Twee van RSG se top-joernaliste groet


Twee van RSG nuus en aktualiteit se gesoute regisseurs en omroepers, Metzi van der Merwe en Anita Visser, groet die SAUK vandeesmaand na meer as ‘n kwarteeu. Van der Merwe en Visser, aanbieder van NaweekAktueel, tree albei af.

Screenshot

Maria Petronella, of beter bekend aan luisteraars as Metzi, het na matriek aan Bloemhof Hoër Meisieskool in Stellenbosch in 1979 by die Mediese Korps in die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit. Hier het sy saam met die veeartse by die hondeskole in Voortrekkerhoogte, Pretoria en die Wingfield-weermagbasis in Goodwood in Kaapstad gewerk.

Sy het joernalistiek aan die destydse Technikon Pretoria studeer en haar diploma in joernalistiek aan die einde van 1983 verwerf.

Haar loopbaan by die SAUK het op 7 Mei 1987 by Teledata begin waarna sy ook by Channel Africa werksaam was. Vir Metzi was die hoogtepunte van haar loopbaan die afgelope 27 jaar toe sy deur die ATKV erken is vir haar storie oor arm Engelse witmense in Bramley.

Dit was nadat ‘n kollega, Mariska Petzer, haar daarvoor ingeskryf het. Metzi verwys ook na die geleentheid wat sy gekry het om 24 stories oor geestessiektes by die Carter-sentrum in Atlanta in die VSA te doen wat in ander Suid-Afrikaanse swart tale vertaal is. “Ek het my werksloopbaan geniet,” was haar kort en kragtige reaksie toe sy daaroor uitgevra is.

Anita Visser

Anita Visser, boorling van Belfast in Mpumalanga, het in 1986 by SAUK radionuus aangesluit en het op die bulletinlessenaar gewerk, asook in die Engels en Afrikaanse nuuskantore.

Sy het RSG se ontbytprogram, Monitor vir byna 13 jaar aangebied en het ook destyds Kommentaar by Niekie van den Berg oorgeneem.

Sy het sedert 2019 en tot haar aftrede, Naweekaktueel op Saterdae aangebied. Anita sê sy is in haar SAUK loopbaan geseënd met joernalistieke reise na Suid-Amerika en die Midde-Ooste, vanwaar sy tydens 2003 oor die oorlog in Irak verslag gedoen het.

Sy het ook vir werk na Portugal, Switserland, Frankryk, Pakistan, Estland, Rusland, insluitend die Krim Skiereiland, Turkye, Libanon, Reunion en Mosambiek gereis.

Hoogtepunte van haar loopbaan behels drie ATKV mediaveertjies en in 2018 die Liberty radioprys vir beste dokumentêr van die jaar oor “Vroue in die Tronk”.

Oor die jare het Anita ook verskeie bekendes ontmoet, onder wie die oud-Amerikaanse president, Bill Clinton en koningin Elizabeth die Tweede, wat sy in Windhoek ontmoet het. Harry Oppenheimer het byvoorbeeld vir haar ‘n onderhoud met Moeder Teresa gereël.  “Ek groet met die wete dat ek my ten volle in my werk kon uitleef,” sê Anita.

RSG nuus en aktualiteit se uitvoerende regisseur, Nicolene De Wee, beskryf Anita en Metzi as die twee “steunpilare” van die span wat hulle ondervinding en kennis met veral die jonger spanlede gedeel het. “Dit voel vir ons almal asof twee dele van die legkaart binnekort weggevat word.

Hulle aftrede laat ‘n leemte wat ons baie moeilik gaan vul,” sê De Wee. Sy wens hulle sterkte toe met hulle aftrede en gun hulle die geleentheid om te reis, maar ook lekker te rus.

Louise Jooste, RSG se sakebestuurder, het gesê dat die stasie se nuus- en aktualiteitsprogramme van die gewildste, daaglikse aanbiedings is. “Beide Anita en Metzi het sleutelrolle gespeel in die lewering van RSG se gehalte-joernalistiek. Hulle het diep spore in die Afrikaanse medialandskap getrap en sal ‘n groot leemte laat.”