RSG tel die dae af na Afrikaans 100 met “Sending van ver”
RSG se splinternuwe middagvervolgverhaal, Sending van ver, is spesiaal ontwikkel en geskryf deur Eben Cruywagen ter viering van Afrikaans 100.
Luisteraars kan vanaf 7 April 2025 elke weeksdag inskakel (behalwe op 18 April, Goeie Vrydag) vir 23 episodes. Die finale episode word op 8 Mei 2025 uitgesaai, op die dag waarop Afrikaans as amptelike taal se eeufees gevier word.
RSG se radiodrama-afdeling het reeds sedert Mei 2024 inhoud geskep wat opbou tot die Afrikaans 100-vieringe. As deel hiervan is Eben Cruywagen opdrag gegee om ‘n reeks ou verhale te verwerk en nuwe stories te skep wat Afrikaans se ryk geskiedenis en veelsydigheid uitbeeld. Verskeie van hierdie verwerkings is reeds beskikbaar as potgooi:
- Die Sprinkaanbeampte van Sluis – Luister hier
- Ou Leeumelker – Luister hier
- Gelykheid en Broederskap – Luister hier
‘n Huldeblyk aan Afrikaans se verbeeldingskrag
Eben Cruywagen vertel: “Ek wou met hierdie vervolgverhaal eerstens die kreatiwiteit, veelsydigheid en aanpasbaarheid van die taal uitbeeld, asook die vermoë om neologismes te skep (al is dit op kwasiwetenskaplike terrein, soos in die verre toekoms in ’n sterrestelsel ver, ver van hier, om George Lucas van Star Wars-faam se bekende aanhef te gebruik). Tale wat letterlik honderde jare ouer is as Afrikaans, soos die Wes-Germaanse Duits en Nederlands, is traag om neologismes te skep. Indien ons egter in Afrikaans nie met ’n gepaste nuutskepping vorendag kan kom nie, plooi ons daardie vreemde woord om sodanig verafrikaans te word, dat dit inderdaad klink soos ’n oorspronklike Afrikaanse woord! Ek hoop dus dat die luisteraar hierdie verhaal sal beleef as ’n prettige spel met die wonder van die Afrikaanse taal. (En mag hierdie kosbare taal van ons iewers in die verre toekoms tóg Intergalaktiese status beleef …!).”
Die vertrekpunt vir Eben begin by “C.J. Langenhoven se Loeloeraai, wat in 1923 deur Nasionale Pers Beperk uitgegee is, en word allerweë as die heel eerste wetenskapfiksieverhaal in Afrikaans beskou. As een van die groot rolspelers om Afrikaans as amptelike taal verklaar te kry, is hierdie verhaal dan ook ’n huldeblyk aan C.J. Langenhoven vir sy belangrike bydrae as Afrikaanse taalstryder. Alhoewel Sending van Ver as sodanig nie as ’n verwerking van Langenhoven se verhaal beskou kan word nie, word daar tóg in sekere aspekte in hierdie kort vervolgverhaal gedeeltelik en baie vry geploeg met Langenhoven se kalwers. Daar word immers in 1923 op Oudtshoorn ’n draai gemaak waar Loeloeraai sy aardse besoek aan Neelsie, Vroutjie, Engela en Oom Stoffel bring, kompleet met Jakhals, die skaaphond en Herrie, die olifant.”
‘n Ruimtereis deur tyd en taal
Die regisseur, Johan Rademan, gee lewe aan hierdie uitdagende vervolgverhaal: “Soos Loeloeraai in 1923, is Sending van ver ‘n toonaangewende letterkundige skat. Die genre van dialoog as opvoedkundige hefboom word kundig aangewend deur Cruywagen, nie net om aan te sluit by die huidige debat oor taal en 100 jaar tyding nie, maar ook om te dissekteer en vrylik te projekteer met uitdagende aannames en gevolgtrekkings.
ʼn Kragtoer en ‘n “Starwars”- skouspel word geskep met ʼn eie tyd-ruimtelike plekspesifieke taalsisteem wat geografies oor tyd en ruimte afspeel. Hoe anders word geskiedenis en geografie dan beter uitgebeeld vir die moderne oor? Die lakmoestoets lê in ʼn werkbare, uitvoerbare kort vervolgverhaalstorie met radiospelers wat dit uitmuntend uitvoer – Johan Rademan.”
Die storie
In die verhaal reis Loeloeraai (DeKlerk Oelofse) uit ‘n sterrestelsel ver, ver hiervandaan na ons heelal. Onder die dekmantel van kulturele samewerking, soek die besoekers eintlik belangrike grondstowwe om hul eie planeet se oorlewing te verseker. Loeloeraai, onbewus van hierdie agenda, fokus op Sagmoedige Neelsie (André Terblanche) se strewe om Afrikaans as amptelike taal erken te kry. Dit neem hom na 1997, waar hy ‘n jong student, Didius Deelman (Enrico Hartzenberg), ontmoet – ‘n entoesiastiese ruimtevaartliefhebber aan die Universiteit Stellenbosch.
Maar Loeloeraai se besoek het ‘n ander doel: hy soek ‘n geheime agent uit die toekoms wat, vermom as ‘n genetikus (Wilhelm van der Walt), probeer om die geen wat spraak moontlik maak te elimineer. Sonder kommunikasie is daar geen ontwikkeling nie – ‘n bose plan om die mensdom se vermoë om te kommunikeer, en dus hul grondstowwe, te beskerm. Didius word betrek by die stryd en per ongeluk reis hulle 3 000 jaar die toekoms in. Daar ontdek hulle ‘n verwoeste Taalmonument, ‘n wêreld waar mense haweloos, stom en verarm is – die genetikus het in sy plan geslaag!
Met ‘n desperate terugkeer na 1997, slaag Loeloeraai en sy metgeselle daarin om die genetikus te keer en die toekoms te herstel. Op 8 Mei 5025 keer hulle terug na die Taalmonument, maar hierdie keer word hulle begroet deur die enorme Intergalaktiese Taalinstituut. Afrikaans het uiteindelik ‘n intergalaktiese taal geword!
Ster-rolverdeling
Die produksie spog met ‘n indrukwekkende rolverdeling, waaronder:
- DeKlerk Oelofse as Loeloeraai
- Anrich Herbst as Kommandeur Watwo
- Maria Vos as Cleoz
- André Terblanche as Kerneels / Neelsie
- Ilne Fourie as Vroutjie / Lenie
- Jane de Wet as Engela
- Johann Nel as Oom Stoffel
- Enrico Hartzenberg as Didius Deelman
- Sharfa du Plessis as Bonita February
- Pieter van Zyl as Keiser Maksor
- Jacques Bessenger as Kaptein Malfor
- Wilhelm van der Walt as Professor Provo van Thijn / Rascha Dumwar
Luister na Sending van ver
Die eerste episode van Sending van ver word 7 April 2025 om 14:45 uitgesaai en vervolg weeksdae tot 8 Mei 2025 op RSG en rsg.co.za. Die episodes is ook beskikbaar as potgooi.
Moenie hierdie unieke reis deur tyd en taal misloop nie! Luister RSG vir ‘n storie wat jou verbeelding sal laat reis… dalk tot in die intergalaktiese toekoms!