Sondag 14 Jan: Doep is nie dood nie


Luister op Sondag 14 Januarie 2024 om 13:00 na Doep is nie dood nie, die huldeblyk aan Koos du Plessis,

Koos du Plessis

Koos Doep is een van Afrikaans se gewildste liedjieskrywers, wie se immergroen woorde nou nog eggo, sowat vier dekades na sy dood.

Op Sondag 14 Januarie 2024 om 13:00 vier RSG sy lewe en werk, 40 jaar sedert sy tragiese afsterwe. Die produksie “Doep is nie dood nie” word voor ’n gehoor opgevoer en regstreeks op  RSG uitgesaai.

Die kunstenaars in hierdie huldigingsproduksie vir Koos du Plessis is Jannie du Toit (stem en kitaar), Susan Mouton op tjello asook Chanie Jonker is op klavier en akkordeon.

Meer oor Koos du Plessis

Jannie du Toit skryf:
Koos du Plessis is in Rustenburg gebore as die jongste van vier kinders, en het in die myndorp Springs grootgeword. Ná skool het hy aan die Universiteite van Pretoria en die Witwatersrand gestudeer, met Afrikaans-Nederlands as hoofvak.

Op UP  het hy sy toekomstige vrou, Mornay, ontmoet. Die egpaar het drie dogters gehad: Irma, Karien en Karla. Karla het ‘n bekende sangeres geword wat onder andere van Koos se liedjies sing.

Hy het vanaf die laat sewentigerjare bekendheid verwerf as Afrikaanse sanger en liedjieskrywer.

Aanvanklik was dit as gevolg van die sukses van ‘n weergawe van sy liedjie “Kinders van die Wind” wat deur Laurika Rauch as temalied vir die televisiereeks “Phoenix en Kie” (1979) opgeneem is.

Hy was egter ook  joernalis en filosoof en is dikwels deur die literêre wêreld van sy tyd as ‘n ware digter aangemerk.

Hy het ‘n gesofistikeerde gehoor aangespreek en is na die vrystelling van sy eerste langspeelplaat – “Skadu’s teen die muur” – dikwels vergelyk met Dylan en Cohen: hy het gou in sy eie reg ‘n kultus-gevolg opgebou. In die Musiek en Liriek-beweging van daardie tyd was sy werk ‘n artistieke hoogtepunt en het dit by uitstek by die elite van die kulturele en artistieke wêreld aansien aan die “Beweging” verleen.

Binne die kort bestek van minder as vyf jaar vandat hy bekend geword het tot sy afsterwe in Januarie 1984 is hy meermale deur kultuurinstansies – waaronder die ATKV – vereer vir sy bydrae tot Afrikaans. In die volksmond het hy bekend geraak as “Koos Doep” en sy musiek-oeuvre, wat uit drie van sy eie vrygestelde albums en verskillende postume vrystellings bestaan, word as sinoniem beskou met die beste van die Afrikaanse kleinkuns.

In ‘n postume biografie wat deur sy gesin uitgegee is, getitel ERFDEEL, is daar ook ‘n hele aantal tekste/gedigte gebundel waarvan talle mettertyd deur verskillende kunstenaars getoonset is.

Min van ons vooraanstaande Afrikaanse kleinkunstenaars – maar ook populêre kunstenaars, kabaretsangers en rockgroepe – het nie een of ander tyd ‘n lied van Koos Doep opgeneem of op die verhoog gesing nie. Jong kunstenaars steun dikwels sterk op sy repertorium om ‘n loopbaan van stapel te help stuur en gevestigde kunstenaars het ook al meermale volledige albums met hulle weergawes van sy musiek vrygestel.

Hy het twee belangrike bydraes tot Afrikaanse geestelike musiek gemaak met sy liedere Gebed en Somerkersfees wat gereeld in eredienste gesing word. Verder bestaan daar ‘n wye verskeidenheid koorverwerkings van sy liedjies wat al dekades lank landswyd deur talle kore gesing word.

Koos het as joernalis en redakteur vir verskeie Afrikaanse publikasies (Oggendblad, Die Vaderland, Die Nataller en Die Transvaler) gewerk. Hy is in die vroeë oggendure van 15 Januarie 1984 in ‘n motorongeluk naby Wierdapark, Centurion – waar hy gewoon het – oorlede.