RSG se klein 4
Die RSG-span het die afgelope paar jaar vier babas ryker geword. Die jongste toevoeging is Johann Pieterse en Veronique se klein Pascal. Ons stel julle aan Pascal bekend en het sommer gaan inloer hoe dit met die ander ‘babas’, wat intussen peuters, kleuters en bekkige kinders geword het, gaan.
RSG se klein 4 is, van jonk tot oud:
- Pascal Pieterse (amper 4 maande oud)
- Maddy Isaacs (14 maande)
- Luella Vlok (21 maande)
- Maya Milagro Francis (amper 5 jaar oud).
Hulle ouers vertel meer oor dié kleingoed.
Johann Pieterse, RSG se stasieregisseur, en Alhoebekker-regisseur Veronique skryf oor Pascal (amper 4 maande oud) – hul gelukkige baba
Dié RSG-paartjie het op 4 Junie om 3 uur die oggend hulle babaseuntjie, Pascal Hans Günther Pieterse, verwelkom.
“Die aanpassing is groot,” sê Veronique. “Om skieklik verantwoordelik te wees vir die welstand van ‘n lewende wese wat nie ‘n kat is nie, is beslis nie vir sissies nie. ‘n Mens se hele lewe verander. Jy kan nie meer net ‘n eenvoudige uitnodiging iewers heen aanvaar nie, omdat jy nou alles om die baba moet reël – gaan hy dalk slaap daardie tyd, gaan dit in die aand wees…alles is nou anders, maar dit is alles die moeite werd.”
Beide Veronique en Johann geniet Pascal se mylpale vreeslik – Hy verander weekliks en daar is altyd iets nuuts wat kop uitsteek.
Hy glimlag deesdae vir alles en begin ‘n persoonlikheid ontwikkel… hy laat weet jou dadelik indien hy nie van iets hou nie en raak baie gefrustreerd omdat hy nog nie iets soos sy bottel, ordentlik kan vashou nie.
Pascal bly in die dag by Martha, wat baie mooi na hom omsien, en hy word daagliks omring deur sy niggie Nina, nefie Nikolas Germishuysen en tannie Nanette.
Pascal is ‘n baie gelukkige baba en groei vreeslik vinnig – hy het sedert sy geboorte al verdubbel in gewig.
Haidee Muller skryf oor haar Maddy (14 maande) – die vreugdekind
Ons Maddy word amper TE vinnig groot. Ek verstaan nou eers wat mense bedoel het met dié woorde: Geniet hulle terwyl jy kan, die tyd vlieg.
Inderdaad.
Sy het op 1 Augustus een jaar oud geword en het al 8 tande waarvan 4 sommer gelyk bo uitgekom het. Dit was bitter. Foeitog. Ons het in daardie tyd maar min geslaap, maar ek verruil die slapelose nagte vir niks ter wêreld nie.
Ek geniet elke liewe oomblik van haar groeiproses. Dis vir my so mooi om te sien hoe sy klein dingetjies begin doen. Wanneer sy NIE lus is vir haar medisyne nie, maak sy so ‘n tuitmondjie, pers dan haar lippe saam en weier om oop te maak.
Ek leer haar om TA (dankie) te sê en dit klink nogal oulik wanneer sy dit probeer sê. Sy het eers ná haar eerste verjaarsdae gewaag om alleen te stap. Sy slaan nog gereeld neer, maar staan dan weer soos blits op en stap onverpoos verder. En klap handjies terwyl sy stap.
Maddy is nou in die ontdekkingsfase en jy moet net keer of sy druk sommer haar vinger in jou oog of neus. Sy is regtig ‘n baie vrolike en gelukkige kind wat breed vir almal glimlag, al ontmoet sy jou vir die eerste keer.
En die oulikste? Wanneer ek haar by die dagsorg optel, klap sy handjies en doen so ‘n ou vrolike dansie van opgewondenheid.
Sy is regte ‘n groot seën en bring vir ons soveel vreugde. Ons is dankbaar.
Ignatius Vlok, regisseur van driesestig, skryf oor sy Luella (21 maande) – die langlyf slimkoppie
Een en twintig maande gaan so gou verby, behalwe vir die slapelose nagte en tandekry. Die gee aan tyd ‘n heel ander trapsuutjies gang.
Deesdae is pa’s mos meer betrokke in die wêreld van doeke en dinge, so nou stop werk byna wanneer ek die werk verlaat en by ons kinderoppaster oorneem. Jy besef hoeveel is ‘n betroubare kinderoppaster werd, die dag dat sy skielik nie by die werk kan wees nie. Met dié dat ek en Celeste beide werk, is jou dogtertjie-tyd eintlik so beperk. Daardie opgewonde blink ogies en kuiltjies wanneer jy by die huis kom , skuif werklik die dag se uitdagings eenkant. Dan word daar parkie toe gestap vir gly, swaai en rondomtalie terwyl die ouers moet sing. Gepraat van sing. Deesdae is alles van ‘n trap tot ‘n boomstomp ‘n verhoog vanwaar sy kinderliedjies sing en dans.
Een van ons gunsteling saam doen aktiwiteite is tuin maak. Van bolletjies plant, natmaak met haar gietertjie, kyk hoe hul opkom en elkeen se naam ken, tot onkruid uittrek. En die “onkruidjies” uittrek verkies sy soms bo parkie toe gaan.
Dan is daar haar swemklassies. Sy swem in ‘n “haaipak” en is ‘n haai en daar word na die swemklasse as “haaie toe gaan” verwys. Die besoek aan die akwarium was absolute ekstase om haaie van naby te sien. Haar ma was egter vir ‘n oomblik ongemaklik toe ‘n foto van ‘n haai in ‘n boek ‘n drukkie kry.
Vir my was hier vanaf 19 maande ‘n baie spesiale tyd toe sy so twee- en drie-woord sinne begin praat het. Dit was eintlik opdragte. ‘Staan op’. ‘Stap daar’. Nou trek ons by vier- en vyf-woord sinne en die dubbelnegatief word ingespan. Dit is verbasend om die tempo te sien waarteen taal aangeleer word en dit laat jou dink oor Afrikaans. Skielik is jy weer bewus van soveel woorde wat meer as een betekenis het. Met kleinding wat ‘n woord net een keer hoef te hoor, moet jy maar jou woorde tel. Gelukkig is haar ma se “Patat!” die naaste aan ‘n kragwoord in haar woordeskat.
Lynette Francis, van Praat Saam faam, skryf oor haar Maya Milagro (amper 5 jaar oud) – haar wonderwerk-kind
As nuuskierigheid en bekkig ‘n persoon was, was haar naam Maya Milagro.
In ‘n huishouding van boeke en woorde moet alles ‘n verklaring het. Maar dit raak uitputtend, selfs vir my. Ek word herhaaldelik met vrae gepeper en as dit te eenvoudig klink om waar te wees word ek vertel dit maak nie sin nie, ons moet meer navorsing doen.
Nou die ander dag wil sy sushi probeer. Ek is skepties want sy het deesdae ‘n ding oor alles wat gluten-vry moet wees want ons moet ons resepte vir my ma aanpas. Sushi proe nie te sleg nie, was haar slotsom.
Sy het die laaste jaar ‘n bankkaart en koop links en regs toepassings vir die Leappad. As ek sê daar is nie begroot vir ‘n speletjie nie verwys sy my na haar bankrekening en dat ek die speletjie so moet aanskaf. “Maar moenie my bankkaart sonder my toestemming gebruik nie”
In Desember is my wonderwerk vyf jaar oud en dan gebruik sy vir die eerste keer haar paspoort. Wanneer ons deur die lughawe sekuriteit gaan, vra sy my om die sekuriteit vooraf te waarsku dat sy armbande dra en dat die alarmpie sal afgaan. Sy laaik nie hulle moet haar en haar Snuggles verdag bekyk nie.
Ons skryf en spel nou ook. In Augustusmaand het ons elke naweek ‘n tand verloor en moes ons elke naweek briewe vir die tandmuis skryf. En sy moet dit met haar naam onderteken.
Sak sy af. “Ek verstaan nie. Verlede week het sy my ‘n Mandela-noot gegee en nou is ons terug by munte”. Toe verduidelik ek dit is ‘n resessie, die tandmuis sukkel!