengse Provinsiale Wetgewer geskryf, twee romanzas gepubliseer, en was ’n finalis in die RSG-ATKV Radiodramakompetisie van 2023.

Manie Groenewald

Manie Groenewald het sy loopbaan begin as onderwyser en later as argitek gewerk, waarna hy in 2003 as adjunk-direkteur by die Departement van Openbare Werke afgetree het. Hy is ook ‘n produktiewe skrywer met kortverhale, toneelstukke, en radiodramas, waaronder vier reeds op RSG uitgesaai is.

Die ATKV, die hoofborg van die kompetisie, het ondere andere die die slypskoolgeleenthede moontlik gemaak. Die slypskole het bygedra tot die kwaliteit van skryfwerk in vanjaar se kompetisie.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, het gesê: “Vir baie mense wat nooit in hul lewe die geleentheid sal kry om self in ’n teater na ’n vertoning te gaan kyk nie, skep RSG die geleentheid om teater in hul binnekamer te beleef. Die ATKV ondersteun met trots die RSG-Radiodramaskryfkompetisie, aangesien hierdie medium die kunste werklik toeganklik maak. Die ATKV is veral opgewonde oor die Jong Skrywer van die Jaar-toekenning, wat opkomende talent bemagtig en ’n platform vir hul werk bied. Só word die Afrikaanse taalskat ryker en kry skrywers die geleentheid om hul stempel af te druk op die taal- en kultuurlandskap.”

Brits wens die wenners van vanjaar se kompetisie hartlik geluk en spreek die hoop uit dat hierdie besonderse geleentheid hulle sal aanspoor tot nóg hoër kreatiewe hoogtes.

RSG sien uit daarna om die 29ste Radiodramaskryfkompetisie in 2025 aan te bied. Besonderhede en datums sal binnekort aangekondig word, so bly ingeskakel, luister saam, en volg ons aanlyn by rsg.co.za, asook op Facebook en Instagram.

Weereens, baie geluk aan al ons wenners, en ‘n opregte dankie aan elkeen wat inskrywings ingedien het.

Vir meer inligting, kontak asseblief:
Estel de Beer
estel@rsg.co.za

 

EERSTE PLEK:
Konneksie deur Marion Erskine
Storie opsomming:
Konneksie speel af in 2050 en delf in die ingewikkelde verhouding tussen Dawid le Roux, ’n uitgeputte rekenaarprogrammeerder, en Amanda, die liefde van sy lewe. Dawid se bestaan lyk alledaags – oorheers deur werkspanning, nuuskierige bure en sy eie onsekerhede – totdat vreemde en gevaarlike insidente aan die lig bring dat iemand wat hy vertrou, moontlik etiese en morele grense oorskry het. Namate geheimsinnige ongelukke ontvou, word Dawid gedwing om sy vertroue, sy morele kompas en die toenemende invloed van intelligente tegnologie te bevraagteken. Die verhaal verweef spanning met diepgaande vrae oor menslikheid, in ’n wêreld waar tegnologie gelyktydig as ’n hulpmiddel en ’n bedreiging kan dien.

TWEEDE PLEK:
Leniesgif deur Hendie Grobbelaar
Storie opsomming:
Benjamin de Kai, ‘n gefrustreerde skrywer van warm liefdesverhale word deur sy uitgewer na Leniesgif aan die Kaapse suidkus gestuur om oor sy skrywersblok te kom en aan sy ernstige roman te werk. Hy kom gou agter sy drie vreemde huismaats en hulle hond nie is wie hulle voorgee om te wees nie. Lenie, haar stiefdogter Hanna en die vrypostige Franse matroos, Thomas, worstel met groot geheime en verhoudingsknelpunte. Dan is daar ook nog ‘n weggesteekte skat, ‘n moord of twee, ‘n pratende hond en ‘n uitgewersassistent met sluwe bymotiewe.

DERDE PLEK:
Lyne Wat Kruis deur Wilmi Wheeler
Opsomming van storie:
Janine, 19 en nuut in die volwasse wêreld, werk by ’n oproepsentrum vir SecureLife Insurance – haar eerste regte werk na matriek. Maar ná twee maande het sy steeds nie ’n enkele polis verkoop nie en voel sy heeltemal uit haar diepte. Lindsay, ’n meer ervare kollega, besluit om haar ’n hupstoot te gee met ’n lys van kliënte wat aanlyn oor lewensversekering navraag gedoen het. Heel bo aan die lys is Maggie Grove. Een oproep verander alles: Janine raak oor die foon bevriend met Maggie; sy is ’n ouer vrou vasgevang in ’n toksiese huwelik. So, wat begin as ’n poging om ’n polis te verkoop, word ’n reis van ‘n onverwagse vriendskap.

JONG SKRYWER:
Die Versamelde Dagboeke van Ene Professor Weideman deur Shawn Day

Opsomming van die storie

Malan Basson, ‘n skrywer by ‘n wetenskaptydskrif, besluit om die verdwyning van ‘n professor in kriptosoölogie te bestudeer nadat die professor se versamelde dagboeke gepubliseer is. Wat die ontwikkelings van die ondersoek belemmer is dat die professor twee jaar gelede reeds verdwyn het, en almal het vrede gemaak met die feit dat hy nie gevind sal word nie. Maar Malan is vasbeslote om leidrade te vind, en vat die pad Karoo toe om die gapings in die storie te vul en eens en vir altyd uit te vind wat met professor Weideman gebeur het.

MERIETEPRYS 1:
Twee Grafgrawers en ‘n Melkhout deur Jaco
Opsomming van storie
Twee grafgrawers ontmoet mekaar by ’n melkhoutboom op ’n afgesonderde begraafplaas in ’n klein dorpie in die Karoo. Terwyl hulle gate grou, ontsluit hulle hul eie lewensverhale en kompleksiteite, asook die gemeenskap se geheime. Die boom en die plek self word die simboliese spilpunt van verlossing, versoening, en ‘n soort transformasie wat die karakters nie kon voorsien nie.

MERIETEPRYS 2:
Die Vrywording Van Egbertus Lodewikus Appel deur Manie Groenewald
Opsomming van storie:
Stella Appel is ’n inwoner van Huis Silwerland.  Op haar 64ste verjaardag ontvang sy ’n besoek wat haar haar vredige verblyf in die tehuis in duie laat stort.  Daarteenoor is daar Bertie, wat sy lewe lank onder die prestasies van sy pa gebuk moes gaan, totdat ’n geraamte in sy vyf-en-dertigste jaar uit die kas val.