RSG sit die sprankel in Saterdae
RSG luisteraars kan vanaf April uitsien na ’n splinternuwe oggendprogram op Saterdae, aangebied deur Sue Pyler Slabbert.
Sue was voorheen mede-aanbieder van Op en Wakker op RSG en is steeds die samesteller en aanbieder van Kapityt, elke Saterdagaand net na die 21:00-nuus. Sy is in 2017 deur die Afrikaanse Taalraad met ‘n Kokertoekenning vereer. Daarby is sy ‘n veelsydige aktrise wat selfs in gewilde RSG radiovervolgverhale soos Die spoke van Duinebult gehoor is.

Carla Mackenzie skuif om 16:00 agter die mikrofoon in vir Top Treffers wanneer sy reg om die wêreld reis om die jongste treffers en nuwe uitreikings met luisteraars te deel.
Vrydae en Donderdae
Reggie Philander gaan voortaan Vrydagaande langer saam met luisteraars kuier. Skud dit word verleng tot en met middernag en sal dus vanaf 21:20 tot en met 00:00 op lug wees.
Nog ‘n nuwe stem
Die akteur Eddie de Jager, bekend om sy rolle in rolprente soos Ballade vir ‘n enkeling enTreurgrond, sal voortaan as kontinuïteitsomroeper op RSG gehoor word. De Jager, wat ook by RSG Drama betrokke is, sal elke tweede Sondagoggend vanaf 06:00 luisteraars geselskap hou.
“RSG se luisteraars is lojaal en uitgesproke en laat daagliks van hulle hoor,” het Kobus Burger, RSG se programbestuurder, gesê. “Die lekkerste lekker is om al die voorstelle te konsolideer en vir luisteraars meer te gee van dit waarna hulle smag en ook die inhoud en omroeperspoel te vergroot.”